Bakkies: Isuzu of Mitsubishi?

Deel op
Die Isuzu KB 300 D-TEQ LX 4x4-dubbelkajuit
Die Isuzu KB 300 D-TEQ LX 4×4-dubbelkajuit

deur André Olivier

General Motors het in 2013 met ‘n groot terugvegpoging begin waar hulle al die produksielyne onder die GM-vaandel bietjie reggetrek, en van die dooie hout ontslae geraak het.

Onder andere het die Opel Corsa-bakkie die nuwe Chev Utility geword; ander Opel-modelle het nuwe enjins en ‘n kleiner modelreeks tot gevolg gehad. Chev het weer ‘n groter modelreeks bygekry met die koms van die Trailblazer en ook die Cruze-luikrug. Een van die staatmakers vir GM in Suid-Afrika was nog altyd die Isuzu-reeks. Hoekom GMSA nie die Trailblazer as die nuwe Isuzu Frontier plaaslik verkoop nie gaan ons verstand te bowe? Met al die sukses wat hulle in die jare negentig gehad het met die vorige generasie Frontiers sou dit baie meer sin gemaak het as om ‘n heel nuwe marksegment vir Chevrolet  met die Trailblazer te betree. Die langverwagte Isuzu KB-reeks het dan ook sy verskyning op plaaslike paaie in 2013 gemaak. In werklikheid is die KB net ‘n bakkieweergawe van die Chev Trailblazer of is dit nou andersom?

Die Trailblazer is slegs met een enjin beskikbaar waar die KB-reeks drie enjinopsies het. Daar is altesaam 17 verskillende spesifikasie opsies beskikbaar in die KB-reeks wat wissel van ‘n KB 240 LE 4×2 tot by die KB 300 D-TEQ LX 4×4-dubbelkajuit. Ons toetsmodel is juis die handratweergawe van die vlagskipmodel in die reeks. Ons het ook laat verlede jaar die splinternuwe Mitsubishi Triton 2.5 Di-D vir ‘n paar dae gery en gedink ons tref sommer ‘n vergelyking tussen die twee voertuie.

Bakwerk

Die Mitsubishi Triton
Die Mitsubishi Triton

Van voor gesien vertoon die KB vlymskerp en doelgerig, sagte rondings om die neus en wielboë met aggressiewe hardebaardspiere. Die deurhandvatsels en kant spieëls is blink, wat mooi aansluit by die ewe blink sierrooster en so ‘n tikkie luuksheid aan die bakkie verleen. Dit klink eintlik snaaks nè, luuksheid in ‘n bakkie, maar deesdae is die rygoed ook nie meer heeltemal so plaas soos die volksnaam “bakkie” wil voorgee nie. Veral in dubbelkajuitvorm het die tradisionele bakkie eintlik al ‘n alledaagse ryding geword en is veral baie gesog op die voorstedelike paaie. Boere verkies nog steeds om ‘n regte bakkie met ‘n enkelkajuit of deesdae die een-en-ń-halfkajuitbakkies aan te skaf.  Met die korter bak as die enkelkajuitbakkies is die laairuimte minder, maar die drakrag is byna dieselfde; die Isuzu kan 1048 kg dra. Daar is rubberomhulsel op die bak en die agterste klap maak netjies met ‘n silwerkleurige handvatsel oop. Daar is ook ‘n klein skuifruitjie aan die agterkant van die kajuit wat maklike toegang bied tot die bak sou daar ‘n kappie op die bak wees. Wat die Mitsubishi Triton betref, lyk die nuwe Triton nog net so vars en heel anders as enige ander bakkie op die pad. Klein veranderinge aan die sierrooster en stampers asook die wiele en kantspieëls laat die nuwe Triton nog varser vertoon.

Binneruim

Die Isuzu se binneruim
Die Isuzu se binneruim

Beide die Isuzu en die Triton is meer leefstylbakkies as werkesels, maar maak jy die deur oop dan is daar verskeie aanduidings dat die Japannese nog heelwat agter die Europeërs is wanneer dit by luukse leefstylvoertuie kom. Nie een van die twee bakkies se binneruime kan kers vashou by dié van die VW Amarok nie. Daar is wel leer: ‘n donker sjokoladekleur in die Isuzu en ‘n stylvolle swart leer in die Triton, maar die algehele gevoel is net nie in dieselfde klas as dié van die Duitser nie. Die donkerbruin bekleedsel in die Isuzu het bietjie onvanps gelyk met die swart matte en die dowwe swart plastiekinsetsels in die deure waar die Triton se swart bekleedsel sonder tierlantyntjies stylvol voorkom.

Die Triton se binnekant
Die Triton se binnekant

Voetspasie vir die bestuurder in die Isuzu is ook meer gemaklik as dié in die Triton. Beenspasie agter is heelwat beter as in die vorige generasies, maar weereens is dit die Triton wat ons verbaas het. Van buite lyk die Triton kleiner, seker omdat die C-pilaar so skerp na bo sny hier agter die agterste deure, maar binne is daar hope spasie vir die agterste insittendes. Alle instrumente in beide die bakkies is duidelik en maklik leesbaar. Die kontroles vir die radio en bloutandtelefoon op die stuurwiel van die Triton is makliker om te beheer as dié van die Isuzu. Die Triton het ‘n ligte oop gevoel van agter die stuur waar die Isuzu ‘n swaar donker gevoel het. Ek kon ook nooit sien hoe naby die Isuzu se neus aan die motor voor my of die motorhuismuur is nie, waar die Triton se kort neus baie makliker parkeer. Iets wat baie gemaklik is in die Triton is die feit dat die agterste ruit tussen die kajuit en die bak elektronies kan oop en toe maak.

Rygerief

Die Triton se beenruimte
Die Triton se beenruimte

Mens verwag deesdae dat alle leefstylvoertuie net so gemaklik soos motors moet ry.  Wel, bakkies is maar bakkies en beide die KB en die Triton ry soos bakkies. Isuzu’s was nog altyd bekend daarvoor dat hulle sagter as die res van die bakkies ry, maar ons het werklik hierdie nuwe Isuzu baie hard en moeilik gevind om te bestuur. Veral wanner die roteerknop tussen die sitplekke op 4H gestel is. Dit voel asof die voertuig nie kan wegkom nie, so asof jy met die handrem opgetrek probeer ry. Dan praat ons nie eers van die draaisirkel nie. Die Triton aan die ander kant is veerlig en 100% makliker om te beheer, te draai en te parkeer. Die Isuzu voel en bestuur soos ‘n bakkie uit die 1990s waar die Triton baie naby kom aan die segmentleier, die Amarok. Ratskakeling in beide die Triton en die Isuzu is sekuur, maar weereens voel die Triton net meer presies.

Enjin

Beenruimte in die Isuzu
Beenruimte in die Isuzu

Isuzu het die enjin uit die vorige generasie KB net so oorgedra met enkele veranderings om die enjins meer omgewingsvriendelik te maak. Ons toetsmotor is toegerus met die 3-liter- viersilindereenheid wat 130 Kw en 380 Nm teen slegs 1800 o/min lewer. Sleepkapasiteite is ‘n indrukwekkende 3,5 ton, meer as wat enige karavaan of sleepwa behoort te weeg. Mitsubishi aan die ander kant het weggedoen met hulle 3.2-literdiesel enjin in die vorigegenerasie-Triton ten gunste van ‘n nuwe 2.5-litereenheid. Die nuwe enjin lewer 131 Kw en 400 NM se wringkrag. Snaaks genoeg kan die Triton slegs 1,5 ton sleep, minder as die helfte wat die Isuzu kan sleep, maar ons vra weer hoekom? As ‘n leefstylvoertuig is 1,5 ton meer as genoeg, geen karavaan of sleepwa weeg meer as dit nie, dus hoekom kan die Isuzu dan soveel sleep? Wil mens regtig? Ons gevoel was maar net dat die Isuzu baie swaarder en stadiger, meer soos ‘n bakkie, as ‘n leefstylvoertuig voel. Die Triton lyk anders as al die ander bakkies op ons paaie, en dit is slegs die Amarok en die Navara wat na my mening beter rygerief bied.

Prys

As leefstylvoertuig is beide die KB en die Triton ook geprys soos leefstylvoertuie, naamlik duur. Maar dit voel net vir my asof jy heelwat meer waarde vir jou geld met die Triton as met die Isuzu kry. Ek as ‘n verbruiker voel effens verneuk deur vir my ‘n nuwe Isuzu aan te skaf net om agter te kom dat ek nog steeds ‘n ou Isuzu met ‘n nuwe pak gekry het. Die voertuig voel oud en dus kan ek nie die prys van R469 100 regverdig nie. Ja dit is ‘n 4×4-dubbelkajuitbakkie, ja dit is ‘n “nuwe” ou Isuzu, maar teen R419 900 is die Mitsubishi Triton 2.5 Di-D 4×4 R50 000 goedkoper as die Isuzu en na my mening R100 000 beter!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.