Nkandla: Die ware skuldiges

Deel op

delport_manfred_600deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Die eentonige verslaggewing oor die nimmereindigende kruisondervraging van advokaat Barry Roux in die Oscar Pistorius-verhoor gaan vir ‘n dag of twee vervang word met ‘n reaksie op die Nkandla-verslag deur die Openbare Beskermer, adv Thuli Madonsela.

Dié reaksie gaan voorspelbaar wees: Verontwaardiging oor die skokkende vermorsing van miljoene van ons, die belastingbetalers, se geld. Meeste koerante gaan aandring dat president Zuma moet bedank. Die DA het reeds te kenne gegee dat hy gaan aandring daarop dat die parlement die president moet ontslaan. Daar sal ook diegene wees wat toenemend begin dink dat, om belasting te betaal, die ekwivalent is daarvan om vir ‘n longkankerlyer nog sigarette te koop, en dat belastingontduiking eintlik ‘n morele plig is, as jy korrupsie wil stuit. Sonder belastingbetalers se geld kan daar immers geen Nkandla of ander korrupsie wees nie.

Selfs die mees liggewig-Naarperskader, wat ‘n redakteurspos beklee by een van hulle krimpende publikasies, sal egter sekerlik besef dat dit allermins is wat gaan gebeur. Ná die verkiesing van 7 Mei sal Zuma steeds die president wees. Geen kabinetsminister sal afgedank word nie. Daar sal miskien ‘n paar amptenare op ‘n laer vlak wees wat in die moeilikheid sal kom; verkieslik ‘n paar wittes soos wat met die Gupta-landing op LMB Waterkloof gebeur het.

Daar is weliswaar ‘n paar vrae wat agv politieke korrektheid en kruiperigheid nié in die pers gevra gaan word nie. En van hierdie vrae is: Wat is die doel van ‘n amp soos die Openbare Beskermer s’n? Goed, sy het aanbevelings gemaak, maar dit is vir alle praktiese doeleindes onafdwingbaar, as gevolg van die ANC se oorweldigende meerderheid.

Die Nkandla-nedersetting wat Zuma laat bou het
Die Nkandla-nedersetting wat Zuma laat bou het

‘n Tweede vraagstuk, wat geen NSA-lofsinger of kruiperkaner sal durf vra nie, is wat van Pienk Frikkie se sogenaamde wigte en teenwigte geword het. Waar is jou teenwig wat my, die belastingbetaler, beskerm teen die blatante plundery van my belastingbydraes, meneer De Klerk? Wie gaan aan die pen ry daarvoor? Hoe gemaak as die politici bloot net die regbank en die Openbare Beskermer ignoreer, soos Zuma al vir jare maak?

Dit is veral die laaste vraag wat geen NSA-lofsanger sal durf opper nie, maar die antwoord op daardie vraag is eintlik die grondoorsaak van Nkandla, asook die res van die miljarde wat volgens die ouditeur-generaal geplunder word. Politici in Afrika beskou hulself as bo die wet verhewe; hulle bou vir hul kinders amfiteaters en swembaddens met belastinggeld, omdat hulle weet hulle kan daarmee wegkom.

Nkandla is dus nie net Zuma en sy binnekring se skuld nie. Die skuld vir Nkandla lê voor die deur van die sowat 12 miljoen kiesers wat in 2009 vir die ANC gestem het. Ek moet bieg dat ek nie eens die psige van hierdie kiesers probeer verstaan nie. Laat ek dus nie spekuleer of hulle a) nie die verstandelike kapasiteit het om tussen reg en verkeerd te onderskei nie, of b) die plunder van belastinggeld nie in hulle kultuur as verkeerd beskou nie. Die punt is dat Nkandla gebou is omdat die ANC weet dat hierdie einste stemvee weer vir hom gaan stem.

Anders as wat Pienk Frikkie hom probeer verbeel, staan die enigste effektiewe wig en teenwig vir ‘n politikus bekend as vrees. Vrees dat hy by die stembus verslaan sal word. Toe Richard Nixon betrap is agv Watergate, het die Republikeine besef dat Nixon sou moes bedank, want anders sou die Republikeine vir ‘n lang tyd onverkiesbaar gewees het. Hulle het ook inderdaad die verkiesing in 1976 agv Nixon verloor. Hierdie vrees ontbreek by die ANC. Elke kabinetsminister kan vir homself nóg ‘n Nkandla bou (en met R250 miljoen sal ek terloops darem waaragtig ‘n meer skouspelagtige woning as die lelike rondawels by Nkandla vir myself gebou het), en daardie twaalf miljoen stemvee sal steeds vir die ANC stem.

Eintlik kan ons, diegene wat belasting betaal, en wat besteel word, nie eens regtig die vinger wys na die onverklaarbare optrede van die ANC se stemvee nie. Dit is eintlik ons eie skuld. Daar was oordadige getuienis van noord van ons grense oor wat in sogenaamde Afrika-demokrasieë ná Oehoeroe gebeur. Nietemin het ‘n meerderheid van blanke kiesers in 1992 ons ore uitgeleen aan die pers se propaganda en die Nasionale Party se leuens, en ja gestem. Vandag nog is daar ‘n meerderheid blanke kiesers wat liggelowig genoeg is om te glo dat hetsy die toenemend-swart DA, hetsy ‘n MDC in Zimbabwe, ‘n beter regering as die ANC of Zanu-PF sou wees. Daar is steeds diegene wat nie dekades se lesse oor sogenaamde demokrasie in Afrika, ter harte geneem het nie.

As jy iemand wil verkwalik vir Nkandla, meneer die meerderheid blankes, is daardie gesig in jou spieël ‘n goeie beginpunt.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.