Rasstellende aksie moet weg!

Deel op

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Ek is nie seker wie eerste van “rasstellende aksie” begin praat het nie. Dis egter een van daardie vindingryke Afrikaanse terme of woordspelinge wat die onreg van huidige regeringsbeleid baie goed uitdruk.

Rasse word getel en rasse word in ‘n rangorde gestel. Swart is bo en blank is onder, amper soos die Bybelvers wat sê:

Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste. (Markus 10: 31)

Soos ek ook verlede jaar opgemerk het:

Uiteindelik kom alle vorme van regstellende aksie neer op anti-blanke beleid, met die uitsondering van Maleisië waar dit teen Chinese gerig is. In verskillende lande word dit verskillend gerasionaliseer.

Hier by ons moet RA ‘n meerderheid teen mededinging vanaf die (blanke) minderheid beskerm. In die VSA weer moet die (swart) minderheid teen die voorlopig blanke meerderheid bevoordeel word. Ons weet egter dat die VSA-bevolking kantel en dat daar nou meer nie-blanke as blanke geboortes is, dus sal die argument daar ook mettertyd verander, nl. dat die meerderheid teen die minderheid beskerm moet word.

Onderliggend aan rasstellende aksie is insgelyks ‘n stuk liberale rassisme, want blykbaar is swartes vanweë een of ander aangebore gebrek nie in staat om met blankes in die ekonomie mee te ding nie! Daarom moet hulle, hetsy as minderheid, hetsy as meerderheid, altyd teen blankes bevoordeel word.

Dit geld veral die toelatingsvereistes op universiteit waar rasstellende aksie byna oral toegepas word sodat blanke studente van bepaalde studierigtings (veral die sogenaamde gesondheidswetenskappe) uitgesluit word ten gunste van swartes met veel mindere prestasie. Dus, sowel ekonomies as akademies is daar blykbaar ‘n implisiete erkenning dat swartes oor minder vermoëns as blankes beskik

Voorstanders van rasstellende aksie verwys egter nooit na vermoëns of talent nie, aangesien hulle voorhou dat alle mense met dieselfde vermoëns of talente gebore word. Dis net omstandighede wat veroorsaak dat almal nie op gelyke vlak presteer nie, of dit nou daaroor gaan om ‘n onderskeiding vir wiskunde in matriek te behaal of ‘n Springbokrugbyspeler te word.

Alle gebrek aan prestasie onder SA swartes word vaagweg aan “apartheid”, “die geskiedenis” of “vorige benadeling” toegeskryf sonder dat daar ooit na spesifieke voorbeelde van sodanige benadeling verwys word.

Trouens, hierdie “kumulatiewe benadeling vanuit die verlede” is oorgeneem vanuit die marxistiese diskoers oor “kapitaalvorming” wat op grond van meerwaarde of die uitbuiting van arbeid plaasvind. Die swartman in Suid-Afrika beskik oor ‘n opgehoopte “benadelingskrediet” wat tans deur middel van rasstellende aksie “uitgekeer” word. Die kollektiewe blankedom is sy “debiteur” wat die volgende aan hom verskuldig is:

  • geld
  • grond
  • bevordering
  • posisies in die staatsdiens
  • aandele in openbare maatskappye
  • aandele in private maatskappye
  • ‘n buitensporige rol in die land se geskrewe geskiedenis
  • ‘n buitensporige rol in die letterkunde, musiek en kultuur van die land

Waarskynlik is ek die enigste persoon wat telkens op die rol van die universiteite hamer as dit kom by die vestiging van ‘n marxistiese wêreldbeskouing in ons land kom. Wits en Kaapstad was op die voorpunt van die institusionalisering van marxistiese denke in die sestiger- en sewentigerjare, waarna dit na die res van die universiteite uitgebrei is. Die Afrikaanse universiteite is natuurlik eers onlangs tot die marxisme bekeer, maar getrou aan die aard van sommige Afrikaners hang hulle vandag kommunisme veel meer fanaties aan as wat hulle in die verlede die NP-beleid verdedig het.

Jaarliks word ‘n aansienlike gedeelte van die land se hulpbronne en die opvoedingstelsel gebruik om die begrip van swart benadeling aan die publiek tuis te bring, met die geesteswetenskappe wat byna uitsluitlik aan dié doel gewy word.

Suid-Afrika beskik tans oor baie min oorspronklike denke oor die geskiedenis, die ekonomie en etnisiteit, anders as in die verlede. Die Britse marxisme het in die SA universiteite sy grootste afsetgebied in die Engelssprekende wêreld gevind. Arthur Keppel-Jones, oor wie Leon Lemmer verlede week geskryf het, het reeds in die dertigerjare die Universiteit van Kaapstad as ‘n Britse instelling ervaar:

Yes, my experience at the University of Cape Town first exposed me to liberal values and led me to question the fundamental values of the society in which I had grown up. I later learned that many of my friends who did not have a university education remained racists, while those who did like me became liberal. At UCT, I was taught by professors and lecturers most of whom had a British background. From my schooldays the British influence was a liberating one. Most of my lecturers were not tainted by South African racial prejudice.

Teen die sestigerjare het die marxisme egter die Britse universiteite oorgeneem en moes sogenaamde “liberalisme” wyk voor sosialisme en kommunisme. Een van die sentrale argumente van die Britse marxisme, wat natuurlik klakkeloos deur ons koloniale kommuniste hier te lande oorgeneem is, is dat “ras” en “klas” in Suid-Afrika min of meer ooreenstem. Selfs waar blankes, veral Afrikaners, in myne of fabrieke gewerk het, is hulle nie deur die Britse marxiste as “ware werkers” beskou nie. Die ware werker of suiwer lid van die proletariaat was die swartman. Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het ook die gedagte van ‘n etniese federasie soortgelyk aan die Russiese stelsel wat in die laat vyftigerjare deur die Sowjet-akademie vir wetenskappe vir Suid-Afrika voorgestel is, verwerp. Die eenheidstaat met ‘n Britse kultuur en met Engels as enigste amptelike taal was al waarin Joe Slovo, Ruth First, Rusty Bernstein en ander geharde SA kommuniste belanggestel het.

Die “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” van die afgelope dekade of twee is feitlik geheel en al deur kommuniste geskryf, of is op die marxistiese geskiedskrywing met sy hoofsetel in Londen, gegrond. Daardie geskiedenis beklemtoon die skade wat die swartman weens “apartheid en kapitalisme” gely het. Die feit dat die meeste winste in Londen opgehoop het, aangesien Britse beleggers nog altyd die room van ons myne en nywerheidsmaatskappye besit het, word gerieflikheidshalwe verswyg. Soos wat Stalin tegelyk kommunis én Russiese nasionalis was, is die meeste Britse marxiste sowel links as Brits nasionalisties of imperialisties gesind.

Ons sien dus dat rasstellende aksie soos ons dit deesdae in Suid-Afrika teëkom, sy wortels in die Britse marxisme het. Daarom verteenwoordig RA ‘n variasie op die tema van die “diktatuur van die proletariaat”. Omdat die swartman na die mening van SA/Britse marxiste die enigste egte proletariër is, moet sy oorheersing op alle gebiede ter wille van die “totale transformasie van die maatskappy” gevestig word. Die uitsluiting van die blanke middelklas uit die ekonomie, tersiêre opvoeding en van landbougrond geskied soortgelyk aan die vervolging van die sogenaamde “koelakke” in die vroeë Sowjetunie. Oor die koelakke het Lenin gesê:

Hulle is bloedsuiers, vampiere, plunderaars van die volk en uitbuiters wat hongersnood misbruik.

Toe Stalin aan bewind kom, het hy besluit om ‘n “klasseoorlog” teen die koelakke te verklaar en het hom in 1930 só oor hulle uitgelaat:

Ten einde die ‘koelakke’ as ‘n klas uit te knikker, moet die weerstand van dié klas in ‘n openlike geveg vernietig word en moet dit van die produktiewe bronne van sy bestaan en ontwikkeling ontneem word… Dit verteenwoordig ‘n wending na ‘n beleid van die eliminering van die koelakke as ‘n klas.

Binne die Britse marxisme en sy siening oor Suid-Afrika – wat die heersiende siening in sowel ons universiteite as ons media geword het – is ras en klas uitwisselbaar. Rasstellende aksie is daarom, ewe seer as Stalin se beleid om “die koelakke te elimineer”, daarop gemik om die blanke middelkas te “elimineer”.

Net soos wat kommunisme in die voormalige Sowjetunie ‘n misdaad teen die mensdom was, is rasstellende aksie in Suid-Afrika besig om in ‘n misdaad teen die mensdom te ontaard. Dis nodig dat ons dit oor en oor begin sê.

Elke aspek van die propaganda oor rasstellende aksie, maar veral begrippe soos “witskuld”, “historiese skuld”, “vorige benadeling” en so meer, moet meedoënloos aan kritiek onderwerp word. “Transformasie” as sodanig, asook enige gewaande behoefte daaraan, moet in sy geheel verwerp word.

Vandat Marx en Lenin in 1948 hul Kommunistiese Manifes gepubliseer het, en waarin hulle van die “spook van kommunisme oor Europa” praat, het kommuniste en marxiste nog altyd histeries oor verskille in rykdom, prestasie en geskiedkundige onreg tekere gegaan. In ons land is dit nie anders gesteld nie. Inteendeel, enige bevraagtekening van die “kumulatiewe witskuld” word luidkeels met krete van “rassisme” en “fascisme” begroet.

Die meeste politieke partye soos die ANC, DA, Cope en ander ondersteun rasstellende aksie. Dis nodig dat rasstellende aksie finaal aan die kaak gestel word vir die stuk marxistiese drogredenasie wat dit is, ook tydens debatte in die huidige verkiesing. Voorstanders daarvan behoort ook die eerlikheid te hê om die klassieke kommunistiese terme soos “diktatuur van die proletariaat” te gebruik as hulle hul argumente in die openbaar stel, pleks van mooiklinkende Amerikaanse eufemismes soos “affirmative action” wat eintlik sinneloos is.

Om die rasse te tel (kwotas) of bokant mekaar te stel, mag nie langer geduld word nie.

Ondersteun hierdie blad deur by praag aan te sluit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.