Die blywende aard van die volkstaat

Deel op

Die dae van die vorming en oprigting van Volkstate is waarskynlik nie getel nie. 'n Amerikaanse deskundige, Jerry Z. Muller, het in 'n artikel in Foreign Affairs aangetoon hoe modernisering grootliks die oorsaak van etniese selfbewussyn en separatisme is. 

Deel op

Muller, 'n professor in geskiedenis aan die Katolieke Universiteit van Amerika, skryf in die Maart/April uitgawe van Foreign Affairs  (my vertaling): “Etniese nasionalisme het ‘n groter en meer blywende rol in die moderne geskiedenis gespeel as wat algemeen verstaan word, en die prosesse wat gelei het tot die dominansie van die etnies-nasionale staat asook die skeiding van etniese groepe in Europa gaan waarskynlik elders herhaal word.  Verhoogde verstedeliking, geletterdheid en politieke mobilisasie; verskille in bevolkingsaanwasse,  die ekonomiese prestasie van verskillende etniese groepe en immigrasie sal die interne strukture en grense van state uitdaag.  Of dit nou polities korrek is of nie; etniese nasionalisme sal voortgaan om die wêreld van die een-en-twintigste-eeu te vorm.”

Mense ag die nasiestaat vandag as die vanselfsprekende vorm van politieke assosiasie terwyl die gedagte van ‘n ryk uiters skaars is.  Die geskiedenis toon egter dat mense vir langer in Ryke as in Nasiestate gewoon het.

Gedurende die dae van die Hapsburg- en Romanofryk was die handel- of middelklasse grootliks Duitsers of Jode.  In die Ottomaanse ryk was hulle Armeniërs, Grieke of Jode, terwyl die werkersklasse etnies uiteenlopend was. 

Die militêre kompetisie tussen die ryke het hulle genoop om te moderniseer ten einde hulle ekonomieë in staat te stel om die nodige weermagte te produseer en te onderhou.  Hierdie modernisering van die ekonomieë het massageletterdheid en maklike kommunikasie genoodsaak.  Die grootliks landbou-gerigte etniese groepe soos die Tsjegge, Pole, Slowakiërs en Oekraïners het verstedelik, net om agter te kom dat dit onmoontlik is om ekonomies te vorder in werksplekke wat nie jou taal en kultuur deel nie.  Sprekers van dieselfde tale het begin om hul lotgevalle as gedeel te ervaar en om hul gemeenskappe teenoor ander te definieer.  Uiteindelik het hulle ook begin om state van hul eie op te eis.

Michael P. Todaro en Stephen C. Smith skryf in Economic Development dat (my vertaling): “Etnisiteit en geloof gereeld ‘n wesenlike rol in die sukses of mislukking van ontwikkelingspogings speel.  Dit is duidelik dat hoe groter die etniese- en geloofsdiversiteit van ‘n land, hoe groter is die kans dat daar interne twis en politieke onstabiliteit sal wees.  Dit is daarom nie verrassend nie dat die mees suksesvolle onlangse ontwikkelingservarings – Suid-Korea, Taiwan, Singapoer en Hong Kong – in homogene kulturele samelewings voorgekom het.

Vandag is daar ‘n gewilde illusie dat ons in ‘n wêreld van individuele regte, oop grense en internasionale reg leef.  Tog ervaar die duisende Afrikane en Asiërs wat jaarliks sterf in hul pogings om Europa binne te kom dat sy grense in werklikheid nie so oop is nie. ‘n Opname sal toon dat daar in 1900 vele state in Europa was wat nie oor ‘n enkele dominante etniese bevolking beskik het nie, terwyl daar in 2008 slegs twee sulke state oor is, waarvan een (België) geleidelik besig is om in twee te verdeel.  Die separatistiese projek het in Europa geseëvier; nie verdwyn nie.

Suid-Afrika as politieke entiteit is veel meer tekenend van dié van ‘n ryk as van ‘n nasiestaat.  Die grondgebied is so groot soos dié van Wes-Europa, terwyl elf tale amptelik erken word.

Die apartheidsregering wou nie die nodige finansiële opofferings maak om etniese nasiestate op ‘n geordende wyse te laat ontstaan nie.  Die ANC-regering daarteenoor, skroom nie om die instrumente van modernisering mildelik op die landelike bevolkings te laat neerreën nie.  Die plakkerskampe wat soos paddastoele opspring, toon duidelik aan dat die proses van verstedeliking onstuitbare momentum geniet. 

Die Amerikaanse militêre skrywer, James F. Dunnigan, beskryf Suid-Afrika as ‘n moontlike toekomstige konflikgebied.  Hy skryf dat multikulturalisme die vloek van Afrika is terwyl Suid-Afrika nie anders is nie; dat demokrasie ‘n hoog aangeskrewe doel is, maar dat dit ‘n glibberige dier is wat in gewapende wanorde opeindig indien dit nie bymekaar gehou kan word nie.

Geweldpleging vorm ‘n omgewing waarin daar meer verloorders as wenners is.  Die gedagte daaraan laat my naar word.  Dit hoef egter nie die enigste uitweg te wees nie.  Om Carel Boshoff (IV) aan te haal: “Sedert 1900 het die geografiese gebied wat ons as Suid-Afrika ken oor ses drasties verskillende grondwette beskik.  Die nuutste sal in alle waarskynlikheid nie die laaste een wees nie.”

As Oraniër is dit vir my verblydend om te sien hoe die groei van die dorp, ekonomies sowel as demografies, vir Afrikaners aandui dat daar ook vir ons hier in Suidelike Afrika ‘n ruimte is waarin ons onsself sal kan uitleef.

интернет магазин детских товаровлобановский александр

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.