Oscar-sirkus begin

Deel op

oscargirl‘n Groot aantal joernaliste van Westerse mediamonopolië het die staatsaanklaer in die Oscar Pistorius-moordverhoor ingewag kort voor agtuur Maandagoggend by die Hooggeregshof in Pretoria.

Die sirkus in die hofsaal sal regstreeks op televisie en radio uitgesaai word. Die saak trek wêreldwyd aandag en groot gedeeltes van die hofverrigtinge sal te siene wees soos dit ontvou.

Die 27-jarige Olimpiese atleet se hofverrigtinge begin om tienuur. Buite-uitsendingseenhede en tente het soos paddastoele in Madibastraat in die Pretoriase middestad verrys.

Die verkeersowerhede in Pretoria het motoriste gewaarsku dat hulle verkeersontwrigtings in die omgewing van die Hooggeregshof te wagte kan wees. Die saak is vir ten minste drie weke op die hofrol geplaas.

Die wit gestremde sportster se skuld of onskuld sal afhang van hoeseer die regter die onaanvaarbare hoë vlakke van misdaad in Suid-Afrika in ag neem.

Pistorius voer aan dat hy Reeva Steenkamp as ‘n inbreker aangesien het toe hy haar op 14 Februarie, Valentynsdag, verlede jaar in sy huis doodgeskiet het.

Die staatsaanklaer Gerrie Nel sal die staat se saak lei teen die atleet wat teregstaan vir die moord op sy vriendin, Reeva Steenkamp.

Meer as 300 plaaslike en internasionale joernaliste sal die saak volg. Die minister van Sport, Fikile Mbalula het intussen gevra dat die reg sy gang gaan. Hy sê elke aangeklaagde is onskuldig totdat hy of sy skuldig bewys kan word.

Die verdediging se advokaat, Barry Roux, en sal teen Nel te staan kom. Die saak sal deur die swart regter Thokozile Masipa gehoor word.

Reeva se pa, Barry Steenkamp, sal weens gesondheidsredes nie die verhoor bywoon nie. Ander familielede, waaronder haar ma, June, sal wel teenwoordig in die hofsaal wees.

Pistorius se regspan onderhandel nog met die Steenkamps oor ‘n multimiljoenrand-eis wat die Steenkamps teen die atleet ingedien het weens ‘n verlies aan inkomste.

Joernaliste is gevra om nie te praat met die regter of die regslui betrokke in die Hooggeregshof in Pretoria nie.

‘n Woordvoerder van die Kantoor van die Hoofregter, Lulama Luti, het aan die media gevra om nie met hulle te praat nie en verslaggewers beveel om nie foto’s van die hofsaal te neem met selfone of tablette nie.

Nathi Ncube, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het aan die media in die openbare galery gesê hulle sal nie die meriete van die saak bespreek nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.