Hyundai se beste!

Die Hyundai Santa Fe
Die Hyundai Santa Fe

deur André Olivier

Hyundai is ‘n Suid-Koreaanse vervaardiger van motors sedert die 1960s. Tans is dit deel van die Hyundai Kia Automotive Group; die maatskappy het oor die afgelope paar dekades bestendige groei getoon, met groot sukses in die Europese en Amerikaanse markte. Die verskillende modelle wat deur die maatskappy  in sy fabriek in Ulsan in die VSA gebou word, lewer 1,6 miljoen eenhede per jaar.

Gestig deur Tsjoeng Joe Joeng, wat in ‘n arm boeregesin gebore is, was die Hyundai Motor Company die eerste Koreaanse motorprodusent. Joeng het na die Koreaanse oorlog die leemte vir motors in die mark blitsvinnig gevul, Hy het in 1947 ‘n baie winsgewende konstruksiebesigheid begin en ‘n jaar later is die Hyundai Motor Company gestig. Joeng het ‘n aandele-ooreenkoms met Ford in 1968 gesluit. Kort na Hyundai se toegang tot Ford se hulpbronne, is die eerste Hyundai-motor ontwikkel: die Cortina. Hierdie model is vinnig gevolg deur die vrystelling van die Pony, Hyundai se eerste geheel Koreaanse ontwerp en geboude model.  Sy bloudruk was egter nie geheel en al Koreaans nie; die maatskappy het gebruik gemaak van Japannese tegnologie van Mitsubishi om die motor te ontwikkel.

Die Pony-model was die eerste Hyundai wat in 1975 oorsee verskeep is.

In 1986, met die vrystelling van die Excel, ‘n klein bekostigbare motortjie, was dit ‘n onmiddellike treffer. Die Excel was so gewild dat dit meer as 10 000 eenhede in die eerste sewe maande verkoop het. Dit was die laaste motor wat Hyundai geproduseer het voor die opstel van hul eie tegnologie in 1988. Die Sonata was hul eerste in-huismotor en die begin van ‘n nuwe tydvak. Ten spyte van groot stappe wat die maatskappy deur die jare geneem het om die beeld van Hyundai op te bou, het swak bougehalte en betroubaarheidsklagtes die Hyundai se reputasie baie skade aangedoen.

Hyundai het in die jare 90 so in die VSA gesukkel om motors te verkoop dat almal in die bedryf gedink het dit was hul laaste asem. In plaas daarvan om die aftog te blaas, het die maatskappy ‘ n massiewe belegging in ‘n nuwe ontwerp- en tegnologiesentrum gemaak. Teen die tyd dat die nuwe millennium aangebreek het, het die maatskappy reeds weer na vore getree as ‘n gehaltemotorvaardiger. Verkope het weer begin vermeerder, aangesien die nuutgevonde kopersvertroue moontlik gemaak is deur die uitskakeling van alle bekommernisse oor die voertuig se betroubaarheid, en dit is bereik deur die bekendstelling van ‘n 10-jaarwaarborg. Vandag is Hyundai een van die wêreld se top-10-motorvervaardigers.

Hyundai doen tans in 193 lande sake en verkoop voertuie deur ongeveer 5 000 vertoonlokale en handelaars. Verkope het ook gehelp beeld bou en vandag tel Hyundai onder die 100 mees waardevolle handelsmerke ter wêreld. Die onlangse geskiedenis is sterk gekoppel aan beleggings in tegnologie en genoeg advertensieveldtogte. Inderdaad,  kommunikasie is een van Hyundai se inherente elemente. Vir die afgelope vyf jaar hoor en lees mens oral in die media dat die opmars van die Koreaanse motorvervaardigers baie groot en vinnig gebeur. Vervaardigers soos Kia en Hyundai verkeer op die voorpunt van die opmars om nie net die Japannese vervaardigers nie, maar ook die Europese vervaardigers aan te vat. Motors soos die Hyundai Elantra het reeds in 2012 die gesogte titel van Motor van die Jaar in Suid Afrika verower. Die Elantra, en in ‘n mindere mate die kleiner Accent en groter Sonata, gee die pas aan by die verkope van Hyundai’s, wat passasiersmotors betref. Die ander segment waar Hyundai baie goed vaar, is in die segment vir klein sportnutsvoertuie, met die iX35 wat hier die septer swaai. Maar daar is ‘n ander Hyundai-motor wat eintlik die hele Hyundai-familie saamsnoer en dit is ‘n voertuig wat van die beginjare van Hyundai in Suid-Afrika met ons is. Die Santa Fe, groter as die iX35, is dan ook die vlagskip van die Hyundai-reeks in Suid-Afrika. Mens kan sê die motor is die sportnuts-Sonata van die reeks.

Ons het die geleentheid gekry om die vlagskip in die Santa Fe-reeks, die 2.2 CRDi 4WD Elite,  vir ‘n paar dae onder hande te neem. Daar is drie modelle in die Santa Fe-reeks, nl. die 2.2 CRDi Premium wat voorwielaangedrewe is,  die 2.2 CRDi Executive 4WD en dan ons toetsmotor, die Elite met 4WD.

Voorkoms

Sou jy terugdink aan die eerste Santa Fe, was die motor tipiese Oosters, met baie lelike rondings en snaakse wielboë. Die tweede generasie was heelwat meer aanvaarbaar, maar tog nog steeds baie Oosters en het sommer in ‘n parkeerruimte weggeraak. Die huidige Santa Fe is egter baie Westers en is in 2013 aangewys as Auto Express se beste groot sportnutsvoertuig. Hulle het gesê: “‘n Meer familievriendelike sportnutsvoertuig sal jy nie kry nie, of meer stylvol nie.” Storm Edge is die naam wat  aan die ontwerp van die nuwe-generasie-Hyundai Santa Fe gegee is. Sagte vorms met dramatiese kante oorheers, en so is ‘n dinamiese en indrukwekkende styl geskep. Opvallende LED-dagryligte en ‘n vet seskantige sierrooster voltooi die Santa Fe se indrukwekkende teenwoordigheid op die pad. Die Santa Fe het werklik van die lelike eendjie in die indrukwekkende swaan verander, na my mening een van die heel mooiste sportnutsvoertuie in Suid-Afrika.

Die motor lyk van alle kante af indrukwekkend en elke paneel vertoon sag, stylvol maar tog doelgerig en manlik. Hierdie is een van die motors op die pad vandag wat regtig manne en meisies sal laat tuisvoel. Motors het mos ‘n tipe persoonlikheid wat hulle uitstraal en die Santa Fe is wat hy is, maar pas tog aan by elkeen wat agter die stuur inskuif, dus sou jy ‘n tuisblyma wees, sal die Santa Fe nie te manlik lyk nie. Aan die anderkant, sou jy ‘n jong professionele persoon wees wat elke Saterdag fietsry of bergklim, onderstreep die Santa Fe jou status sonder om jou soos ‘n bleeksiel te laat lyk. En nog meer, die Santa Fe sal glad nie afsteek langs enige X5 of selfs jou sekretaresse se Evogue nie.

Binneruim

Die binneruim van die Hyundai Santa Fe
Die binneruim van die Hyundai Santa Fe
Beenruimte agter is vir volwassenes gemaklik
Beenruimte agter is vir volwassenes gemaklik

Dit is hier waar Hyundai nog altyd baie sterk vertoon het. Die nuwe ontwerperstaal is hier ook te bespeur met moderne hoekige lyne en sagte raakstowwe vir die deurinsetsels en sitplekke. My enigste kritiek hier is dat ek dink die stuurwiel kon so ń aks dikker gewees het. Die motor voel groot en ruim en sterk en dan voel die stuurwiel so dun in jou hande. Miskien is dit ‘n dom opmerking, maar dit is vir my baie opvallend hoe dun die stuurwiel voel. Daar is swart leer regdeur die binneruim en plek vir sewe insittendes. Die derde ry sitplekke vou netjies en vinnig sonder veel moeite plat in die vloer in om ‘n werklike ruim bagasieruim te skep. Daar is individuele luginlate en kontrole vir die derde ry sitplekke, asook lugsakke en veiligheidsgordels. Die derde ry is effens knap vir volwassenes, maar enige kind onder 10 jaar sal baie gemaklik hier kan inskuif. Die tweede ry sitplekke is heeltemal ‘n ander storie; dit is ruim en gemaklik en jy kan jouself maklik verbeel jy is agter in ‘n Sonata. Die hele binneruim straal gehalte uit. Die groot dubbele glasdak skep ook die mooi oop gevoel met al die lig wat dit inlaat. Al die skakelaars lyk luuks en voel sommer net reg. Die Santa Fe is weelderig met standaardkenmerke soos Hyundai se “Blue Link”- telematiese stelsel, ‘n sesluidsprekerklankstelsel en USB-verbinding. Spoedbeheer, telefoon en radiokontroles is alles op die stuurwiel gemonteer. Daar is voorste sitplekverwarming, dubbele klimaatbeheer voor en parkeersensors. In die middelste truspieëltjie is die skermpie vir die trukamera wanneer daar agteruit gestoot word. Die skakelaar vir die afdraandbeheer, agterste ewenaarslot en binnebeligting is alles maklik en bereikbaar langs die stuurwiel op die paneel langs die deur gemonteer. Die binneruim is een van die bestes in dié mark segment.

Santa_Fe_ glasdak
Die groot dubbele glasdak laat heelwat lig en skep ‘n gevoel van ruimte

Enjin

Alle Santa Fe-modelle word deur ‘n 2.2 CRDi-viersilinderdieselenjin aangedryf. Die eenheid lewer 145 Kw en 436Nm se wringkrag. Die enjin is gekoppel aan ‘n sesspoed- outomatiese ratkas wat al vier wiele aandryf. Daar is hope krag en rybaarheid is besonders gemaklik. Die ratkas is seepglad en ons kon regtig nie een keer voel die motor soek na ‘n rat of sukkel om die regte rat te hou nie. Die dieselenjin loop ook seepglad en van binne is dit moeilik om te glo dié is nie ‘n petrolaangedrewe voertuig nie. Hyundai kan gerus die enjin in die Sonata inbou. Brandstofverbruik en CO2-uitlaatgasse is ook, veral deesdae met die brandstofprys, hoog op die prioriteitslys en die Santa Fe het hier beïndruk. Die 8,4 l/100km wat ons kon bereik, is heel aanvaarbaar vir so ‘n groot voertuig. Uitlaatgasse se CO2-syfer word aangegee as 194 g/km. Dit is nog aanvaarbaar, maar verdere enjintegnologie gekoppel aan beter gehalte diesel sal die syfer beslis nader aan die 160g/km laat sak wat ons by die Duitse en Sweedse mededingers sien.

Prys

Wat die prys van Hyundai’s aanbetref, was dit nog altyd een van hulle troefkaarte. Met die nuwe generasie Hyundai’s het daardie denkwyse nou by die venster uit verdwyn. Die motor voel prima en ding dan ook mee met ander primamotors. Die Kia Sorento wat eintlik maar dieselfde motor is, troef die Santa Fe met sy prys, dog voel en lyk ook nie so prima soos die groot Hyundai nie. Ander vervaardigers soos Audi met hulle Q5 2.0 TDI S Quattro (R534 000), BMW X3 xDrive 2.0d Exclusive (R569 000) en  die Volvo XC60 D5 Elite (R566 000) lyk en voel in dieselfde klas as die Santa Fe en met ‘n pryskaartjie van R560 000 is die Hyundai beslis in die topprysklas. Vir daardie prys kry jy nie net een van die bestes in die parkeerruimte nie, maar ook ‘n 5-jaar- 150 000km-fabriekswaarborg met ‘n 5-jaar- 90 000km-diensplan.

Telkaart

Hyundai Santa Fe 2.2 CRDi Elite 4WD

Prys

3   uit  5

Voorkoms Buite

5   uit  5

Binneruim Kwaliteit en Afwerking

5   uit  5

Spasie en Praktiese toepassing

4   uit  5

Agter die stuur

5   uit  5

Enjin en Ratkas

4   uit  5

Op die pad

5   uit  5

Veiligheid

5   uit  5

Totaal

36 uit 40

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.