Nuwe petisie oor Clive Derby-Lewis na aanval op hom en Walusz

Clive Derby-Lewis
Deel op
Derby-Lewis
Derby-Lewis

Die nuwe politieke party, Front Nasionaal, het ‘n petisie vir die vrylating van Clive-Derby Lewis op parool geloods. Dít kom ná die aanval deur ‘n swart gevangene op Derby-Lewis,78, en sy medegevangene Janus Walusz waarin Derby-Lewis se linkerarm gebreek is.

Derby-Lewis het met sy arm die steekslae van sy aanvallers probeer keer. Hulle is van agter af met skerpgemaakte lepels aangeval. Derby-Lewis is ‘n voormalige parlementslid van Suid-Afrika vir die Konserwatiewe Party.

Die voorval het in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria plaasgevind. Sy vrou, Gaye, het aan ‘n Johannesburgse dagblad gesê: “Dit gaan in die omstandighede goed met hom. Ons grootste vrees is dat hy infeksie in sy steekwonde sal opdoen.”

Derby-Lewis het ook steekwonde aan sy gesig opgedoen.

Die departement van korrektiewe dienste het in ‘n verklaring deur Manelisi Wolela laat weet: “Die oortreders Clive Derby-Lewis en Janus Walusz is deur ‘n ander oortreder met ‘n kombuislepel aangeval.”

“Hulle het wonde aan hul koppe en hande by die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum opgedoen,” het die woordvoerder voorts gesê.

Hulle is aanvanklik deur die gevangenisverpleegsters behandel en daarna na die Kalefong-hospitaal verwys waar ‘n X-straal aangetoon het dat Derby-Lewis se arm gebreek is.

‘n Klag van poging tot moord is by die polisie ingedien.

Derby-Lewis het reeds twee keer om parool aansoek gedoen, in 2011 en 2012. Hoewel hy reeds meer as 20 jaar in die gevangenis is en deur die DKD vir parool aanbeveel is, weier die ANC-regering en die minister van korrektiewe dienste om dit finaal goed te keur.

Derby-Lewis is tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens sy aandeel in die moord op die kommunistiese leier, Chris Hani in 1993. Janus Walusz, ‘n Poolse Suid-Afrikaner, het die sneller getrek. Hani het self ‘n bloedige kerfstok gehad en was verantwoordelik vir verskeie bloedige terreuraanvalle op Suid-Afrika.

Hoewel albei in dié onstuimige tydvak om politieke redes gehandel het, het die Waarheids- en versoeningskommissie onder biskop Desmond Tutu kwytskelding aan die twee konserwatiewe politici geweier. Tutu het egter amnestie aan die APLA-lede wat ‘n massamoord op onskuldige kerkgangers van die St. James-kerk in Kaapstad verleen. In dié aanval met handgranate wat met spykers gemeng is en masjiengewere is elf mense dood en ses-en-vyftige beseer.

Dr. Dan Roodt, onderleier van Front Nasionaal, het gesê: “Die dubbele standaarde en verontmensliking waaraan sowel Derby-Lewis as Walusz blootgestel word, is eenvoudig skreiend. Walusz was ‘n Poolse Suid-Afrikaner wat in Pole gesien het tot watter wreedhede kommuniste in staat is. In die vroeë negentigerjare het Boris Jeltsin byvoorbeeld onthul hoe die Russiese kommuniste 22 000 Poolse leiers en offisiere in die Katynwoud laat uitmoor het en dekades lank die skuld op die Duitsers gepak het. Sy vrees vir kommunisme moes dus as ‘n versagtende omstandigheid in ag geneem gewees het. Die voortgesette aanhouding van Derby-Lewis en Walusz verteenwoordig een van die grootste onregte van die nuwe Suid-Afrika. Derby-Lewis veral verdien weens menslikheidsredes om onmiddellik op parool vrygelaat te word.”

Lede van die publiek word aangemoedig om die petisie op die webblad van Front Nasionaal te onderteken, waarna dit aan die minister Sibusiso Ndebele oorhandig sal word. ‘n Betoging vir sy vrylating word ook voor die gevangenis beplan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.