Sal die Afrikaners die 21ste eeu oorleef?

Deel op

 

Enkele los notas rondom die FAK se amptelike standpunt oor misdaad

 

“Jy het slegs mag oor mense solank jy hulle nie van alles ontneem nie. Maar wanneer jy 'n mens van alles beroof het, is hy nie langer in jou magsgreep nie – dan is hy weer vry.”

Alexander Solzhenitsyn

Die FAK se standpunt oor misdaad is interessant en selfs prikkelend. Wat my egter tot weemoed stem is die feit dat ek nie van ‘n enkele persoon bewus is wat sy/haar emigrasieplanne laat vaar het na aanleiding van dié ‘pleitrede/referaat’ nie. Daarmee wil ek natuurlik nie te kenne gee dat die ontleding onakkuraat is nie, maar feit is dat dit nie veel van ‘n effek het op die steeds groter wordende stroom emigrante uit die ‘Afrikaner gemeenskap’ nie – en dit laat mens tog met ‘n gevoel van angstigheid. Dit is asof die antwoorde wat aangebied word gewoon geen vertroosting bied nie; en die uitsigloosheid van die situasie nie besweer word nie.

Deel op

Watter ‘gemeenskap’?

Wat presies is ‘n gemeenskap van gemeenskappe?

Is ons vandag enigsins nader aan ‘n ‘gemeenskap van gemeenskappe’ as sê nou maar in 1998?

Indien nie; wie of wat is die struikelblok(ke)?

Die Vrye Afrikaan en die FAK beywer hulle deurlopend vir die totstandkoming van ‘n sogenaamde ‘gemeenskap van gemeenskappe’; maar waar vind mens voorbeelde van sodanige gemeenskappe?

[Kwalifiseer die onderskeie nasiestate – wat in ‘n sekere sin ‘n kleiner onderdeel is van die groter planetêre gemeenskap; of die Switserse kantonstelsel as ‘n gemeenskap van gemeenskappe?]

Wat is die voorwaardes en waarskynlikheid vir so ‘n vrywillige (is dit ‘n staatkundige?) herorganisering?

Kan dit in die huidige Suid Afrikaanse maatskappy realiseer?

In Afrika is demokrasie ongelukkig nie ‘n operasionele werklikheid nie – ten spyte van kreatiewe naamgewing (bv. Die DRK) wat slegs daarop dui dat die naam/konsep [demokrasie en republiek] waarskynlik ter wille van die skyn ‘verdra’ word – maar nie die inhoud nie. Word die skyn verdra omdat daar ‘n minderwaardige smagting na die goedkeuring van die Weste is? Die DRK dink waarskynlik graag aan hulself as ‘n demokratiese republiek terwyl hulle in wese nie een van die twee is nie. ‘n Selfs meer kommerwekkende gedagte is dat hulle dalk begin glo – die skyn nie onderskeibaar is van die werklikheid nie; die DRK en andere verkeer vermoedelik onder die indruk dat nadat die ‘naam’ gegee is – die inhoud sonder enige verdere ingreep ‘n outomatiese gegewendheid is.  

Is die gemeenskap van gemeenskappe ‘n kulturele entiteit?

Indien mens die gemeenskap van gemeenskappe bloot as draer van kultuur wou sien:

i    Afrikaanse skole – se voortbestaan kan as ‘gemeenskap’ nie gewaarborg word nie. (Daar is klaarblyklik reeds meer as die helfte van alle skole wat tradisioneel Afrikaans was – wat nie meer daardie status het nie);

ii   Afrikaanse kerke – is ook onder druk al is dit grootliks ‘n self toegediende wond (die NG kerk sing nou al glad lekker in Engels, want ons wil tog net nie aanstoot gee nie en wil boonop almal laat welkom voel;

iii  Afrikaanse Universiteite – vir almal wat oë het om te sien is dit duidelik dat daar reeds nie meer so iets bestaan nie.

Die kulturele gemeenskap van gemeenskappe bestaan nie werklik nie. So na watter gemeenskap word daar nou eintlik verwys – ‘n gesin om die ontbyttafel of ‘n paar vriende om ‘n braaivleisvuur?

Hiermee wil ek nie te kenne gee dat die gedagtes rondom ‘n gemeenskap van gemeenskappe, of ‘n nuut verbeelde gemeenskap, onverantwoordbaar is nie – maar of dit enigsins die praktiese werklikheid van die huidige Suid Afrika in ag neem is te betwyfel. Die gemeenskap van gemeenskappe bestaan net as filosofiese konstruk (of verbeelding as u wil) op papier.

Daar was ‘n geleentheid, ‘n jaar of twee gelede, waar die FAK en verskeie ander afgevaardigdes met die Minister van Onderwys, Naledi Pandor, in gesprek getree het oor moedertaalonderwys. Die minister is sonder die minste twyfel in ons gemoed met die mees progressiewe filosofiese insigte ‘vermaak’ in ‘n poging om haar die sin te laat insien van moedertaalonderwys. Nadat die afgevaardigdes vir ‘n dag of twee hul bes gedoen het – het die minister klaarblyklik ewe kordaat opgemerk dat dit nou alles goed en wel is maar, “I have a different opinion on the matter…”

Is dit hoe ‘n gemeenskap van gemeenskappe veronderstel is om tot stand kom? Is demokrasie nie onder andere ook ‘regering deur debat’ nie? Hierdie frappante minagting van die ‘debat’ bevestig gewoon die vermoede dat die demokrasie in SA – soos elders in Afrika – alleenlik as konsep bestaan en nie as inhoud nie.  

‘n Tyd gelede is daar in die pers gerapporteer dat die Afrikaanse gemeenskap ongeveer 35% van die totale belastinglas dra (die persentasie mag moontlik nie heeltemal akkuraat wees nie, maar die punt is dat dit wel ‘n besonder groot gedeelte van die totale belasting beloop). Waarom kan Afrikaners nie ‘n ooreenstemmende inspraak hê oor hoe hierdie belasting bestee word nie. Indien dit nie onder die huidige bestel moontlik is nie (en dit is sekerlik nie), wat presies moet verander om dit wel moontlik te maak; hoe moet die staatsbestel gewysig word om dit te bewerkstellig? Sal ‘n gemeenskap van gemeenskappe ‘onafhanklik’ kan besluit hoe haar belasting gebruik moet word?

Daar sal ongetwyfeld allerlei besware teen dié standpunt wees; maar die FAK bevestig dit inderdaad self wanneer hulle sê; “… self al sou die Afro-nasionalistiese beweging volledige beheer oor die ekonomiese bestel oorneem, dit waarskynlik steeds nie genoeg sou wees om sy belangegroep volledig daarin op te neem nie.” Dit kom in wese daarop neer dat die huidige modus operandi nie houdbaar is nie, of ten beste ‘n heeltemal oneerlike approksimasie van die werklikheid is. 

Dit is ongelukkig meermale die dilemma in die Ruwe Suid Afrika dat ondanks die belasting wat die burgery betaal (en dit nie teen die mees gemaklike koerse nie) steeds nie op enige teenprestasie van die Staat kan reken nie – behalwe natuurlik die Staat se afwysende en eksplisiet vyandige houding jeens die Afrikaner. “Suid Afrikaners kry nie genoeg waarde vir hul groot belastinglas nie (ongeveer 30% van BBP) en te veel mense is (‘n kwart van die bevolking: daar is blykbaar ‘n afhanklikheidsverhouding van drie ontvangers van welsynstoelaes vir elke een belastingbetaler) is afhanklik van welsyn…” So sê Mnre Lumkile Monde (van die Nywerheids-ontwikkelingskorporasie), Jac Laubscher (van Sanlam) en Mike Schüssler (van T-Sec). (Gerapporteer in Beeld Sake24 van 27 Februarie 2008). Mike Schüssler sê verder dat, “Suid Afrika belas word soos ‘n ryk land, maar die dienste wat die produktiewe sektor vir hul geld kry, is dikwels swakker as in opkomende ekonomieë.”

Die dilemma verdiep verder wanneer daar van die gewone belastingbetalende burgery (en ongelukkig is nie almal van hulle skatryk nie) verwag word om ‘n ongewoon groot deel van hul inkomste af te staan aan die finansiering van basiese infrastruktuur (d.i. basiese dienste en funksies) wat eintlik reeds met belastinggeld betaal moes wees. Die logiese imperatief hiervan is dat dit toenemend meer gaan kos om die basiese dienste en funksies van ‘n beskaafde staat aan die gang te hou – totdat dit uiteindelik êrens in die (nabye) toekoms gewoon meer sal kos as wat die burgery beskikbaar het om te betaal.

As die Minister van Veiligheid en Sekuriteit die algemene publiek, na die soveelste gru misdaadverhaal in die pers, versoek om by misdaadbestyding betrokke te raak is dit seker te verwagte dat die respons sal wees… maar ons is mos reeds betrokke… ons betaal belasting… wat wil jy dan nog van ons hê?

Die klimaat van geweld

Wat uiters kommerwekkend is met betrekking tot die ‘media geïnduseerde opinies’ oor geweldsmisdaad is dat hierdie uiters geweldadige misdaad sonder meer misdaad genoem mag word. Die vraag is of sinlose / redelose geweld – soos dit tans sonder enige belemmering in SA floreer – noodwendig, of hoegenaamd as misdaad beskou behoort te word?

Is daar ‘n verskil tussen die volgende twee voorbeelde?

1.     Drie mans beplan ‘n transito roof ten [einde hulself te verryk]. Hulle bewapen hulself met ‘n arsenaal waarmee ‘n klein oorloggie gevoer kan word. Ongelukkig verloop alles, soos te verwagte, nie presies volgens plan nie. Die sekuriteitspersoneel in die gepantserde geldwa verset hulle deur onder andere op die rowers te skiet. Die rowers seëvier uiteindelik deur die geldwa en al ses sekuriteitswagte aan flarde te skiet. Hulle slaan op vlug met 1,6 miljoen rand.

2.     Drie mans ‘beplan’ ‘n ‘rooftog’ [blote opportunisme]. Hulle breek in by die opstal van twee bejaardes op ‘n kleinhoewe net buite die stad. Ongelukkig verloop alles, soos te verwagte, nie presies volgens plan nie want daar is helaas nie veel om te steel nie – maar dit maak ook nie regtig saak nie. Hulle besluit om die ou mense so bietjie te martel. Die ou mense word vasgebind, die ou oom word eers met kookwater en toe met ‘n strykyster gebrand, sy ‘hakskeensenings’ word daarna met ‘n broodmes afgesny (wat aan die barbaarsheid van die Mau Mau herinner) terwyl sy sewentigjarige vrou se vingers met ‘n snoeiskêr afgeknip word nadat sy verkrag is. Die rowers slaan later op vlug sonder om iets te steel – of dalk met ‘n stokou selfoon en veertig rand kontant.

Dit maak mens ongemaklik dat beide hierdie voorbeelde amptelik as misdaad getipeer mag word, selfs al word dit geweldsmisdaad genoem. Sal voorbeeld (2) in ‘n demokratiese (beskaafde?) land as gewone misdaad beskou word? Verder voel ons ongemaklik daarmee dat dieselfde verklaringsmodel gebruik word om beide voorbeelde te verduidelik.

Dit is dalk nodig om dieper af te boor as wat die FAK referaat reeds aantoon die moontlike oorsake – of klimaat van geweld kan wees (ons steek hier ‘n paar voorlopige voelers uit):

1.     Kan dit die reaksie wees van ‘n ondergeskikte (oftewel nie-dominante) beskawing wat tydig en ontydig aan sy eie ondergeskiktheid en/of minderwaardigheid herinner word?

2.     Of kan dit wees dat die dominante beskawing / kultuur nie net dominant in Suid Afrika is nie, maar wêreldwyd wat vir die ondergeskikte beskawing / kultuur hier ter plaatse ‘n selfs meer uitsiglose toekoms voorspel? ‘n Mens sou sekerlik van ‘wêreld waardes’ kon praat aangesien dit lankal nie meer spesifiek tot die Weste is nie. [Die grootste deel van Afrika word deesdae as die vierde wêreld bestempel, dit is die sogenaamde “destitute” of ontbeerde nasies wat nie die vermoë het om selfs die heel onderste trappie van die ontwikkelingleer by te kom nie] (vgl. James Martin, The meaning of the 21st century: A vital blueprint for ensuring our future)

3.     Kan dit nie dalk die vergestalting wees van ‘n diepgewortelde jaloesie en afguns van die een kultuur (die ondergeskikte) teenoor ‘n ander (die dominante) nie?

4.     Kan dit wees dat die mense wat tans nie deel van; “… die mite van mobiele, individuele, verstedelikte verbruikerskap…” is nie, intuïtief aanvoel wat sommige ekonome reeds met harde en ongenaakbare syfers kon aantoon, nl. dat daardie groep nooit hul huidige posisie kan ontsnap nie.

5.     Kan dié soort misdaad, wanneer dit ‘n reaktiewe gebeure is, hoegenaamd as sinloos of redeloos bestempel word? Is die (soort) misdaad werklik – of net op die oog af sinloos? Is daar dalk ‘n onbewustelike kollektiewe agenda? 

6.     Kan dit wees dat moord – en roofbendes as onaantasbare soewereine agente optree – wat staatsgesag uitdaag en uitmergel en uiteindelik vir die verbrokkeling van die staatsmag verantwoordelik is? (vgl. Martin van Creveld; The rise and decline of the state) 

7.     Kan hier sprake wees van – wat in die filosofie ook bekend staan as –   inkommensurabiliteit van twee wêreldbeskouings? (In hierdie verband sou mens na JM Coetzee se Disgrace kon verwys. Is die feit dat JM Coetzee tans in selfopgelegde ballingskap in Adelaide, Australië woon ‘n bewys van voormelde inkommensurabiliteit?)

8.     Kan die bestaan van twee – grootliks onversoenbare – geesteswêrelde, iets met die probleem te doen hê? [Dit is waarskynlik nie polities korrek om van ‘n swart – en wit geesteswêreld te praat nie; maar om dié werklikheid te ontken dien nie enige doel behalwe om die blindheid te vererger nie]

Nota 1:   Die term ondergeskikte beskawing word nie kwetsend bedoel nie maar dui bloot op die feit dat die tegno-industriële beskawing tans wêreldwyd domineer. [Dit is waarskynlik verkieslik om van kultuur te praat en nie van beskawing nie]

Nota 2:   Ons beskou nie die sg. mobiele, individuele, verstedelikte verbruikerskap as ‘n doel insigself of as die alfa en omega van menslike bestaan nie; aanpassings hieraan is onafwendbaar veral in die lig daarvan dat ons ekologies gesproke op die rand van planetêre rampspoed luier; maar dit beteken helaas ook nie dat die ‘Afrika wêreldbeskouing’ die alternatief daarop is of kan wees nie. Dat veranderinge hier gemaak sal moet word is onafwendbaar – maar daar is geen waarborg dat die kloof tussen Afrika en die Weste hierdeur verklein sal word nie; daar is wel etlike aanduidings wat op die teenoorsgestelde dui.

Nota 3:   Dit is min of meer algemene kennis dat die grondwetlike regte van die burgery lankal nie meer gewaarborg kan word nie; o.a. juis omdat die staat se mag ook aan verbrokkeling onderhewig is. Die staat het algeheel beheer oor misdadigheid verloor, en dan bestaan daar ook ‘n klaarblyklike onwilligheid om iets daadwerkliks te doen wat waarskynlik weer veel te doen het met die betrokke wêreldbeskouing. Wat duidelik hieruit blyk is dat demokrasie net as konsep bestaan, soos reeds genoem, maar dat daar geen inhoud is nie. (Net soos die algemene voornaam Lucky nie geluk kan waarborg nie; en die voornaam Doctor jou nie dokter (of doktor) kan maak nie.) Dit wat in Suid Afrika demokrasie genoem word – is in wese niks anders as ‘n blote oëverblindery nie.

Nota 4:   Daar is ‘n groot aantal mense (veral ook sg. hooggeplaastes) wat in diens van die staat, SAPD, munisipale polisiedienste is, of ander sekuriteitsverwante bedrywe is wat by misdadige bedrywe betrokke is. Hoe word dit verklaar? As mens byvoorbeeld by wyse van ‘tru-ingenieurswese’ terugwerk na die ontwerp of oorsprong – is dit baie duidelik dat die betrokkenes nie dieselfde reëls en/of wette gehoorsaam as wat aan die res van die samelewing voorgehou word nie. Dit is asof die wette, reëls en regulasies bloot geduld word maar geen werklike gesag het nie. Dit dui, soos reeds by herhaling genoem, dat demokrasie en die onderliggende waardes wat dit veronderstel uitsluitlik bestaan in soverre dit ‘n (leë) konsep is – sonder enige substantiewe inhoud.

Oplossings

Kan dit ‘n geldige en outentieke ontologie wees wanneer alles wat jy is en alles wat jy het (simbolies, kultureel en materieel) net eenvoudig sonder slag of stoot opgegee word? Dat jy volledig oorgee? Dat jou eie materiële middele (belasting) gebruik word om jou meedoënloos te vernietig. Wat het veroorsaak dat die Afrikaners verander het in so ‘n klomp ruggraatlose jellievisse? Is die Afrikaanse kerke daarvoor verantwoordelik soos sekere waarnemers inderdaad beweer?

Dit is heel pikant dat die FAK referaat die oplossing grootliks voorstel as gemeenskapsbetrokkenheid en dit dan afspeel teenoor “outoritêre staatsoptrede á la Hobbes”; asof dit die enigste geldige teenpool van betrokkenheid is.

Sal ons filosowe die strate patrolleer of kan ons van die plaaslike hartspesialis verwag om geskeduleerde sjirurgie uit te stel aangesien dit vanmore sy/haar beurt is om die buurt te patrolleer? As noodmaatreël kan so iets moontlik oorweeg word maar dit is al wat dit kan wees: ‘n noodmaatreël. Dit is verder waarskynlik ‘n goeie oorlewingstrategie; maar daar is ‘n wesenlike verskil tussen om te leef en om te oorleef.

Die teenpool van gemeenskapsbetrokkenheid hoef sekerlik nie noodwendig outoritêre staatsoptrede te wees nie; dit kan bloot ook ‘n gemeenskap (van gemeenskappe, as u wil) wees wat beheer verkry oor die besteding van haar eie belasting. Staatsoptrede hoef ook nie noodwendig outoritêr te wees nie, dit kan gewoon die wil van die mense (van die gemeenskap van gemeenskappe) wees.

Ten slotte : lewendood

Miskien is dit gewoon nie meer die moeite werd om verder goeie geld te mors op 'n slegte saak nie; miskien het dit tyd geword om jou verliese te realiseer en uit die mark te klim; as u my die analogie sal vergun. Dit is dalk inderdaad tyd “to pack for Perth” soos daar in die laaste tyd alte dikwels om braaivleisvure bepeins word?

 “… die groot skaal waarop Afrikaners vandag na Anglo-Amerikaanse samelewings emigreer. Dat laasgenoemde dikwels gepaard gaan met stapels anekdotiese getuienis oor hierdie emigrante se gevoelens van hartseer, vreemdelingskap en heimwee na Suid Afrika, is ‘n ironiese bewys van die lewenskragtigheid van ‘n eie kultuur in weerwil van ‘n eeuelange kolonisasie en industrialisasie in hulle land van herkoms.”

Waarom emigreer mense in die eerste plek? Is dit nie juis wat hierbo verwoord word nie? Die hartseer oor ‘n lewe wat verlore is, die vreemdelingskap (identiteitloosheid) in die nuwe omgewing en die alles verterende heimwee na ‘n vervloë era, die heimwee na ‘n lewe wat jy gedink aan jou behoort maar nou ewe skielik sommer net verby is. Sandile Dikeni beweer onlangs dat regstellende aksie slegs ten einde sal loop wanneer die blankes volkome verafrikaniseer is. Achille Mbembe (Kameroense historikus wat tans by WITS doseer) soos aangehaal deur Stephen Smith sê: “Die idee van ‘n Afrika identiteit wat nie neger of swart sou wees nie, is eenvoudig ondenkbaar.”

Die vraag is nou, hoe verskil die situasie in die vreemde van die situasie hier ter plaatse? Wat sal uiteindelik makliker wees; om vir jouself ‘n nuwe identiteit in ‘n ander uithoek van die planeet (dalk selfs Australië) uit te kerf, of om hier in Suid Afrika aan te bly. Ek wil my verstout om te sê dat eersgenoemde keuse moeilik sal wees maar om in SA te bly veel moeiliker gaan wees; en waarskynlik vir die meeste mense gewoon onmoontlik sal wees. 

Ek vermoed dat daar in die aanhaling (uit die FAK referaat) hierbo straks ook veel hoop opgesluit lê, want dit dui juis daarop dat die ‘eie kultuur-gemeenskap’ van die Afrikaner nie gebonde is aan ‘n spesifieke geografie nie. Dat die Afrikaner nie geografies ingebind is tot ‘n spesifieke stuk aarde nie; maar dat die ‘projek’ elders voortgesit kan word. Maar hieroor sal nuut en kreatief gedink moet word en miskien sal dit uiteindelik met ander soewereine staatkundige entiteite beding moet word; miskien is aanpasbaarheid en ‘n sin vir avontuur die laaste pleganker vir die Afrikaners.

 

Primêre Bronne

Smith, S. 2005. Negrologie: Waarom Afrika vergaan. Johannesburg: Praag. (Oorponklike title: Négrologie – pourquoi L’Afrique meurt. Calmann-Lévy)

Soyinka, Wole. 1976. Myth, literature and the African world. Cambridge: Cambridge University Press.

 

online casino slotsФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.