Onsekerheid oor stemmery

Jacques Derrida
Jacques Derrida

Deur Johann Theron.

Dit is duidelik uit algemene kommentaar dat heelwat mense onseker is oor wie om voor te stem. Aangesien ons almal nou in die tradisionele tyd is van blootstelling aan die mooi gesiggies van elke politieke party is dit nog moeiliker om ’n besluit te neem. Daarom wend mense hulle in hierdie tye na beginsels soos bv. geloof, of ’n groenaarde of selfs gelyke regte ens, want as ’n politieke party beginsels navolg is die verwagting dat die slegte en mooi kante van politiek min of meer dieselfde sal wees.

Maar dit is nie meer die geval nie en die hipotese is dat dit die eintlike rede is hoekom mense nie weet vir wie om te stem nie. ‘n Voorbeeld is die oorloop van verteenwoordigers tussen partye vir watter rede ook al – as beginselsaak maak dit net nie sin nie omdat alle partye (in beginsel) nie dieselfde beginsels nastreef nie.

Politieke partye is ook nie meer soos dit altyd was nie, hulle vorm deesdae korporatiewe strukture en jaag besigheidsbeginsels na soos die ANC wat sy eie belegginshuis het. Dit beteken dat ’n kieser uit beginsel vir iemand stem omdat die verteenwoordiger in beginsel sy eie maatskappy wil verryk en dat die politieke beginsels slegs bemarking soos gerig op ’n teiken populasie is. Dan ook die “rykste” populasie soos besighede waar die ANC hulle nou kontak vir “beskerming” of die DA, Agang en EFF vir “fondse” wat later terugbetaal moet word deur middel van staatskontrakte.

Die kwessie van beginsels is belangrik maar dit begin te lyk of dit teen die kieser gehou word. Met ander woorde, mens kan nou waarnemings doen waar dieselfde woorde verskillend geïnterpreteer word deur die kieser en sy verteenwoordiger. Dis hoekom spesialiste deesdae in bemarking benodig word. Neem bv. die Hyundai x35: Die motorverkoopsman verkoop ’n “model nommer” x35 terwyl die koper dink dat x35 beteken ’n 3.5liter motor.

Die ANC is baie goed met hierdie dubbelinterpretasies omdat hulle spesifiek daarna soek om kiesers te mislei. Kyk bv. grondeise wat aan die begin direk so genoem is nadat grondonteiening nie deur die buiteland as wenslik gesien was nie. Vandag noem die ANC dit “custodianship” wat ’n pragtig naam is wat jou laat wonder of hulle nie sommer maar na ons almal se grond kan “kyk” nie.

Die neiging om woorde te verdraai is waarskynlik ’n ou praktyk, maar dit het blykbaar vandag beginsel vervang as die politieke meetkriteria. Met ander woorde as jy vir ’n politieke party wil stem dan moet jy na hulle verdraaiings luister en die party met die minste verdraaiings kry dan jou stem onvoorwaardelik.

Die ANC is nie baie vas op beginsels nie en hulle is heel openlik daaromtrent. Gedurende die Kodesa onderhandelinge was die opdrag blykbaar dat hulle “proses” moet benadruk – nie “beginsel” nie omdat hulle verwag het dat Roelf Meyer beginsels sou gebruik het.

Verdere bevestiging van die krag van woordverdraaiings deur die filosoof Jacques Derrida wat soos volg aangehaal kan word;

“Derrida het aangetoon hoe alle veronderstellings oor menslike lewe en gedrag begrond is in die gebruik van taal.”

Wat Derrida basies bewys het, is dat dieselfde woorde verskillende betekenisse kan uitleef in menslike gedrag. Neem byvoorbeeld die VF+ en selfs die Kerk wat die Afrikaner ondersteun in ’n multi-kulturele konteks. Hulle verteenwoordig die Afrikaner in woord en daad en daarvoor is ons baie dankbaar, maar die konteks is verkeerd. Dis soos om ’n Hyundai x35 te koop en dit dink die “35” verteenwoordig inhoud.

Die “35” verteenwoordig net mooi niks soos inhoud nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.