Politiek is nie rugby nie

Deel op
Juli Kilian
Juli Kilian

Die nuus dat dat die oud-NP’s Nick Koornhof en Juli Kilian van hul huidige party, Cope, na die ANC oorloop, demonstreer die gebrek aan beginsels en standvastige denke waaraan soveel onlangse beroepspolitici hul skuldig maak.

Ook die bontpratery van die Mulder-familie se Vryheidsfront Plus wat die afgelope vyf jaar gesukkel het om Pieter Mulder se deelname aan die ANC-regering aan regse kiesers te verduidelik, behoort tot dié siening van “politiek as rugby”, soos die drie Cope-lede dit pikant uitdruk.

Politiek is egter nie rugby nie. Kiesers stem vir ‘n bepaalde party met ‘n stel beginsels en verwag dat leiers hulle daarby moet hou. Hulle verdra ook nie dat beroepspolitici hul eie belang bó dié van kiesers en selfs die landsbelang mag stel nie. Wat vir Brian Habana aanvaarbaar mag wees, om van span te verander, maak van die politikus ‘n soldenier of huurling wat sy dienste aan die hoogste bieder verkoop.

Ons is geneig om korrupsie bloot aan geld en omkopery te verbind. Lank voor ‘n mens egter omkoopgeld aanvaar, raak jy in jou denke korrup en begin jy dienstigheid bo beginsels stel.

Ons nuwe party, Front Nasionaal, beywer hom vir Afrikanervryheid, waaronder die onmiddellike oordrag van eie kultuurbates soos skole, universiteite en monumente aan Afrikaners, tesame met beheer oor eie belastings as ‘n eerste stap na die herstel van ons soewereiniteit.

Benewens opportunisme, ly beroepspolitici in ons land ook aan ‘n graad van domheid wat nêrens elders ter wêreld te vinde is nie. Hulle begrip van politiek, landsbestuur en internasionale politiek is dikwels so beperk dat hulle nie in staat is om tussen, sê maar, kommunisme en konserwatisme te onderskei nie!

As ons nie helderheid na die politieke arena terugbring nie, gaan die huidige krisisse net verdiep en is ‘n Zimbabwe ons voorland.

Dr. Dan Roodt, onderleier en woordvoerder, Front Nasionaal

Dié brief verskyn ook in ‘n verkorte weergawe vandag in Beeld.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.