Die slagofferskap van gays, vroue en swartes

Deel op
Charles Knipp is 'n vet, gay man van 45 wat 'n swart vrouekarakter genaamd Shirley Q. Liquor speel - gewoonlik voor ander gay mans
Die Amerikaner Charles Knipp is ‘n vet, gay man van 45 wat ‘n swart vrouekarakter genaamd Shirley Q. Liquor speel – gewoonlik voor ander gay mans. Dit word egter ook as ‘rassisties’ beskou.

deur Leon Lemmer

Daar is minstens drie groepe in die samelewing wat deesdae met erg oordrewe simpatie in die Westerse samelewing behandel word: gays, vroue en swartes. Dit word gedoen op grond van beweerde vorige benadeling. Ek gaan nie pleit vir ‘n ongewysigde terugkeer na die verlede nie. Wat nodig is, is dat hierdie soort vrugte van die hedendaagse veramerikaanste liberalisme met ewewigtige konserwatisme benader word.

Gays het weens misplaaste simpatie ‘n plek in die Westerse samelewing verwerf wat hulle nie naasteby verdien nie. Gaywees is ‘n verskynsel wat teen die grein van die samelewing ingaan, want as dit algemeen inslag vind, sou dit die einde van die mensdom beteken. Daar kan geredeneer word dat die mensdom liewer nie moet bestaan nie; dat alles pragtig “groen” sal word sodra alle mense verdwyn. Pleks van fatalisties sodanige idealistiese droom na te jaag, is dit myns insiens beter om die bestaan van die mensdom te aanvaar en die samelewing te probeer hervorm, hoe moeilik dit ook al is. Gaywees is besig om onrusbarend toe te neem. Selfs beperkte resultate sal ‘n verbetering van die huidige situasie wees.

Gaywees kan aangebore of aangeleer wees. Dit is die omvang wat die aangeleerde vorm aanneem wat my tot droefheid stem. Sodra iets in die mode is, is daar baie mense wat daardie toestand nastreef. Mense wil nie verstok voorkom nie. Hulle wil eerder op die snypunt van gebeure wees. Hulle soek aanvaarding en erkenning deur saam met die stroom te beweeg. Deur gay te word, of voor te gee om so te wees, dink sulke mense dat hulle hulle beeld verbeter en voordele gaan pluk.

Die aangebore vorm van gaywees kan op simpatie aanspraak maak, maar dan as ‘n afwyking van die norm, soos in die geval van ‘n kreupele of iemand wat hakkel. Net soos die beweging van die kreupele of die spraak van die hakkelaar nie ‘n nastrewingswaardige voorbeeld daarstel nie, moet die gaymens se seksuele gedrag nie tot normaliteit verhef en sy/haar gedrag nie as navolgenswaardige voorbeeld voorgehou word nie. Simpatie moet nie oordryf word nie, want die gevolg kan wees dat die gestremde nie hard genoeg probeer om deur eie inspanning nader aan (of tot by) die norm te kom nie.

Gedrag wat goed genoeg vir enkelinge is, is nie noodwendig goed genoeg vir almal nie. Private, diskrete geslagsverkeer tussen gays behoort (soos bordele) as ‘n duldbare euwel beskou te word. Daarmee word geen seën daaroor deur die breër gemeenskap uitgespreek nie. Deur gays toe te laat om formeel of amptelik te trou, is egter om te ver agteroor te leun. Gayhuwelike gee aan sodanige verhouding die skyn dat dit net so normaal soos ‘n heteroseksuele huwelik is, terwyl dit glad nie die potensiaal het om ‘n nageslag te verwek nie. Daar is ‘n fundamentele verskil tussen ‘n boorgat wat water gee en een wat droog is. Die een is ‘n potensiële bate vir die samelewing, terwyl die ander een geen breër bydrae lewer nie.

Een van die gevolge van die gayverskynsel is dat daar deesdae nie sonder meer aanvaar word dat daar net twee geslagte is nie. Ewewigtige konserwatisme vereis egter bevestiging van die onomstootlike feit dat daar inderdaad net twee redelik maklik identifiseerbare geslagte is. Werklike mengvorme van hierdie twee is so uitsonderlik dat dit nie as ‘n derde geslagsoort erkenning verdien nie. Dit bring my by feminisme.

Dit is ‘n feit dat vroue eeue lank as die swakkere of minderwaardige geslag beskou is. Maar kom ons dink ‘n oomblik na oor die gewone huislike situasie van ‘n getroude man en vrou. Dit is heeltemal moontlik dat die vrou meer ondernemend, vindingryk, emosioneel gebalanseerd, ens, as die man kan wees. Sy kan die sterkere en meerderwaardige vennoot in die huwelik wees. Dit sou verkeerd wees om haar negatief te etiketteer bloot omdat sy lid van die vroulike geslag is.

Maar dit sou insgelyks dwaas wees om vroue op grond van beweerde vorige benadeling as deurgaans beter as mans te beskou, soos militante feministe doen. Deesdae word dikwels van die standpunt uitgegaan dat vroue net so begaaf soos mans is, dat hulle die helfte van die mensdom is en dus die helfte van poste moet beset. Dit is ‘n kwantitatiewe benadering wat kenmerkend van bv die ANC is. Dit verduidelik die ousiefisering, oftewel versustering, van die openbare lewe in die nuwe Suid-Afrika. Sodanige “maklike” oplossing gee skynbaar voortreflike erkenning aan menseregte, maar die resultaat is nie noodwendig geregtigheid nie.

Wat nodig is, is om onderskeide by werk- en taaksoorte te tref. Vir sommige beroepe/take kan mans meer geskik as vroue wees, terwyl dit andersom in ander gevalle kan wees. Mans is dikwels/gewoonlik liggaamlik sterker as vroue; nie omdat mans bevoordeel en vroue benadeel is nie, maar omdat dit van nature of biologies so is. Mans is dus meer geskik as vroue om mynwerkers te wees. Insgelyks word soms beweer dat vroue psigies beter as mans toegerus is om kleuteronderwys te gee of maatskaplike werk te doen.

Naas die genoemde onderskeide by werk- en taaksoorte is dit nodig om individue se vermoëns of talente te evalueer. Op hierdie manier kan uitsluitsel verkry word oor watter individue vir watter poste die geskikste kandidate is. Dit is iets waaroor nie sonder meer geslagsgewys besluit kan word nie. Die sleutel tot ‘n rasionele uitkoms en geregtigheid is die objektiewe beoordeling van individuele meriete. Daar moet nie vooraf om ideologiese redes arbitrêr en veralgemenend besluit word mans of vroue is beter of albei geslagte is ewe goed nie.

Daar is ‘n doodgewone natuurlike rede waarom mans tradisioneel meer poste as vroue beset. Dit het niks met die benadeling van vroue deur mans te make nie, maar met Moeder Natuur se besluit dat net vroue geboorte kan skenk. Dit beteken op sy beurt dat baie vroue nie deurgaans in dieselfde mate as mans tyd en aandag aan ‘n beroep kan bestee nie. Beroepsbeoefening is nie noodwendig meerderwaardig in vergelyking met kinders grootmaak en opvoed nie. Aan die einde van hulle lewens besef baie bejaardes dat die aandag wat hulle aan hulle kinders en kleinkinders bestee het baie meer waarde het en groter genoegdoening verskaf as die materiële opbrengs van beroepsbeoefening. In die hedendaagse klimaat waarin baie mense naarstiglik soek na die opsigte waarin hulle benadeel is, kan mans ‘n sterk saak daarvoor uitmaak dat Moeder Natuur hulle benadeel het omdat hulle nie geboorte kan skenk nie.

Dit bring my by die derde groep wat op slagofferskap aanspraak maak, naamlik veral militante swartes. Hulle wil graag dié benadeeldes en dus ter kompensasie dié bevoordeeldes wees. In die VSA hou die swartes niks daarvan dat regstellende aksie ook bv die Native Americans (Indiane) en die Hispanics bevoordeel nie. In die nuwe Suid-Afrika tref ‘n mens ‘n soortgelyke afwysende houding by die swartes aan betreffende regstellende aksie ter bevoordeling van bruines en Asiate. Niks wat die ander slagoffergroepe deurgemaak het, kan volgens swartes naasteby vergelyk word met die mate waarin hulle weens slawerny, kolonialisme, imperialisme, rasse-segregasie en (die kersie op die koek) apartheid gely het nie. Hulle hoef glo niks meer te bewys nie. Daar word van “die stelsel” verwag dat swartes bevoordeel moet word sonder dat die nodige teenprestasie vereis word. Hulle glo dat al die euwels wat swartes getref het, ‘n enkele groepsoorsprong het, naamlik die bose wittes.

Die (teoretiese) gelykheid van alle mense word deesdae glad te dikwels as ‘n aksioma aanvaar. As dit in die praktyk lyk asof alle groepe nie ewe voortreflik funksioneer nie, is dit na bewering nie vanweë die ongelyke besit van talente nie. As dit lyk asof die swartes minder suksesvol as bv die wittes is, word dit toegeskryf aan die benadeling van swartes deur wittes. Die swartes beskou hulle dus as geregtig op skadevergoeding. Dit maak nie saak hoe lank gelede beweerde benadelende praktyke soos slawerny, kolonialisme en segregasie afgeskaf is nie. Dit is van geen belang dat dit vorige geslagte is (sommige van baie lank gelede) wat benadeel is nie. Waarop swartes aandring, is dat hulle huidige geslag en toekomstige geslagte swartes (skynbaar) onbepaald tot in die verre toekoms bevoordeel moet word, want dit is glo die nawerking van daardie ongure dade van wittes wat in die stelsel voortduur.

Dit is waarom bv Jacob Zuma halsstarrig voortgaan om apartheid (dus wittes) die skuld te gee as swartes se funksionering, bv by dienslewering, veel te wense oorlaat. ‘n Onrealistiese sug na geregtigheid veroorsaak dat swartes geregtig voel op behuising met spoeltoilette, water, elektrisiteit, televisie-ontvangs, munisipale dienste, ens, sonder dat volle (dus nie-gesubsidieerde) betaling vir hierdie voordele vereis mag word. Asof dit ‘n mensereg is, word daar verwag dat ander mense (bv wittes) vir die voordele moet betaal wat swartes geniet. Bevoordeling sonder teenprestasie is in werklikheid ‘n onding.

In Allan Bloom (1930-1992) se veel geprese blitsverkoper, The Closing of the American Mind (London: Penguin, 1988, 392p), word na Friedrich Nietzsche (1844-1900) verwys wat gesê het: “Inequality among men is proved by the fact that there is no common experience accessible in principle to all” (p 201). Bloom voeg by: “Equality … has no place for genius” (p 223-224). “In egalitarian society practically nobody has a really grand opinion of himself” (p 250). “A permanent feature of democracy, always and everywhere, is a tendency to suppress the claims of any kind of superiority” (p 329).

Met verwysing na swartes aan universiteite lys Bloom kenmerke soos “permanent quotas in admission, preference in financial assistance, racially motivated hiring of faculty, difficulty in giving blacks failing marks, and an organised system of grievance and feeling aggrieved” (p 95). Al hierdie euwels het hulle in oortreffende mate aan Suid-Afrikaanse universiteite ingeburger. “The fact is that the average black student’s achievements do not equal those of the average white student in the good universities, and everybody knows it. It is also a fact that the university degree of a black student is also tainted, and employers look on it with suspicion, or become guilty accomplices in the toleration of incompetence” (p 96).

Onderliggend aan bostaande is daar verskeie beginsels:

  • Mense dink noodwendig ingevolge veralgemening. Byvoorbeeld, as ‘n bepaalde groep misdaadgeneig blyk te wees, is ‘n mens geneig om liewer ander groepe te vertrou. As ‘n bepaalde groep hom histories as voortreflik bewys het, is daar die neiging om take eerder aan lede van daardie groep toe te vertrou. In die nuwe Suid-Afrika het ons die absurde situasie dat juis diegene met ‘n bewese rekord van voortreflike prestasie, naamlik die blankes en veral die blanke mans, indien enigsins moontlik uit poste gehou word. Geen wonder dienslewering is so pateties nie.
  • Individue binne groepe verskil. Individue moet dus nie uitsluitlik ingevolge hulle groepverwantskap bevoordeel of veroordeel word nie.
  • Bewustheid van wandade behoort met bewustheid van weldade gebalanseer te word. Byvoorbeeld, hoeveel erkenning kry blankes vir al die goeie wat hulle tot stand gebring het in vergelyking met die geweeklaag oor beweerde wandade wat hulle gepleeg het? Dit is gewoon vermetel om van slegs een groep, naamlik die wittes, te verwag om skuldig te pleit en verskoning te vra.
  • Moenie die huidige geslag verantwoordelik hou vir vorige geslagte se wandade nie. Aan wat reeds gebeur het, kan nie verander word nie. Ons kan wel sorg dat die hede beter as die verlede is en moontlik ook dat die toekoms beter sal wees. Een van die beste maniere om dit te doen, is om erkenning te gee aan en die nodige ruimte te skep vir diegene met ‘n bewese prestasierekord.
  • Simpatie is nie suiwer rasioneel gegrondves nie. Dit moet met gesonde oordeel gebalanseer word. As ‘n (wit) onderwyseres dit nodig vind om (swart) kinders te vermaan dat hulle hulle (meer) gereeld moet was, moet dit nie as rassisme veroordeel word nie, maar waardeer word as ‘n professionele en noodsaaklike deel van daardie onderwyseres se opvoedings- en opheffingstaak.
  • Geen groep of individu is volmaak nie. Daar is deesdae egter die neiging om groepe soos gays, vroue en swartes in die geheel en individue in daardie groepe deurgaans goed voor te stel. Wit mans, individueel en groepsgewys, daarenteen, mag nie net heftig gekritiseer word nie, maar ook bespotlik gemaak word. Enige groep of individu wie se gedrag nie op standaard is nie, behoort aan billike kritiek onderhewig te wees. Dit is die sleutel tot groeps- en individuele verbetering.

Hierdie skrywe handel oor drie groepe wat in Westerse geledere toenemend slagofferstatus verwerf het. Om hulle beweerde benadeling teen te werk, word al hoe meer maatreëls ingestel om van alle indiwidue in hierdie groepe bevoordeeldes te maak. In ewewigtige konserwatiewe geledere word tereg geprotesteer dat individue nie op grond van toevallige groepsverwantskap bevoordeel of benadeel moet word nie. Die status van ‘n individu behoort deur sy gedrag, dus deur sy gehalte as mens, bepaal te word. Op sy beurt bepaal (of beïnvloed) die gedrag van individue die aansien van die groepe waartoe hulle behoort. Naamsverandering van ‘n groep help nie vir lank as die gedrag van individue in daardie groep steeds veel te wense oorlaat nie. Dit is bewese prestasie en nie groepsverwantskap nie wat deurgaans erken behoort te word.

Die destruktiewe gevolge wat die bogenoemde slagoffergroepe in die samelewing het, word vererger deur die interne dinamika van hierdie verskynsel. Byvoorbeeld, ‘n indiwidu is nie net gay nie, maar ook ‘n vrou en daarby swart. So ‘n individu kan dus drievoudig op slagofferskap aanspraak maak. By implikasie word beweer dat so ‘n mens drievoudig benadeel is en dus drievoudig op bevoordeling aanspraak kan maak. Maar hoekom by drie ophou? Die persoon kan ook fisiekgestremd en vet wees, ensovoorts, en ook op grond daarvan dink dat sy benadeel word. Dit word ‘n multi-slagoffersindroom.

Wat hier gesê word, is nie vergesog nie. In Amerika is multi-slagofferskap reeds die alledaagse werklikheid waarmee almal teen wil en dank moet saamleef. In hierdie opsig vind wat in Amerika gebeur al hoe meer weerklank in Suid-Afrika. Hierdie onverkwiklike verskynsel kry toenemend momentum deurdat hierdie slagoffergroepe mekaar ondersteun en mekaar tot erger radikaliteit en maatskaplike ontwrigting aanspoor. Die amptelike erkenning wat hulle geniet en die propagandamasjinerie waaroor hulle beskik, blyk uit die feit dat talle Amerikaanse universiteite voor- en nagraadse kursusse in Gay, Women’s, Black, Disability en selfs Fat Studies aanbied. As u my nie wil glo nie, lees gerus Bruce Bawer se boek, The Victims’ Revolution: The rise of identity studies and the closing of the liberal mind (New York: HarperCollins, 2012, 400p; Amazon Kindle $11.99).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.