Georganiseerde misdaadsindikate wat Durbanse hawens gebruik, gaan beteken dat die stad die middelpunt van dwelmhandel in Suider-Afrika word, het RSG berig.
Die direkteur van die Internasionale Narkotika Beheerraad, Lochan Naidoo, het die organisasie se jaarverslag in Durban bekendgemaak.
Dagga, heroïen, crack, tik en kokaïen is die dwelmmiddels wat die meeste in Suid-Afrika gebruik word.
Dit is die eerste keer dat Durban genoem word in die raad se ontleding oor dwelmhandel regoor die wêreld.
Naidoo sê hulle kry die afgelope tyd al hoe meer berigte van beslagleggings by die Koning Shaka-lughawe van kokaïene wat uit die Golf-state afkomstig is.
Hy sê bouwerk aan die Durbanse hawe en die onvermoë om te bepaal wanneer vermeende dwelmbesendings verwag word bemoeilik sake.
Volgens Naidoo word lande waar dwelmhandel plaasvind uiteindelik dwelmverbruikers.