Swaar reën demp Krugerwildtuin, Oscar

Deel op

natDaar is nog geen einde in sig vir die deurdringende reën wat dae reeds oor die noordelike en oostelike dele van die land uitsak nie, het RSG berig.

Dit reën reeds ‘n week lank in Gauteng en Mpumalanga. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê inwoners van dié twee provinsies moet hul regmaak vir ‘n nat naweek.

Kanse vir reën wat oor Limpopo, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en Kwa Zulu-Natal sal uitsak Sondag is 80 persent.

Die Nasionale Krugerwildtuin het die hek by Krokodilbrug en vier ander kampe weens oorstromings gesluit.

Volgens ‘n woordvoerder van die wildtuin, William Mabasa, word die meeste paaie en brue in die suide van die wildtuin geraak deur vloedgevaar en is dit gesluit om moontlike ongevalle te voorkom.

Die swaar reën in Pretoria sal waarskynlik lede van die publiek ontmoedig om die Oscar Pistorius-verhoor by te woon.

Die saak word Vrydagoggend halftien in die Noord-Gautengse hooggeregshof hervat. Mense het Donderdag sowat drie banke in die aangrensende hofsaal volgesit, maar minder word Vrydag verwag.

Die nat toestande bied ook tegniese uitdagings vir fotograwe en die uitsaai-media van regoor die wêreld. Die sewende staatsgetuie, dokter Johan Stipp sal binnekort verder kruisondervra word.

Intussen word berig dat Michelle Burger en haar man Charl Johnson die meeste aandag in die aanlyn-media kry. Volgens die media monitoreringsmaatskappy, Data Driven, kry die egpaar sowat 70 persent van die aandag.

Die twee was lank in die getuiebank en het onder kruisondervraging deurgeloop. Kevin Lerena, wat getuig het oor die voorval toe Pistorius ‘n vuurwapen in ‘n restourant laat afgaan het, het elf persent media aandag gekry.

Dr. Johan Stipp se getuienis oor hoe Pistorius Reeva probeer bybring het, het agt persent gekry.

Die media gebruik ook die woord skuldig, met verwysing na die saak, tien keer meer as onskuldig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.