SA, Zimbabwe vaar teen media uit

Deel op

Image

Joyce Mujuru

Terwyl ’n geheime vergadering tussen die ANC-bewind se adjunk-president, Phumzile Mlambo-Ngcuka, en haar Zimbabwiese eweknie, Joyce Mujuru, in ’n Johannesburgse hotel plaasgevind het, het beide regerings steeds uitgevaar teen mediadekking van die krisis in Zimbabwe en magte van buite wat “regime-verandering” in die land probeer bewerkstellig.

Die besoek van Joyce Mujuru het tot spekulasie aanleiding gegee dat sy die ANC-bewind mag vra om haar te help om Mugabe uit te werk. Sy en haar man, genl. Solomon Mujuru, word as twee van die magtigste mense in Zimbabwe beskou, maar het blykbaar in onguns by Mugabe verval weens hul ambisie om hom te onttroon.  Mujuru het sy vrou na Suid-Afrika vergesel en albei gaan volgens berigte in die luukse Westcliff-hotel in Johannesburg tuis.

Deel op

Tot dusver het die ANC-bewind vyandig teenoor Zimbabwiese opposisiegroepe gestaan en dis bekend dat die party sou wou sien dat ZANU-PF, ’n “susterbevrydingsbeweging” soos die party al na laasgenoemde verwys het, die land aanhou regeer. Die moontlikheid bestaan dus dat die ANC ’n paleisrevolusie van binne ZANU-PF teen Mugabe sou kon steun.

Sowel die ANC-onder-minister van buitelandse sake, Azziz Pahad, as die Zimbabwiese inligtingsministerie het teen buitelandse joernaliste uitgevaar. Die Zimbabwiese inligtingsministerie het joernaliste, waaronder twee Britse korrespondente, gewaarsku dat die “regering dalk gedwing mag word om teen hulle op te tree” en het die Amerikaanse uitsaaier CNN daarvan beskuldig dat hy sy regering se beleid van “bewindsverandering” in Harare ondersteun.

Pahad van die ANC het gister op sy beurt gesê dat daar “’n mate van geloofwaardigheid” aan bewerings kleef dat “magte van buite” poog om ’n bewindsverandering in Harare te bewerkstellig en hy het die Suid-Afrikaanse media van vooroordeel in hul beriggewing oor Harare beskuldig.

Volgens hom is die Suid-Afrikaanse media “te sensasionalisties” in hul verslaggewing oor Zimbabwe en wy hulle “massiewe dekking aan die sienswyses van Westerse regerings.

Pahad het gesê dat die huidige krisis in Zimbabwe vermy kon gewees het indien Europa, die Verenigde State en Suid-Afrika ’n gemeenskaplike benadering tot die land se probleme gevolg het.

“Die deure sou nie toe gewees het nie” en dialoog met die regering van president Robert Mugabe sou voortgegaan het, het Pahad aan verslaggewers in Pretoria verklaar.

In antwoord op kritiek tuis en oorsee omdat die ANC-bewind in gebreke gebly het om Mugabe se onderdrukking van politieke opposisie regstreeks te kritiseer, het hy gesê: “Dis nie ons voorneme om militante uitlatings te maak om onsself goed te laat voel en om regerings buite die kontinent tevrede te stel nie. Slegs dialoog tussen die verskillende politieke partye in Zimbabwe kan die huidige dooiepunt oplos.”

Pahad het ook die Australiese regering gekritiseer wat ’n beroep gedoen het dat Suid-Afrika se ANC-bewind meer moet doen om die krisis op te los. “Dit is sinneloos vir die Australiese premier om ons te vra om ‘meer te doen’ sonder om te sê wat presies hulle wil hê Suid-Afrika moet doen. Daar is heeltyd vir ons gesê ons sing van dieselfde bladmusiek af, maar dit lyk nou asof ons in verskillende orkeste speel.”

’n Zimbabwiese opposisiefiguur het ook ’n beroep op Westerse moondhede gedoen om hulself van inmenging in die land se politieke krisis te weerhou.

“Die enigstes met die nodige morele gesag om oor Zimbabwe te praat, is Afrikane, het die faksieleier van die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), Arthur Mutambara Vrydag in Johannesburg gesê.

“Ons waardeer die ondersteuning van Westerse moondhede, maar die dubbele standaarde van die Weste ondermyn ons stryd,” het hy aan tydens ’n seminaar oor Zimbabwe wat deur die Kongres van Suid-Afrikaanse Vakverbonde (COSATU) georganiseer is, gesê.

Mutambara, wat leier is van ’n faksie binne die MDC wat gekant was teen die party se besluit om aan die senaatsverkiesings van 2005 deel te neem, het ook gesê dat eenheid in opposisiegeledere ’n sleutelelement in die “bevryding” van Zimbabwe van Mugabe se heerskappy is.

“Dis ’n groot tragedie dat ons steeds twee faksies binne die MDC het. Een van die basiese lesse is dat ons nêrens sonder eenheid gaan kom nie,” het hy gesê.

светильники потолочные светодиодныеАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.