Alles gaan oor gereedskap

ImageMy pa het my 'n belangrike waarheid geleer: Enigiets is maklik as jou gereedskap reg is.

Enigiemand wat al probeer het om 'n naat met 'n naald of speld los te trek, as hulle van beter weet en 'n lostrekker gewoond is, weet hoe waar hierdie stelling is.

Om 'n moeilike materiaal met 'n stomp skêr te probeer knip, kan senutergend wees. Lê 'n patroon uit met net 'n paar spelde of werk 'n soom in met 'n veels te groot naald. Nee, mens se gereedskap moet reg wees.

Die waarheid is nie net waar as jy 'n naaldwerkster is nie. Probeer kook sonder die regte maatkoppies, lepels en  bakke. Resepte waar gesif word sonder sif. 'n Mengsel wat geklop word sonder spaan en probeer eiehandig 'n elektriese klitser se werk verrig. Nee, 'n mens se gereedskap moet reg wees, stem jy dan dadelik saam.

Verwers moet die regte kwasse, skrapers en verwe hê. Die tuinier benodig sy graaf, sy vurk en sy kruiwa. Die nutsman is nutteloos sonder sy boor, sy hamer en saag. Ure se gesukkel kan in minute verby wees met daardie een stukkie gereedskap wat die ding kan doen.

Wat my pa in sy wysheid egter nie gesê het nie, is dat gereedskap sonder kennis nutteloos is en dat daar mense is wie se handigheid enige gereedskap oorskadu. So sal ek my hande saamslaan oor die nuttigheid van sommige gebruiksartikels in die hande van 'n regte nutsman. Dit laat my altyd met die gevoel: Hoekom het ek so min inisiatief?

'n Vriendin met 'n prentjiemooi huis en tuin, kleur tot haar eie verf om dit  te kry soos sy dit wil hê.  Sy het die waagmoed om selfs 'n bietjie koffie by haar verf te gooi met  skitterende resultate. Ek kyk wat sy vermag en weet dat ek  inderdaad iets in my sisteem kort, 'n besonderse stuk gereedskap waarmee ek myself tot 'n wen-idee moes motiveer.  Die Afrikaanse Tesourus van L.G. de Stadler noem 'n rits woorde wat met moed, durf of fut te make het: koenheid, dapperheidm, braafheid, onversaagdheid, ridderlikheid, vreesloosheid, overskrokkenheid, wagmoed, koerasie, kordaatheid, kloemoedigheid, stoutmoedigheid, daadkrag, sangfroid, pit, dryfkrag, ens. Dit klink soos karaktertrekke van 'n Voortrekkerleier, maar in hierdie moderne tyd kort ek ook 'n handvol daarvan.

Dan is daar die derde groot, onweerlegbare waarheid: al die gereedskap ter wêreld en al die waagmoed in die heelal, bring jou nêrens sonder harde kontant nie! Die dekorboeke wat in groot letters uitspel: “Doen dit met wat jy het,” leef nie saam met dié waarheid nie. Hulle spin om jou 'n ragfyn kokon van: “Sê nou maar dit was moontlik”, want op die ou einde moet jy betaal of tot verhaal kom!

So sit ek in my sitkamer en bekyk my mure: sê nou ons verf die mure 'n pampoenoranje? Sê nou maar ek het die kontant om te koop wat ek moet en iemand te kry om die verfwerk noukeurig te doen, sou die mense van my ook sê: “Sy het fut, durf en waagmoed. Sy is koel en sjiek en inpas! Haar huis is so oe-la-la en sjiek-boheems.  Of sal hulle bloot vra: “Wat het skeefgeloop?”

погремушкиАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.