Gemartel, gewurg en vir dood agtergelaat

Deel op
Chaney Weyers
Chaney Weyers

Petro Weyers, 66, van Louis Trichardt (Makhado) sê sy is dankbaar dat haar sesjarige kleindogter, Chaney, nog lewe.

Die twee is verlede Donderdagoggend (6de) wreedaardig deur swartes aangeval in ‘n huisroof by Petro se woonstel in die Kismet-kompleks in Andersonstraat. Die aanval het plaasgevind presies ‘n week voor Petro se 66ste verjaardag op 13 Februarie.

Die Zoutpansberger het Petro minder as vier ure ná die aand se skokgebeure by haar woonstel gevind. Bebloed en steeds in skok het Petro dapper die skriknag se gebeure herleef, terwyl die klein blondekop Chaney ongesteurd eenkant gespeel het. Dit was egter moeilik om die bloukolle op haar gesiggie mis te kyk, asook die dik, rooi vingermerke om haar nekkie soos haar aanvaller haar gewurg het.

Petro, Chaney se voog, het omstreeks 23:00 die vorige aand wakker geword van ‘n geraas. Sy het opgestaan en Chaney, wat saam met haar in haar dubbelbed geslaap het, wou dadelik weet wat is fout. Petro het al die ligte in die huis aangeskakel, maar kon niks verkeerd vind nie. Al die deure was gesluit en die twee het rustig weer gaan slaap. Omstreeks 01:30 is hierdie rustigheid verpletter.

“Ek het wakker geword met hande om my keel en ‘n man wat wydsbeen bo-op my sit … daar was ook een op haar [Chaney] … Die maerder een het op haar gesit, maar hy was ‘n baie wrede een,” sê Petro.

In die donker van die kamer was Petro en klein Chaney se aanvallers se gesigte niks meer as swart silhoeëtte teen die dowwe lig deur die toegetrekte gordyne nie. Petro se aanvaller het vlot Afrikaans gepraat, maar het Engels met sy makker gepraat.

Drie keer het Chaney smekend uitgeroep: “Ouma! Ouma! Ouma!” Elke keer het Chaney se aanvaller haar deur die gesig geklap en gewurg met die woorde: “Shut up! Shut up!” “Daar is steeds ‘n wroeging in my hart dat Chaney gedink het ek wou haar nie help nie, maar ek kon nie …” sê Petro.

Ná Chaney se derde angsroep om hulp – met haar aanvaller se hande styf om haar nekkie soos hy die lewe uit haar probeer wurg het – het haar stem stil geword. Die man het haar opgetel en haar lyfie op die vloer gegooi.

“Ek het gedink my kind is dood,” sê Petro. Dan oorval die emosie haar weer en begin sy onbeheersd huil. “Ek het baie gebid … O, ek wil dit nooit weer deurleef nie…” prewel sy die woorde uit.

Die aanvaller op Petro het ‘n mes uitgepluk en kort-kort teen haar nek en sy gedruk. Ses keer het hy haar gewurg, telkens net tot voor sy haar bewussyn verloor. Dan het hy sy greep verslap sodat sy weer kon asem skep, net om haar weer te wurg. Kort-kort het die man wat pas vir Chaney gewurg het, oorgeleun en vir Petro met die vuis in die gesig geslaan. Hierdie marteling het vir bykans twee ure aangeduur.

“Hulle het aanmekaar gevra ‘Waar is die wapens?’ dan sê ek ‘Ek het nie’, dan vra hulle weer ‘Waar is die geld?’ dan sê ek ‘Ek het nie’. Ek het ‘n R1 200 in my beursie gehad … hulle het dit gevat,” vertel Petro, terwyl die trane oor haar wange rol. Sy wys dan na haar hande en arms. Dit is vol diep snye wat veroorsaak is toe haar aanvallers haar ringe, horlosie en armbande van haar afgeruk het. Sy sê sy slaap altyd met haar juwele aan.

In ‘n stadium het die twee eers Petro se bene vasgebind, asook haar hande. Daarna het hulle een van Chaney se vuil slaapbroeke gevat, opgerol en ‘n knoop daarin gemaak. Hulle het die knoop in haar mond gedruk en die slaapbroek om haar kop vasgemaak. Daarna het hulle met gordyntou uit Petro se studeerkamer haar hande styf om haar nek vasgedraai en vasgebind. Asof dit nie genoeg was nie, het hulle ‘n laken om Petro se kop gedraai en haar met kussings en komberse toegepak op haar bed. Sy kon beswaarlik asemhaal en wou kort-kort haar bewussyn verloor.

“Gelukkig kon ek met my vingers die lap uit my mond kry, anders het ek versmoor,” sê Petro. Intussen is haar kamer en die res van die huis geplunder.

Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het dit skielik stiller geword. “Ek het so ‘n halfuur gelê, toe roep ek ‘Chaney? Chaney?’ … toe kom sy by.”

Chaney het opgestaan en haar ouma tot in ‘n sittende posisie gehelp. Haar klein handjies was egter nie sterk genoeg om die toue om haar ouma se nek los te woel nie. Sy kon wel die tou om Petro se bene loskry, sodat Petro een voet kon uitkry. Hierna het klein Chaney, vreesbevange en nie eers seker of hul aanvallers nog in die huis was nie, na die studeerkamer gestap en die telefoon gaan haal, aangesien Petro se selfoon ook gesteel was. Petro kon toe haar broer, mnr. Johnny Gouws, skakel. Dit was ongeveer 03:30.

“Sy [Chaney] het vir my die nommers gedruk. Sy is my held! Sy het ons lewens gered. Ouma is trots op jou!” sê Petro terwyl sy na klein Chaney kyk. Weer rol die trane.

Johnny en sy seun het hulle na die woonstel gehaas. Daar aangekom, is die polisie ontbied.

“Ons het eers om die woonstel geloop en toe kom ons in. Toe maak ek haar los, want sy was vas, vas, vas! Sy sou in haar lewe nie daardie tou afkry nie,” sê Johnny. Hy sê hy het amper 10 minute gesukkel om Petro los te kry. Haar toestand was vir hom ‘n groot skok, maar immers het sy suster en klein Chaney nog gelewe.

“Dank die Here ons altwee lewe, my kind lewe! Ek was bang sy was dood. Toe ek so lê en ek hoor haar nie, toe dink ek sy is dood … dit sou my dood beteken het,” sê Petro. Sy het geen twyfel daaroor dat hul aanvallers aangeneem het dat nie een van hulle die aanval sou oorleef nie.

Die polisie was redelik vinnig op die toneel, maar het klaarblyklik geen verklarings afgeneem of die misdaadtoneel afgesper voordat hulle weer gery het nie. Vrae hieroor en ander vrae, soos hoe die aanvallers toegang tot die woonstel verkry het, bly steeds onbeantwoord. Geen diefwering is geknip nie en al die deure was gesluit na die aanval. Een van die buitedeure se sleutel was egter vermis, alhoewel dit nog die vorige aand daar was.

Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisie woordvoerder, is gevra waarom daar nie tydens die polisie se eerste besoek verklarings geneem is of die area afgesper is nie. Sy het gesê dat die polisielede wat eerste op die toneel was weliswaar die toneel moes beveilig het, totdat die misdaadtoneelbevelvoerder die toneel kom oorneem het. “As dit nie gebeur het in hierdie geval nie, dan sal daar ‘n volledige interne ondersoek wees. Sou daar verkeerde optrede gewees het, kan dissiplinêre stappe geneem word,” het Otto gesê. Die polisie het wel later die oggend die toneel besoek, goeie vingerafdrukke gekry en verklarings afgeneem. Teen druktyd was daar nog geen arrestasies in die saak gewees nie, alhoewel die polisie steeds besig was met ‘n intensiewe ondersoek na die voorval.

Bron: Soutpansberger

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.