Irak koop glo wapens van Iran teen al Kaida-terreur

Deel op

ammoiraqDie VSA het ‘n verklaring van die Irakse regering geëis na mediaberigte dat die land ingestem het om wapens ter waarde van $195 miljoen van Iran te koop.

So ‘n ooreenkoms sal die wapenboikot wat deur die VN ingestel is, oortree.

Die ooreenkoms is bereik aan die einde van November, volgens dokumente wat Reuters glo gesien het.

Kort voor die transaksie onderteken is, was die Irakse premier Nouri al-Maliki in Washington om hulp te vra om op te tree teen al-Kaida-terroriste.

‘n Woordvoerder van die Irakse eerste minister wou nie die verkope bevestig of ontken nie, maar het gesê dat so ‘n ooreenkoms te verstane sal wees gegewe Irak se huidige veiligheidskrisis.

“Ons het begin met ‘n oorlog teen terrorisme en ons wil hierdie oorlog wen. Niks verhoed ons om wapens en ammunisie van enige party te koop nie en dit is net ammunisie om ons te help om terroriste te beveg,” het die woordvoerder, Ali Mussawi gesê.

Die regering van Iran ontken enige kennis van ‘n ooreenkoms om wapens aan Irak te verkoop.

Dit sal die eerste amptelike wapentransaksie tussen Sjiïtiese Iran en Irak se Sjiïtiese regering wees.

Dié transaksie sal, indien bevestig, die groeiende band tussen die twee groepe aandui in die twee jaar sedert die vertrek van Amerikaanse troepe uit Irak.

‘n Woordvoerder van die Amerikaanse departement van Buitelandse Sake sê indien die berigte waar is, is dit kommerwekkend.

“Enige oordrag van wapens van Iran na ‘n derde land is ‘n direkte skending van resolusie 1747,” het die Amerikaanse woordvoerder vir buitelandse aangeleenthede, Jan Psaki, gesê.

‘n Amerikaanse amptenaar het gesê so ‘n transaksie kan Washington se benadering tot onderhandeling oor Iran om internasionale sanksies oor sy kernprogram op te hef, verder bemoeilik.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.