Vuil taal, bloedskande en armblankes

Deel op

ImageEk het onlangs 'n voorskou van die rolprent Triomf te siene gekry, wat gebaseer is op Marlene van Niekerk se boek met dieselfde naam. Vir diegene wat moontlik nie die boek gelees het nie, die volgende ter agtergrond:

Deel op
Triomf is die storie van 'n gesin armblankes, die Benades, van die woonbuurt Triomf, die voormalige Sophiatown. Dit speel kort voor die 1994-verkiesings in Suid-Afrika af. Die Benades is uit en uit ploerte, en skokkende gebeure vind in die huishouding plaas. Later in die boek word die familie se groot en skandelike geheim onthul. Die Benades se vrees vir die nagevolge van 27 April 1994, wanneer diegene waarna die Benades as "kaffers" verwys, die land in chaos sou dompel, word deurlopend as belaglik en agterlik afgemaak.

Die rolprent is die werk van die Zimbabwiese rolprentmaker, Michael Raeburn. Raeburn het tydens sy inleidende toespraak by die rolprent se voorskou te Montecasino, natuurlik die gewone snert gebesig oor hoe alle Suid-Afrikaners bevry is deur die 1994-verkiesings, blankes inkluis. Dit het my maak wonder waarom Mnr Raeburn, wat so 'n hekel aan 'n blanke regering het, nie sy kuns in Harare beoefen nie. Suid-Afrika het steeds oorblyfsels van daardie gehate vorige regering, soos 'n indrukwekkende padnetwerk en elektrisiteit wat dan en wan aangeskakel word. Zimbabwe is tog veel meer van 'n verteenwoordigende swart land, iets waaroor Mnr Raeburn so gejuig en jubel het in 1994. Waarom nie daar, in 'n Afrika-paradys, gaan rolprente maak nie?

Een van die groot temas in die boek is dat blankes deur 'n swart bewind bevry is, en dat die blanke vrese van destyds eintlik belaglik was: "Kyk, daai dom Afrikaners gaar blikkieskos op. Ha-ha-ha!" Die Benade-gesin, wat bestaan uit ingeteelde verstandelik gestremdes, voer hierdie vrees natuurlik tot belaglike uiterstes.

Raeburn, synde 'n Zimbawiër wat geen snars Afrikaans verstaan nie, het egter geen gevoel vir die meer subtiele anti-Afrikaanse momente in die boek nie, en die feit dat hy die agterlike Benades se politieke oortuigings as die belangrike element aanbied in ons huidige konteks, veroorsaak dat die toeskouer langsamerhand gedwing word om die karakters as byna simpatiek te ervaar ten spyte van hulle erge tekortkominge. Die regisseur, te oordeel aan sy insiglose toesprakie, is salig onbewus van hierdie skryende ironie wat hy deur sy eie gebreke geskep het.

Een van die karakters in die boek en die rolprent, Lambert, koop op 'n stadium onwettig 'n rewolwer by 'n swartman, vir wanneer dinge handuit ruk in Suid-Afrika. Dit was miskien op 26 April 1994 vir liberaalgesindes 'n onsinnige vrees en Lambert is 'n objek van hoon en spot in beide die boek en die rolprent, maar 14 jaar en 30 000 dooie blankes later, is dit duidelik dat Lambert se een politieke daad niks indien nie rasioneel was nie, gegewe die misdaadsyfer.

So ook wil die Benades na 'n ongenoemde bestemming iewers in die noorde vlug omdat dinge na hulle mening gaan warm word vir blankes in Suid-Afrika. Komies dat hierdie Afrikaner-gestremdes so dom kan wees, nie waar nie?

Sedert 1994 het daar egter reeds meer as 'n miljoen blankes presies dit gedoen. Dinge hét warm geword vir blankes met swart ekonomiese bemagtiging, misdaad en regstellende aksie wat menige blanke sy tasse laat pak het en na die noordelike halfrond maak vlug het. Professor Lawrence Schlemmer bereken dat een uit elke tien blankes deesdae te arm is om in 'n tradisioneel-blanke buurt te woon, grootliks as gevolg van swart rassisme teenoor blankes, vergestalt in praktyke soos regstellende aksie. Was die Benades se vrese wel so onrealisties en belaglik, 14 jaar later?

Die ander tipies linkse tema in die verhaal is: Blankes is ploerte, hulle pleeg grafiese bloedskande, steel, lieg en is minder beskaafd as 'n swart plakker. Daar is waarskynlik sulke blankes, maar dit was egter nóg  in 1994, nóg in 1974, en veral nie in 1930 nuus vir enige iemand nie. Trouens, van Niekerk is nie baie oorspronklik met haar tipering van sulke Afrikaners nie. In 1991 reeds het die stukke beter geskryfde /Beertjie en sy boytjies/ uit die pen van RR Ryger by Taurus-uitgewery verskyn wat Afrikaanse ploertskap na nuwe hoogtes geneem het. /Triomf/ het eers drie jaar later in 1994 die lig gesien.

Waar van Niekerk elke moontlike verskoning gebruik om Afrikaners in haar boek by te kom, het die regisseur Raeburn egter 'n film gemaak wat alle blankes verguis. Die rolprentweergawe is dus nie soseer anti-Afrikaans as anti-blank nie. Waarskynlik sonder dat die regisseur dit bedoel het, is veral Mol, die moeder, 'n verpersoonliking van 'n Engelse ploert omdat die aktrise se Afrikaans eenvoudig nie goed genoeg is om haar karakter oortuigend te speel nie.

Tewens, die spel in die film is oor die algemeen maar gemiddeld. Treppie, Lambert se pa/broer, is 'n ewe onoortuigende agterstraat Afrikaner. Sy gesigsuitdrukkings en hebbelikhede herinner ook te sterk aan die van 'n rowwe Rooinek en hy praat ook deurentyd soos sy moeder Mol, Afrikaans met 'n effense Engelse aksent.

Die rolprent word dus gereduseer tot 'n reeks tonele waarin onderskeidelik bloedskande gepleeg word, meer gesofistikeerde kleurlinge se vleisbraai ontwrig word, vreeslik gesofistikeerde lesbiërs oorkant die straat gedwing word om te verhuis, en die armsalige verafrikaansde Engelse gesinnetjie nie weet hoe om in 'n Spur op te tree nie. Kortom 'n namaaksel van die rolprent The Beverly Hillbillies in Afrikaans, met meer kru tonele as die Amerikaanse weergawe.

As vuil taal, bloedskande, en armblankes van Engelse oorsprong jou amuseer, gaan kyk die rolprent gerus. Indien nie, sou ek eerder Pixar se satire op vetsugtige Amerikaners, Wall-e, aanbeveel. Minstens kan die hele gesin laasgenoemde geniet.

игры девочкамФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.