President Zuma het sy skok uitgespreek oor die ongeluk waarin vier polisiebeamptes en ‘n bestuurder dood is toe ‘n kleinhandelvragmotor agter in ‘n vragmotor vol plofstof vasgery het.
‘n Deel van die pad, die N1 tussen Polokwane en Mokopane is erg beskadig in ‘n ongeluk waarin vyf mense, insluitend vier polisiebeamptes omgekom het.
Die twee vragmotors het vroeg vanoggend gebots voordat hulle aan die brand geslaan het. Een van die vragmotors het plofstof vervoer.
Die polisiebeamptes is dood terwyl hulle probeer het om ‘n vragmotorbestuurder te red. Meer as ‘n kilometer van die N-1 is afgesper terwyl forensiese ondersoekbeamptes op die toneel is.
Die SABC se verslaggewer op die toneel berig dat daar ‘n groot gat aan een kant van die pad is, en dat struike aan albei kante van die pad afgebrand het.
Drie polisiebeamptes en drie ander motoriste wat in die ongeluk beseer is, is na ‘n hospitaal geneem. Hulle toestand is kritiek.
Die Nasionale Polisiekommisaris, Riah Phiyega, het ook vanoggend op die toneel aangekom
Die provinsiale polisiekommisaris het Phiyega vroeër ingelig oor die ondersoek.
Die oorlewende vragmotorbestuurder en sy veiligheidswag word deur die polisie ondervra.
Die pad sal gesluit bly terwyl die ondersoek voortgaan.