Nkandla-verslag teen BRICS gemik

Deel op
Dr Dan Roodt
Dr Dan Roodt

Suid-Afrika se “veiligheidsgroepering”, wat die polisie, weermag, openbare werke en staatsveiligheid insluit, het Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela se bevinding oor Nkandla verwelkom.

Die “bevinding” is die jongste Anglo-Amerikaanse aanslag teen BRICS se invloed in Suid-Afrika en teen Jacob Zuma wat hulle nie as ‘n betroubare bondgenoot beskou nie.

Madonsela se verslag het glo bevind dat daar wanadministrasie, bestuurstekorte en die uitbuiting binne die voorsieningsketting was.

Die DA, wat soos AgangSA deur skaduagtige buitelandse miljardêrs befonds word, gaan Donderdag strafregtelike aanklagte by die Nkandla-polisiestasie indien na die bekendstelling van die Openbare Beskermer se verslag oor die wanbesteding en swak bestuur.

Die afvaardiging sal die DA-woordvoerder, Musi Miamane en die DA se federale voorsitter, Wilmot James, insluit. Die DA se Parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko, het vroeër gesê hulle is op die punt om met die prosedure te begin om President Jacob Zuma in ‘n staat van beskuldiging te plaas.

Die eensydige berigte in die hoofstroompers oor Nkandla is ‘n duidelike bewys dat die mediamonopolie Anglo-Amerikaanse belange verteenwoordig en nie belangstel in gebalanseerde nuusdekking nie.

Die wapenskandaaldiefstal waar Britse en Duitse agente hul sakke volgestop het met belastingbetalers se geld, beloop miljarde meer as Nkandla, maar die swendelaars sal waarskynlik nooit voor stok gekry word nie.

Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het in haar verslag bevind dat Zuma en sy familie onregmatig voordeel getrek het uit die veiligheidsopgraderings aan die president se privaatwoning.

Die DA het nie kommentaar gelewer op die feit dat KwaZulu-Natal se finansies waarskynlik die gesondste in die land is nie, in teenstelling met plekke soos Midvaal of die Oos-Kaap waar die DA hoop om hul invloed uit te brei nie.

Madonsela hou vol met onbenullighede soos die beeskraal, hoenderhok, swembad en besoekers se ontvangsgebied wat nie deel was van die vereiste veiligheidsmaatreëls nie.

Die Presidensie sê intussen die Openbare Beskermer se verslag oor Nkandla bevestig die belangrikheid van Hoofstuk Nege-instellings om die demokrasie te versterk.

‘n Woordvoerder van die Presidensie, Mac Maharaj, sê Zuma was deurlopend bekommerd oor bewerings van wanpraktyke in verband met aankope in die Nkandla-projek en het die Spesiale Ondersoek-eenheid opdrag gegee om die berigte te ondersoek.

Die regering het vroeër sy standpunt herhaal dat alle installasies by die President se privaatwoning noodsaaklike veiligheidsopgraderings was.

Die Front Nasionaal het Woensdag ‘n beroep gedoen vir groter gelykheid tussen partye om ‘n vry, regverdig en geloofwaardige verkiesing te verseker.

Dr Dan Roodt, die party se mediaverteenwoordiger, het na sy inleidende woorde, oorgeslaan na Afrikaans en die media gevra om alle partye ‘n gelyke kans te gee in hul dekking.

Die FN was van die partye wat die Gedragskode vir die verkiesing onderteken het wat vra vir politieke verdraagsaamheid.

Dr Roodt het ook melding gemaak van die belangrike gebeure in die Krim waar die skiereiland dié week ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring uitgereik het.

Talle partye het gesê die Gedragskode moet aangepas word. Mpho Ramakatsa van die EFF sê hulle wil hê die verpligte OVK deposito om aan die verkiesing deel te neem moet hersien word.

Dit volg nadat hulle hofaansoek om die deposito ongrondwetlik te laat verklaar van die hand gewys is. Die EFF wil ook hê dat die SAUK regverdige mediadekking aan alle partye moet gee.

Die VF+ het by monde van Pieter Mulder ironiese grappe uit sy voorbereide aflewering gelees. Hy het in Engels gepraat en gesê: “Politics is about relatives. When you win, the relatives come.” Die VF+ word deur die Mulderfamilie bedryf, met slegs Mulders in die topposisies.

Mulder het ook nie geskroom om blatant te lieg nie, en die gehoor verseker dat die party steeds groei, nadat die VF+ reeds in drie agtereenvolgende verkiesings kwaai stemme verloor het.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.