
Die koningshuis van Koning Goodwill Zwelithini in KwaZulu-Natal het meer as R54 miljoen vir die nuwe geldjaar gekry. Die bedrag is minder as in die vorige boekjaar.
Die provinsie se R90.5 miljard begroting se toewysing van die nasionale regering het met R1 miljard in 2013-14 gekrimp as gevolg van ‘n laer bevolking wat in die laaste sensus aangedui word.
Die LUR vir Finansies in die provinsie, Ina Cronje sê die geld sal deur die koning aangewend word vir sy deelname aan staatseremonies en die aanbied van tradisionele feeste soos die Eerste Vrugtefees en die Rietdansseremonie.
Cronje sê daar is voorsiening gemaak vir nasionale en internasionale reise. Die begroting sluit ook die aanplanting van gewasse en veeteling in
KwaZulu-Natal is Suid-Afrika se tweede grootste in terme van die grootte van sy ekonomie.
Sedert 2010 het KwaZulu-Natal ‘n gesonde bankbalans gehandhaaf.
Die besparingsmaatreëls wat vroeër deur Cronje, LUR vir finansies aangekondig is, sluit ‘n moratorium op nie-kritieke poste, ‘n hersiening van die personeelorganogramme, beperkte oorsese en lugvervoerreise, verlaagde motorvoertuigverhuringsklasse, en amptenare wat so veel as moontlik op oornaghotelbesprekings bespaar.
Cronje het spyseniering vir vergaderings gestaak, en jaareindefunksies moet nou deur personeel self betaal word, terwyl alle promosiehemde, -pette en -sakke gestaak is.
Die koning sal reise nasionaal en in die buiteland onderneem as ‘n ambassadeur vir KwaZulu-Natal.