Na brandstigting en openbare geweld is 46 mense is in Montague Gardens in Milnerton in Kaapstad in hegtenis geneem.
‘n Oproerige groep inwoners van Joe Slovo Park het ‘n bus aan die brand gesteek. Volgens die polisie het die oproermakers die bestuurder uit die bus gedwing nadat hulle gedreig het om die bus aan die brand te steek.
Hulle het die bus in ligte laaie gelaat nadat die bestuurder uitgeklim het. Die groep is vermoedelik dieselfde mense wie se plakkershutte verlede week gelykgeskraap is.
Die Stad Kaapstad het die plakkershutte vernietig omdat hulle nie aan ‘n hofbevel gehoor gegee het nie.
Verskeie paaie in die Kaapse Skiereiland is tans gesluit weens gewelddadige oproer.
Inwoners het paaie met brandende buitebande versper en verkeersligte beskadig. Verbygaande motoriste word ook met klippe bestook.
Die polisie en die verkeersdienste is in die gebied ontplooi.
Die woordvoerder van die Kaapstadse verkeersdiens, Maxine Jordaan sê die R-300 tussen Highlands en Oliver Tambo, en tussen Govan Mbeki en Simfonieweg is gesluit.
Jordaan het motoriste aangeraai om versigtig te wees en waar moontlik alternatiewe roetes te gebruik.
Die polisie is ook op die N2 ontplooi waar verkeer nog vryelik vloei.