Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad skuld Ontvanger miljoene

Deel op

pansalbDie Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad skuld die Ontvanger van Inkomste R3.3 miljoen, hoofsaaklik aan lopende belasting (LBS) afgetrek van salarisse maar wat nie betaal is nie.

Die Taalraad wat veronderstel is om die gebruik van alle Suid-Afrikaanse amptelike tale te bevorder, skuld sy verskaffers meer as R13 miljoen.

Die Raad het ‘n verdoemende ouditverslag ontvang en sukkel om 137 krediteure te betaal.

Gegriefde personeellede wil die Arbeidshof nader om die aanstelling van waarnemende uitvoerende hoof Mxolisi Zwane onwettige te laat verklaar asook sy aanstelling van 44 senior bestuurders ter syde te stel.

Sommige bestuurders het hul vaste-termyn kontrakte omskep in permanente poste. Dit is in stryd met openbaresektordiensregulasies vir senior aanstellings in staatsdepartemente en -instellings wat bepaal dat sulke aanstellings slegs vir vyf jaar geld en na gelang van prestasie oorweeg moet word.

Personeel vrees nou dat die SAID die geld verskuldig van hulle persoonlik sal eis.

In die hof het die werknemers aangevoer dat Zwane sy trawante in poste wat nie bestaan nie of gedupliseerde poste aangestel het, en dat die raad nie sy opgeblase salarisrekening kan bekostig nie.

Telefoondienste is reeds afgesny in Oktober 2013 as gevolg van wanbetaling, en die nasionale leksikografie-eenhede het nie hul volle toekennings ontvang nie.

Die Taalraad het ‘n gekwalifiseerde oudit vir die 2012-2013 finansiële jaar ontvang. Die Ouditeur-generaal het bevind dat daar vir ongeveer R21 miljoen nie verantwoording gedoen kan word nie en dat sy laste sy bates met R5 miljoen oorskry.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.