Krim: meer as 95 persent stem vir aansluiting by Rusland

Deel op
Mense gehul in Russiese vlae vier fees op die Lenin-plein in Sevastopol
Mense gehul in Russiese vlae vier fees op die Lenin-plein in Sevastopol

Meer as 95 persent van kiesers in die Krim-referendum het “ja” gestem vir die outonome republiek om by Rusland aan te sluit terwyl minder as 4 persent wil hê dat die streek deel van die Oekraïne behoort te bly, volgens die voorlopige uitslae.

Met meer as 75 persent van die stemme wat reeds getel is, toon voorlopige syfers dat 95,7 persent van kiesers “ja” gestem het vir die hereniging van die republiek met Rusland as ‘n eenheid van die Russiese Federasie. Slegs 3,2 persent van die stembriewe is uitgebring ten gunste daarvan om ‘n outonome republiek met breër regte binne die Oekraïne te bly. Die oorblywende 1,1 persent het uit bedorwe stembriewe bestaan.

Die algehele stempersentasie in die referendeum oor die status van die Krim is 81,37%, volgens die hoof van die Krim-parlement se kommissie oor die referendum, Mikhail Malisjef.

Die voorlopige uitslae van die volkstemming is gedurende ‘n vergadering in die middestad van Sevastopol, die stad waar Rusland se Swartseevloot gehuisves word, aangekondig. Die finale uitslae sal tydens ‘n perskonferensie vanoggend om 7:00 GMT, 9:00 Suid-Afrikaanse tyd, aangekondig word.

Meer as die helfte van die Tatare wat in die hawestad woon, het aan die referendum deelgeneem, met die meerderheid wat insgelyks ten gunste van aansluiting by Rusland gestem het, berig Itar-Tass, volgens ‘n verteenwoordiger van die Tatar-gemeenskap, Lenoer Oesmanof. Omtrent 40% van Krimse Tatare het Sondag by stempunte gaan stem, het die eerste minister van die republiek, Sergei Aksionof gesê.

In Simferopol, die hoofstad van die republiek, het ten minste 15 000 bymekaargekom om die referendum op die Leninplein in die middestad te vier en volgens berigte kom mense steeds daar aan. Betogers wat Russiese en Krim-vlae swaai, het ‘n lewendige konsert bygewoon terwyl hulle op die aankondiging van voorlopige uitslae betreffende die stemmery wag.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het gesê dat die burgers van die skiereiland die geleentheid gegee is om vrylik hul mening uit te spreek en hul reg op selfbeskikking uit te oefen.

Internasionale waarnemers beplan om teenwoordig te wees by die finale verklaring van die Krim-referendum vandag, het die hoof van die moniteringskommissie, die Poolse LP Mateusz Piskorski aan joernaliste gesê. Hy het bygevoeg dat die stemmery ooreenkomstig internasionale norme en standaarde gehou is.

Aanstaande week sal die Krim amptelik die roebel as ‘n tweede amptelike geldeenheid, tesame met die Oekraïense hrifna bekendstel, het Aksionof aan Interfax gesê. Volgens hom sal die dubbele geldeenheid omtrent ses maande in werking wees.

Alles tesame, sal die republiek se inlywing by Rusland tot ‘n jaar neem, het die eerste minister gesê en bygevoeg dat dit wel vinniger kon gebeur. Maar hulle wil graag verhoudinge met “ekonomiese eenhede, waaronder die Oekraïne, behou”, pleks daarvan dat hulle brûe verbrand.

Moskou hou die stemtellery in die Krim fyn dop, het Rusland se adjunkminister van buitelandse sake, Geogi Karasin, gesê.

“Die uitslae van die rerferendum sal oorweeg word wanneer hulle saamgestel is,” het hy aan Itar-Tass gesê.

Diskriminasie teen minderheidstale

Die besluit om ‘n referendum te hou, is geneem ná die bloedige opstand in Kiëf wat president Wladimir Janoekowietsj uit die mag gestel het. Die Krim – wat oor ‘n etnies Russiese meerderheidsbevolking beskik – het geweier om die Oekraïense regering te erken wat as gevolg van die staatsgreep aan bewind gekom het. Inwoners van die Krm vrees dat die nuwe leierskap nie hul belange op die hart sal dra en nie hul regte sal eerbiedig nie. Hulle was veral ongelukkig oor die parlement se besluit om die talewet te herroep wat hulle toelaat om minderheidstale – waaronder Russies – as amptelike tale naas Oekraïens te gebruik. Inwoners van die Krim het anti-Maidan-betogings gehou en Rusland gevra om hulle te beskerm.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.