Deus ex machina vir Afrikanerselfbeskikking vanuit die Krim

Deel op

roodt_dan_wikideur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Vandag word daar deur die inwoners van die Krim in ‘n referendum oor selfbeskikking gestem. Daarmee is die twee miljoen inwoners van die Krim besig om die wêreldgeskiedenis te verander, want so pas het die internasionale stelsel wat sedert die ineenstorting van die Berlynse muur in November 1989 gegeld het, insgelyks verkrummel.

Amerika, Brittanje en die Europese Unie wou die referendum ten alle koste verhoed, maar Rusland het vanuit die staanspoor die proses beheer en selfs gisteraand se stemming in die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies kon dit nie keer nie.

Terwyl die meeste Suid-Afrikaanse koerante vandag oor gister se rugby of die komende verkiesing berig, vind daar in die Krim ‘n gebeurtenis plaas wat vir ons van die uiterste belang is. Nes aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog, word selfbeskikking weereens ‘n internasionale kwessie. Woodrow Wilson, die Amerikaanse president aan die einde van daardie oorlog, het onomwonde verklaar dat “die reg op selfbeskikking… heilig is”. Hy het ook sy beroemde “veertien punte” gestel wat selfbeskikking veronderstel het.

Jan Smuts het gesê dat die toekoms van Suid-Afrika altyd van buite die land bepaal sal word. Dit was so in 1899, maar ook in 1990. Die Nasionale Party het in die tagtigerjare die binnelandse stryd teen die ANC, SAKP en sy bondgenote gewen, maar dit in die buiteland verloor. Met die hulp van die destydse Sowjetunie, Oos-Duitsland, Swede, asook die magtige links-liberale partye en media in Brittanje en die VSA, is die destydse NP-regering gedwing om met ‘n skimagtige terreurbeweging genaamd die ANC te “onderhandel”.

Terwyl mnr. FW de Klerk in sy referendumvraag van 1992 aan die blanke kiesers ‘n mandaat versoek het om met onderhandeling voort te gaan, het hy die “ja”-stem as carte blanche geïnterpreteer om tot ‘n volskaalse politieke, ekonomiese en militêre kapitulasie in te stem. Net soos twee miljoen hoofsaaklik Russiessprekende inwoners van die Krim ná die Amerikaans-gesteunde magsgreep op 22 Februarie 2014 hul onder ‘n vreemde meerderheid bevind het, word die Afrikaner vanaf 27 April 1994 op alle gebiede oorheers.

Die ineenstorting van die Berlynse muur was ‘n swaar slag vir Links en natuurlik vir die Sowjetunie wat byna dadelik begin verbrokkel het. Hier is egter die ironie: pleks dat De Klerk hierdie keerpunt in die wêreldgeskiedenis in sy guns aangewend het om die Suid-Afrikaanse kommuniste en links-liberale te troef, het presies die teenoorgestelde gebeur! Soos ek al tevore geskryf het, het FW ‘n geleentheid in ‘n ramp omskep.

1989 was die deus ex machina wat vir die Afrikaner ‘n ramp geskep het; kan die huidige gebeure in die Krim die katalisator word wat ons volk weer na vryheid lei? Weereens gaan dit om ‘n eksterne faktor buite ons beheer wat groot verandering bring.

Die enigste logiese afleiding oor die ramp van 1989 wat ‘n mens kan maak, is dat FW de Klerk na Groot Brittanje oorgeloop het en begin het om die Britse belang in ons land te bevorder. Ook sy broer Wimpie, wat ‘n groot kokkedoor in beide die Broederbond en die Afrikaanse media was, het in die aanloop tot die Groot Afrikaneroorgawe met die Britse geheimediens in Londen vergader, soos wat Chris Louw in sy boek Boetman en die swanesang van die verligtes berig het.

Afrikaners het tydens die Koue Oorlog besonder goed gevaar. Die periode vanaf 1948-1989 wat deur Leon Lemmer vandag as die “Afrikanerperiode” in ons geskiedenis gekenskets word, was ‘n bloeityd vir die land wat vinnig tot ‘n nywerheidsland ontwikkel het. Maar veral die Afrikaner was vir die eerste keer werklik verenig oor al vier provinsies, asook die ou Suidwes-Afrika wat feitlik as ‘n vyfde provinsie van Suid-Afrika geadministreer is. Die Afrikaanse kultuur, onderwysinstellings, weermag, Eskom, Transnet, Yskor, Sasol, die SAL, die SAUK en ander semi-staatsinstellings het groot hoogtes bereik, in teenstelling met die korrupte, finansieel wankelrige oorblyfsels van daardie instellings wat vandag oorbly.

Op die tydstip dat ons vyande se droom van ‘n klasselose kommunistiese utopie finaal “tot die asblik van die geskiedenis verdoem is”, om Trotski aan te haal, het daardie Afrikanerperiode egter eensklaps aan sy einde gekom. Dit is vervang met ‘n voortgesette Britse periode waardeur Suid-Afrika grotendeels tot die invloedsfeer van die Verenigde Koninkryk behoort. Afgesien van die nuwe klas van korrupte swart politici en hul meelopers, het Brittanje die meeste by die magsgreep van die ANC/SAKP op Suid-Afrika gebaat.

Om maar enkele voorbeelde hiervan te noem:

Die Indiese vriend van die toentertydse eerste minister, Tony Blair, het Yskor verniet gekry deur middel van ‘n agterbakse finansiële transaksie. Met ons staalnywerheid agter die blad, het Mittal ook ander staalfabrieke in Europa oorgeneem en sodoende die wêreld se rykste staalmagnaat geword. Afrikaners het dekades lank in Yskor se fabrieke gesweet en soms gesterf om Mittal, wat ‘n Britse burger is, se fortuin te skep.

Die oorname van ABSA, waarin die meeste voormalige Afrikanerbanke soos Volkskas en Trustbank saamgevoeg is, deur Barclays het ook nie deursigtig geskied nie en die valuta- en ander implikasies vir die land is nooit verreken nie. Soos ek dit verstaan, het ABSA eers Barclays se takke oral in Afrika met rande gekoop, waarna Barclays dieselfde fondse gebruik het om ABSA uit te koop. Verlede week verseker iemand my dat die helfte van Barclays se dividend tans deur ABSA verseker word wat sy Afrikanerkliënte met kostes melk om Brittanje se grootste bank te midde van die internasionale geldkrisis staande te hou.

Vodacom, die land se winsgewendste selfoonmaatskappy wat insgelyks met die staatsfondse van Telkom ontwikkel is, word vandag deur Vodafone van Brittanje besit. Suid-Afrikaanse selfoontariewe is van die duurste ter wêreld en uiteraard is die winste wat dié Britse maatskappy vanuit Suid-Afrika verhaal, insgelyks van die hoogste ter wêreld.

Britse maatskappye het ‘n leidende rol tydens die korrupte wapentransaksie, waaroor die laaste woord nog nie gespreek is nie, gespeel. Trevor Manuel het in die geheim en sonder goedkeuring van die parlement ‘n ooreenkoms met die Britse regering gesluit waarmee die Suid-Afrikaanse belastingbetaler betalings aan die Britse wapenmaatskappye waarborg. Blykbaar het ons nog nie eens begin om aan die wapens af te betaal nie en word daar tans net rente gedelg.

Soos die toeval dit wil hê, is Manuel se vrou, Maria Ramos, ook die uitvoerende hoof van ABSA en dien op die uitvoerende komitee van Barclays. Sy is nie eens ‘n gebore Suid-Afrikaner nie (op haar geboortesertifikaat staan blykbaar Lissabon), maar het voorheen aan die Universiteit van Londen nagraads gestudeer, wat haar seker kwalifiseer om ‘n leidende rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie te speel, eers by Transnet en nou by ABSA.

My vermoede is dat daar ‘n langtermyn- Britse plan was om Suid-Afrika ná 1948, maar veral ná Republiekwording in 1961 en ons uittrede uit die Statebond, oor te neem en by verstek deur ‘n swart regering te laat regeer. Die ANC-bewind beskik oor geen werklike mag nie omdat die weermag afgetakel is en sy eie kaders uit ‘n spul hopelose, korrupte en onbekwame skurke bestaan wie se ambisie nie verder strek as om die staatskas leeg te steel nie. Die mag agter die troon is die Verenigde Koninkryk, met Rusland en China wat deur middel van BRICS poog om dié magsgreep op die land af te water.

Weereens: onthou Jan Smuts se gesegde: Ons lot sal vanuit die buiteland bepaal word.

Die Krim
Die Krim

Vandaar dus my opgewondendheid oor wat nou besig is om in die Krim te gebeur. Ten einde die Sowjetryk af te takel, het die VSA die beginsel van selfbeskikking ondersteun en oral in Oos-Europa die onafhanklikwording van state binne die Russiese invloedsfeer gesteun. Waar daar wel pro-Russiese regerings tot stand gekom het, het George Soros en ander Amerikaners se nie-regeringsorgansisasies die plaaslike politiek deur sogenaamde “kleurrevolusies” gemanipuleer om pro-Amerikaanse satellietstate rondom Rusland te vestig. Op 22 Februarie het die jongste van dié revolusies of staatsgrepe plaasgevind toe die verkose president van die Oekraïne, Viktor Janoekowitsj, uit sy land moes vlug nadat die Amerikaanse NRO’s duisende mense opgesweep, maar ook huursoldate betaal het om die onluspolisie met bofbalkolwe en koeëls te bestook.

Omdat die meesal Russiese inwoners van die Krim nie onder ‘n Amerikaanse marionetregering wil leef nie, het hulle met die steun van Rusland besluit om vandag referendum te hou. Alle voorspellings dui daarop dat die bevolking met ‘n oorweldigende meerderheid ten gunste van óf onafhanklikheid van die Oekraïne, óf inlywing by Rusland gaan stem.

Die Amerikaners, asook Duitsland en die res van die Europese Unie wat lyk my net skoothondjies van die VSA geword het, dreig nou met omvattende ekonomiese sanksies teen Rusland omdat hulle vandag se referendum as “onwettig” beskou.

Waneer dit egter die VSA pas, is selfbeskikking nie onwetttig nie, soos die beroemde geval van Kosovo wat in 2008 tot ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring teenoor Serwië en die res van die Federasie van Joego-Slawië oorgegaan het. Ten einde sy Serwiese bondgenoot te ondersteun, het Rusland tevergeefs die onafhanklikwording van Kosovo probeer teenstaan.

In sy verklaring ná afloop van sy ontmoeting met John Kerry, die Amerikaanse buitelandse minister, het die hoof- Russiese diplomaat, Sergei Lawrof, die lande en bevolkingsgroepe genoem wat oor die afgelope aantal jare meesal met Brits-Amerikaanse steun selfbeskikking verkry het. Volgens Lawrof moet die Krim as ‘n spesiale geval hanteer word, net soos wat die VSA en ander Westerse moondhede in 2008 die onafhanklikheid van Kosovo as ‘n spesiale geval gesien het. Lawrof het verder gesê:

“Is daar presedente in die internasionale reg. Daar is presedente, natuurlik. Elkeen verstaan dat die Krim vir Rusland iets baie belangriks, wat dit vir Rusland beteken. Dit beteken oneindig meer as die Falklandeilande vir die Verenigde Koninkryk of die Comore-eilande vir Frankryk.”

Onder Afrikanergroepe het die Kosowo-geval die afgelope aantal jare belangstelling gewek, omdat dit gesien word as ‘n voorbeeld van ‘n bevolkingsgroep wat hom eensydig onafhanklik kan verklaar, iets wat deur die volkereg en artikel 1 van die Verenigde Nasies se handves ondersteun word.

Die probleem is egter dat Kosowo sonder die militêre steun van NAVO en Amerikaanse erkenning nooit onafhanklik van Joego-Slawië sou geword het nie. Omdat soveel Afrikaners prokureurs en advokate is, sien hulle politiek ook soos ‘n hofsaak wat deur een of ander regter beslis gaan word. Politiek gaan egter oor mag en, soos wat die VSA oor die afgelope aantal jare gedemonstreer het, maak hy wat oor mag beskik die reëls. Diie Obama-bewind en die sogenaamde “neocons” of neokonserwatiewe in die VSA voel hulle nie meer aan reëls gebonde nie. Al wat tel, is naakte magsuitbreiding en Oekraïne, Rusland, Iran en ander lande wat aan die Amerikaanse empaaier ontkom, verkeer in hul visier.

In hul legalistiese benadering tot politiek, maak Afrikaners die fout om die volkereg of selfs die huidige Suid-Afrikaanse Grondwet met sy beroemde artikel 235 as die bepalende faktor in ‘n volk se onafhanklikheidstryd te sien. Artikel 235 lui immers:

Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ‘n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ‘n territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.

In weerwil van dié mooiklinkende artikel, geniet Afrikaners vandag geen selfbeskikking of selfs selfregering nie. Die Britse Ryk is bloot deur ‘n Bantoeryk vervang… Of is die Bantoeryk dalk net ‘n voortsetting van die Britse Ryk, soos ek hier bo probeer aandui?

Interessant is dat ‘n geskil oor taalregte ook die huidige konflik in die Oekraïne onderlê. Een van die eerste dinge wat die nuwe pro-Amerikaanse bewind in Kiëf gedoen het, was om die Russiese taal oral in Oekraïne te verbied! Lui dit iewers by ons ‘n klokkie? Afrikaans wat uit die staatsdiens en die groot maatskappye geweer word, veranderings van Afrikaanse name, met Afrikaanse skole en universiteite wat verengels word?

Vandag werk duisende Afrikaners vir die Britse Ryk omdat hulle swartes, kleurlinge en Indiërs Engels leer of hulle in Engels onderrig. Ons belastings word insgelyks gebruik om Engels te bevorder en Britse vooroordele, selfs oor ons eie mense, in die land en elders ter wêreld te versprei. Kortom, Afrikaners het die slawe van die Britse Bantoeryk geword!

Die Angel-Saksiese standpunt oor die Krim het egter ‘n nuwe verdeling teenoor Rusland, selfs ‘n nuwe Koue Oorlog, geskep. Die nuwe globale bars of kraak gaan nie meer oor ekonomiese filosofie – kapitalisme teenoor kommunisme – nie, maar oor identiteit en nasieskap. Die Anglo-Amerikaanse Ryk is onherroeplik verbind tot multikulturalisme en ‘n gemengde identiteit met ‘n onderliggende anti-blanke substraat. Hierteenoor staan Rusland ‘n klassieke volkskap gegrond op nasionalisme en die erkenning van nasionale soewereiniteit en taalregte voor. Ironies is Wladimir Poetin, wat tans deur CCN, die BBC, die New York Times en ander links-liberale media vir ‘n “nuwe Stalin” uitgekryt word, een van die gewildste leiers onder Westerse konserwatiewe. Obama se aggressie in Oos-Europa word deur Amerikaanse konserwatiewe soos Pat Buchanan en Ron Paul gestriem. In Wes-Europa is Poetin veral gewild onder die nuwe geslag nasionalistiese kiesers wat die Franse Front National of die Nederlandse PVV of die Oostenrykse Vryheidsparty ondersteun.

Ook onder Afrikaners styg die bewondering vir Poetin wat oënskynlik alleen die Amerikaanse reus en sy Britse en Europese sikofante aandurf deur selfbeskikking en die voortbestaan van kleiner volkere teen ‘n allesoorheersende imperialisme verdedig.

Die breuk in die wêreld wat die Nuwe Koue Oorlog meebring, loop ook deur Suid-Afrika: aan die een kant die imperialistiese Anglo-Bantoe-Suid-Afrikaner en die ander kant die Afrikaner, die Khoisan, Vendas en ander groepe wat op selfbeskikking aandring.

Afrikaners sal die selfbeskikkingsyster moet smee terwyl hy warm is. Binne die volgende dae en weke sal ons vertoë tot buitelandse ambassades en moondhede moet rig waarin ons insgelyks op ‘n referendum oor selfbeskikking aandring. Die Britse ambassadrise in Suid-Afrika, Judith Macgregor, het gister getwiet dat die referendum in die Krim “onwettig” is, anders as die Skotse referendum oor selfbeskikking wat in September gehou word.

Wel, kom ons stel ‘n voorbeeld aan die wêreld deur ‘n wettige referendum in Suid-Afrika oor Afrikanerselfbeskikking te hou, met die moontlike hulp van mev. Mcgregor wat soveel begrip vir die Skotse vryheidstrewe toon. Oor die presiese grense van ‘n Afrikanerstaat en ons bates kan agterna onderhandel word, solank die beginsel erken word dat ons – soos die Kosoware, die Katalane, die Skotte en die Russiese inwoners van die Krim – onsself moet regeer.

Ek is selfs bereid om ‘n deel van die Noord-Kaap as tuisland te aanvaar, mits ons vir die infrakstruktuur en ander bates in Gauteng uitbetaal word. Dit is triljoene rande werd en ons gaan nie sonder vergoeding daarvan afstand doen nie. As die VSA so pas elf miljard dollar vir die nuwe, onverkose bewind in die Oekraïne kan skenk, is daar sekerlik baie internasionale fondse beskikbaar om vryheid vir Afrikaners te verseker.

Brittanje het nog altyd dubbele standaarde teenoor, enersyds Boere en Afrikaners, en andersyds die Sotho’s, Tswanas, Swazi’s, Iere, Skotte, Falklanders, Oekraïners, ens., gehandhaaf. Britse Bantoestans soos Lesotho en Swaziland wat nie eens hul eie staatsdienssalarisse sonder buitelandse hulp kan betaal nie, geniet volle onafhanklikheid terwyl hulle die territoriale integriteit van Suid-Afrika skend. Maar die Afrikaner word in ‘n onderdanige, verdrukte posisie teenoor die korrupte Bantoe-imperialiste gehou.

Hoe rym dit?

Dit spreek vanself dat ons in die komende verkiesing vir Front Nasionaal behoort te stem, om aan te toon dat daar steun vir die beginsel van Afrikanerselfbeskikking bestaan.

Of is ons al so deur Amerikaanse en Britse multikulturele propaganda gebreinspoel dat ons bereid is om slawerny in die vorm van plaasmoorde, geweld, permanente taal- en rassediskriminasie te aanvaar?

Die meerderheid Afrikaners hoef ons nie in die aanvanklike fase van dié beweging te ondersteun nie. In elk geval het niemand ooit in 1992 ten gunste van oorgawe aan die ANC/SAKP ingestem nie; ‘n komitee van Verraaierkaners rondom mnr. FW de Klerk het dit bloot namens ons gedoen ten einde hul Noord-Atlantiese meesters tevrede te stel. Gehoorsaam soos wat hulle is, het die meerderheid Afrikaners agterna daarby ingeval en is verder deur die media gebreinspoel om die juk te aanvaar.

Wat nou belangrik is, is dat ‘n saakmakende minderheid vryheidsgesinde Afrikaners hul stemme ten gunste van selfbeskikking moet uitbring. Ook die intellektuele en politieke debat moet binne die nuwe geopolitieke konteks gevoer word, waarin selfbeskikking soos ná 1918 ‘n kardinale rol speel.

Ons het niks meer om te verloor behalwe die kettings wat ons aan die gewelddadige, korrupte eenheidstaat bind nie!

praag, die dinkskrum vir Afrikanervryheid en -selfbeskikking. Sluit aan!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.