Niekie van den Berg, die eertydse radio-omroeper wat tot onlangs as DA-parlementslid gedien het, het vanoggend tydens ‘n TV-onderhoud op KykNET die DA as “die party van benadeling” bestempel. Van den Berg het intussen na die Vryheidsfront Plus oorgeloop.
Op die vraag, “Sou jy by die DA gebly het as jy nie so laag op die lys was nie?” antwoord Van den Berg: “Daar is ‘n doelbewuste poging om van ons middeljarige blanke mense ontslae te raak.”
Terwyl Niekie van den Berg hom by RadioSonderGrense dikwels teen Afrikaanse taalstryders uitgespreek het, het hy nou self in ‘n taalstryder ontpop, maar dan vir “alle minderheidstale”. By implikasie het hy ook op ‘n stadium gevoel dat hy skaam was om Afrikaans te wees, want hy sê: “Ek is 58. Ek hoef nie meer skaam te wees omdat ek Afrikaans is nie.”
Maar, sê Van den Berg: “Ek het vir al die tale geveg. Ek het vir die ANC gesê as ons nie vir die minderheidstale veg nie, gaan hulle verdwyn. Die DA weier om vir minderheidstale op te staan omdat hulle bang is die mense dink hulle veg vir Afrikaans.”
Die omroeper-politikus voel steeds sterk oor “nasiebou” en dat die Vryheidsfront Plus insgelyks verander het na ‘n meer multikulturele party. “Daar is ‘n verandering by die VF+. Hulle fokus is nou op alle minderhede.”