Front Nasionaal tree tot verkiesing toe

Deel op
Bestuur van Front Nasionaal
Bestuur van Front Nasionaal

‘n Nuwe politieke party, Front Nasionaal, het gister ná betaling van die deposito’s en inhandiging van kandidatelyste, formeel tot die verkiesingstryd toegetree. Die party sal op die nasionale lys vir die parlement, asook die provinsiale lys vir die Gautengprovinsie verskyn.

Front Nasionaal beywer hom vir Afrikaner- en ander minderheidskiesers waarteen die huidige Afrosentriese stelsel in Suid-Afrika diskrimineer.

Die leier van die party is mnr. Hannes Engelbrecht, ‘n joernalis van Potchefstroom en die onderleier dr. Dan Roodt, die bekende skrywer en politieke kommentator van Johannesburg.

Die party is verbind tot die herstel van Afrikanersoewereiniteit en die terugkeer van eie skole, universiteite, gesondheid, bejaarde- en kindersorg, asook veiligheid. In die party se verkiesingsmanifes word die volgende geëis:

  • die onmiddellike afskaffing van alle rassistiese en chauvinistiese wetgewing wat ons burgerskap van die huidige eenheidstaat aantas;
  • dat ‘n moratorium op die verengelsing van Afrikaanse skole geplaas word;
  • dat twee of meer universiteite tot hul vorige voertaal, Afrikaans, herstel sal word en;
  • tesame met die Afrikaanse skole aan ‘n komitee of raad van Afrikaners oorgedra sal word, met ‘n begroting om vir die bestuur en befondsing van ons onderwysinstellings voorsiening te maak.

Sedert die party se bekendstelling, heers groot opgewondenheid onder opposisiekiesers omdat daar nou uiteindelik ‘n beweging bestaan wat onbeskaamd vir hul regte veg.

Front Nasionaal is gekant teen grondhervorming en staan ekonomiese vryheid met minder staatsinmenging voor.

“Steun vir ons party is besig om eksponensieel toe te neem,” sê dr. Dan Roodt. “Te veel kompromieë is reeds deur ander opposisiepartye aangegaan, terwyl die land sienderoë, veral op munisipale vlak, agteruitgaan.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.