‘Wettig dagga vir medisinale gebruik’

ambrosini
Mario Oriano-Ambrosini

Die terminaal siek parlementslid van die Inkatha Vryheidsparty, Mario Oriano-Ambrosini het ‘n privaatlidwetsontwerp om dagga vir medisinale gebruik te wettig, ter tafel gelê.

Hy sê die onkonvensionele en tans nog onwettige mediese behandeling het sy lewensverwagting verleng.

Ambrosini het in Mei verlede jaar aangekondig dat hy stadium vier longkanker het, hoewel hy nooit in sy lewe gerook het nie.

Hy het dit egter duidelik gestel dat hy nie dagga rook nie.

Ambrosini, wat tydens sy toespraak oor die wetsontwerp, sukkelend asemgehaal het, sê die huidige wet benadeel vordering.

Hy het ook ‘n onwettige behandeling van dokters in Switserland ontvang, waartydens koeksoda in sy borsholte ingespuit is. Die behandeling is in ‘n ongeregistreerde kliniek ontvang.

Volgens die polisie gebruik dwelmhandelaars toenemend kinders om dwelms vir hulle te smokkel omdat die polisie nie kinders sonder meer arresteer nie.

“Familie en bure werf kinders so jonk as 11 om dwelms te verkoop of te koerier, want as dié kinders gearresteer word, sal hulle weens hul ouderdom nie noodwendig strafregtelik vervolg word nie,” het lt.kol. Katlego Mogale, Gautengs se provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

’n Dertienjarige is in 2013 met ’n groot hoeveelheid dagga by die skool betrap volgens Mogale. Hy het die dagga namens sy sestigjarige buurvrou gesmous.

By ‘n luukse landgoed naby Johannesburg gebruik dwelmhandelaars wit kinders so oud as 11 om banksakkies met dagga ter waarde van R200 in te smokkel en te verkoop.

Van die kinders se ouers, leerlinge van die Amerikaanse skool, het gesê die oortreding is nie ernstig nie.

Die sekuriteit van die landgoed het die dwelmhandelaar vasgetrek met kilogramme dagga in sy besit en hom aan die naaste polisiekantoor oorhandig. Die handelaar is nie aangekla nie.

Praag het die bewysstukke onder oë gehad.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.