Vragmotor met plofstof was onderweg na Zambië

Deel op

n1polokwaneDie minister van Polisie, Nathi Mthethwa, sê die vragmotor met plofstof wat opgeblaas het en die lewens van vier polisielede en ‘n bestuurder geëis het, was onderweg na Zambië.

Die plofstof was na Beitbrug-grenspos onderweg waar talle myne is.

‘n Ander vragmotor wat kruideniersware vervoer het op die N1-hoofweg tussen Polokwane en Mokopane het in die vragmotor vol plofstof vasgery.

Die vragmotor wat slagdoppies vervoer het, het daarna aan die brand geslaan en ontplof. Forensiese deskundiges het die toneel gefynkam van die twee uitgebrande voertuie.

Die vier polisiebeamptes is dood toe hulle die bestuurders te hulp gesnel het. Drie ander is beseer en in die hospitaal opgeneem.

Mthethwa en die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, het hulle in die hospitaal besoek en amptelike verklarings oor die ongeluk uitgereik.

Die polisie stel ondersoek in na die oorsaak van die ongeluk.

Die N1 tussen Mokopane en Polokwane sal tot verdere kennisgewing gesluit wees.

‘n Yslike krater langs die pad is deur die ontploffing veroorsaak wat kilometers ver gehoor kon word.

Die verkeersowerheid in Limpopo sê daar sal vandag bepaal word of die pad veilig is om te gebruik. Motoriste moet van die R 101 as alternatiewe roete gebruikmaak.

Die name van die slagoffers is nog nie bekendgemaak nie. Die drie beseerde polisiebeamptes word in die Polokwane Medi-Clinic behandel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.