HETN eis dat PUK onder administrasie geplaas word na Nazi-saluut

Deel op
irannazi
Die Nazi-saluut in Iran, in gebruik sedert die begin van die eeu

Die Hoër Onderwys transformasie-netwerk (HETN) eis dat die wit bestuur van die Noordwes Universiteit summier afgedank word.

Die HETN het hul kommer uitgespreek teenoor die premier van Noordwes, Thandi Modise oor die beweerde massa-Nazisaluut wat by die Noordwes-Universiteit (NWU) plaasvind.

Die woordvoerder van die netwerk, Hendrick Makaneta het ‘n beroep op die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande gedoen om dringend die instelling onder administrasie te plaas.

‘n Veldtog teen die wit bestuur NWU is verlede week deur Naspers van stapel gestuur.

Die HETN het glo “grafiese bewyse” wat deur Beeld op 21 Februarie 2014 gepubliseer is van die gebruik van ‘n Nazi-saluut by die Universiteit se Potchefstroom-kampus tydens ontgroening.

Verskeie slagspreuke soos “heil Hitler” is blykbaar ook gebruik tydens ontgroenigsrituele.

Volgens die HETN het hulle reeds herhaaldelik gewaarsku oor die verspreiding van rassistiese praktyke wat by die NWU floreer, op die wit Potchefstroom-kampus en in die werkplek van dieselfde instelling.

Die HETN het die “voortgesette skynheilige ontkennings deur die visekanselier van die NWU, dr Theuns Eloff in die aangesig van die naakte waarheid soos uitgebeeld in die foto’s sowel as die platoniese verskoning aangebied deur die rektor van die NWU Potchefstroom, prof Herman van Schalkwyk” rakende die saluut op sosiale media, betreur.

Die gebruik van die Nazi-tipe saluut is ‘n “internasionale misdaad” in Duitsland, Oostenryk en die Tsjeggiese Republiek en is onaanvaarbaar vir gebruik in ‘n staatsbefondsde instelling “in ons demokrasie”, het die HETN in ‘n verklaring gesê.

In een foto in die besit van die HETN “so vroeg as Desember 2013” is NWU Potchefstroom se rektor, prof Herman van Schalkwyk, “duidelik sigbaar te erken waar hy die beweerde Nazi-saluut van studente in die dieselfde wyse as tydens Hitleristiese tye beantwoord”, het die HETN gesê.

“In ‘n poging om bogenoemde beweerde praktyke, insluitend die summiere afdankings en ​​viktimisering van swart werknemers en studente weg te steek, het die NWU Potchefstroom se elite gekies om geregtigheid en die waarheid te ontduik met ‘n oneerlike interdik teen die netwerk, met oneerlike bedoelings om ons te keer om die waarheid rugbaar te maak.”

Die HETN het ernstige beswaar gemaak teen die “misbruik van staatsbefondsing deur ‘n oneerlike kliek akademici en hul rassistiese makkers wat in stryd is met die letter van die Grondwet” asook die “diep rassisme steeds verskans in die hoër onderwys”.

Die premier van Noordwes, Thandi Modise sê die provinsiale regering sal die verwikkelinge monitor.

Iran, een van Suid-Afrika se bondgenote, gebruik dikwels dieselfde Nazi-saluut in die openbaar. Suid-Afrika en Iran bedryf saam die multimiljoerand Aryasasolpolimere-maatskappy.

Die HETN het hulself nie uitgespreek oor die “internasionale” aanvaarbaarheid van die Nazi-saluut in Iran nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.