Êrens tussen gister en vandag het dinge egter verander. Nadat sy aangesê is om die klitser te kry en die sous te roer, merk my dogter (reeds 8 maande op haar eie) verbaas op : “O, is dít wat mens met dit maak, ek kon nog nooit 'n rede kry om myne te gebruik nie!” Ek kon haar maar net stom aankyk!
Nog erger, 'n bekende, 33 jaar oud, het baie beslis haar kastrolle by haar ma op die plaas gaan aflaai; dit staan net haar kaste vol, het sy onomwonde verklaar.
'n Ander jong dame is bekommerd, sy sal die samoesas wat sy vir 'n geselligheid wil voorsit nie kan braai nie, want sy het nie 'n elektriese diepbraaier nie! Vele mammas sal nou in 'n koor sê: “maar julle moes hulle geleer het!” Feit is ons het probeer, maar anders as by ons, was die belangstelling nie daar nie!
Jamie Oliver, die befaamde “kaal kok”, vertel dat hy van kleins af in sy pa se restaurantkombuis in Claving, Essex geboer het en toe hy 11 jaar was, was hy al gemaklik met heelwat kombuistake. Op sestien was sy belangstelling in so 'n mate geprikkel, hy wou net 'n sjef word! Dít is spontane belangstelling!
Met groot blydskap sien ek 'n kookboek van Jamie Oliver, op my seun Lourens se sewentiende verjaardagwenslysie. Sy meisie koop dit toe ook vir hom. ('n Baie slim skuif van enige meisie, want sê nou maar die kys hou!) Tot ons bittere spyt was kosmaak egter net 'n fase in sy tienerlewe!
Geskiedenis vertel dat die eerste professionele sjefs vir die weermagte, asook konings, gekook het. Die eerste ou wat wat as die vader van die professionele kombuis gesien word, was Auguste Escoffier. Hy het die weermagkombuis in 'n gestruktureerde organisasie verander. Vroue het egter nie in die prentjie gepas nie. Dit is nou volgens Ann Cooper, skryster van A Woman’s Place in the Kitchen: The Evolution of Women Chefs.
Nou kom die groot vraag: Is die manne regtig beter met kosmaak as ons vroue? Daar is darem wel manne wat soos Jamie Oliver en sy eweknieë die maak van kos tot kuns en vermaak veredel het. Daar is egter baie vroue wat met kos kan “toor.” Nie noodwendig dié wat kos vir 'n regiment kan maak nie, maar ook die miljoene vroue wat, sonder vertoon, elke dag 'n smaaklike bord kos voor 'n familie neersit. Van altyd af was die vrou in die kombuis, voor die stoof en lepel in die hand aan die roer. Tong in die kies wil ek sê: miskien hou manne maar net van die ophef wat gemaak word as hulle die dag agter die potte inskuif. Hy maak dan nie net kos nie; hy is 'n sjef!