Groot vloedskade in Limpopo en Noordwes

Deel op

belabelaSwaar reën in Limpopo, Noordwes en veral op Mogwase naby Sun City het groot skade aangerig.

Brûe in Mogwase is onder water en voertuie het ook in vloedwater vasgeval.

Premier Thandi Modise Sal Vrydag die rampgebied besoek.

Nooddienste werk onverpoosd in verskeie dele van Limpopo met talle mense wat in Warmbad (Bela Bela) deur die vloede geraak word.

In Ellisras (Lephalale) is noodsentrums ingerig om vloedgeteisterdes van hulp te voorsien.

Dele van die dorp is onder water nadat twee damwalle vroeër weens swaar reën meegegee het.

‘n Woordvoerder van die provinsiale Departement van Samewerkende Regering, Motupa Selomo, het die noodtoestand in die Waterberggebied naby Nylstroom en in die Capricorn-distrik in die Polokwane-omgewing as baie ernstig bestempel.

Selomo sê nooddienste is ook na mense in die Thabo Mbeki-gebied gestuur.

Motoriste word aangeraai om die N1 te gebruik en Warmbad (Bela Bela) te vermy.

Die R101 tussen Warmbad (Bela Bela) en Nylstroom (Modimolle) is onbegaanbaar. Dit is die die enigste pad in die omgewing wat gesluit is nie, aangesien talle paaie tans onbegaanbaar is.

‘n Woordvoerder vir die Moses Kotane plaaslike munisipaliteit in Noordwes sê twee kinders word ook vermis nadat vloedwater by Mogwase hulle vermoedelik meegesleur het.

Dit is nie bekend hoe oud die kinders is nie.

Ses brûe in die Madibeng plaaslike munisipaliteit het onder die oorstromings deurgeloop en vier het weggespoel by Klipgat, Maboloka en Jericho.

In Pretoria sal die soektog na drie kinders wat vroeër die week in Mamelodi vermoedelik deur vloedwater meegesleur is, ook hervat word.

Hulle het vermoedelik in ‘n stormwaterafvoerpyp, wat in die nabygeleë Moretele-rivier inloop, gespeel.

Die Kruger Nasionale Park het tien kampe weens oorstromings gesluit. Maar owerhede hou vol dat die wildtuin min gevaar of risiko’s vir toeriste inhou.

Die wêreldbekende park is hard getref deur die vloede. Verskeie paaie in die park sal gesluit bly.

Sommige riviere van beide Limpopo en Mpumalanga vloei deur die park na die naburige Mosambiek.

Toeriste het sedertdien verhuis na ander kampe.

Die swaar reënval gedurende die eerste tien dae van Maart het rekords in dele van die land gebreek, volgens die SA Weerdiens.

“Die noord-oostelike helfte van die land het meer as 100 persent van wat normaalweg vir die eerste 10 dae van Maart verwag word, ervaar,” het die klimaatinligting-eenheidbestuurder Elsa de Jager in ‘n verklaring gesê.

“Verder het Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, sowel as dele van Noord-Wes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal meer as 200 persent ondervind van wat normaalweg verwag word.”

Twaalf stede in Limpopo, Mpumalanga en Gauteng ervaar die swaarste reën in tien jaar of meer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.