Malema spreek 60 000 Rooihemde toe

Deel op
'n See van rooi gister in Tembisa... maar die Duitse ambassadeur in SA, Horst Freitag, dink nie dat Malema steun het nie (sien artikel)
‘n See van rooi gister in Tembisa… maar die Duitse ambassadeur in SA, Horst Freitag, dink nie dat Malema steun het nie (sien artikel)

Die Economic Freedom Fighters (EFF) het tot nog toe die grootste byeenkoms van die huidige verkiesingsveldtog gehou toe hul leier, Julius Malema, ‘n volgepakte Mehlareng-stadion in Tembisa, oos van Johannesburg, toegespreek het.

Die geleentheid was die bekendstelling van die EFF se verkiesingsmanifes. ‘n Aantal Moslem-sakemanne het agterna ‘n dinee saam met Malema bygewoon, wat die indruk wek dat die EFF finansieel deur Moslems gesteun word.

Van die eregaste by die bekendstelling van Malema se verkiesingsmanifes
Van die eregaste by die bekendstelling van Malema se verkiesingsmanifes

Malema het weereens herhaal dat boere se grond sonder vergoeding onteien sal word. Die skare het hom met krete van “Juju! Juju!” verwelkom en gesing: “Staan opsy, hy gaan parlement toe!”

Die EFF se beleid berus sogenaamd op “sewe pilare”:

  • onteiening van grond sonder vergoeding;
  • die nasionalisering van myne;
  • die nasionalisering van banke en ander strategiese sektore;
  • die nasionalisering van die Reserwebank en die skepping van ‘n staatsbank;
  • staatsbeheerde maatskappye;
  • ontwikkeling van die swart ekonomie;
  • die bou van progressiewe handelsvennootskappe met ander lande.

“Ons wil die koloniale patrone van eienaarskap in Suid-Afrika uitskakel,” het Malema gesê. “20 jaar het getoon dat diegene wat daarmee toevertrou is om vir almal ‘n beter lewe te skep ons uitverkoop het. Julle moet jul eie bevryders wees.”

Hy dit insgelyks bekla dat swartes ná 20 jaar van demokrasie steeds arm is. Daarom moet die land ‘n “nuwe vryheid” skep aangesien dié van 1994 ‘n klomp mense teleurgestel het.

“Twintig jaar later is swartes nog nie vry nie. Twintig jaar later word swartmense steeds vasgevang in ellende, onveilige en ongesonde toestande.”

Dit het van die rooi hempies en barette gewemel, waaruit die party 'n nuttige inkomste verdien.
Dit het van die rooi hempies en barette gewemel, waaruit die party ‘n nuttige inkomste verdien.

Malema het die ook bekla dat die meerderheid swartes in die land steeds grondloos en hopeloos moet lewe.

“Twintig jaar later, word jong en ou swart werkers steeds onderwerp aan slawelone en gevaarlike werkstoestande in myne op plase en in fabrieke,” het Malema gesê. Volgens hom moet die EFF hoop en inspirasie aan die mense van Suid-Afrika bied.

Die party sal ‘n einde aan die korrupsie en selfverryking deur politici maak. Verdere verkiesingsbeloftes deur die party is:

  • alle werksgeleenthede sal permanent wees;
  • ‘n minimumloon van R4 500 per maand sal vir alle voltydse werkers ingestel word;
  • mynwerkers sal R12 500 per maand verdien en plaaswerkers R5 000 per maand, terwyl werkers in vervaardiging R6 500 per maand sal ontvang;
  • kleinhandelwerkers sal R5 000 per maand betaal word terwyl konstruksiewerkers R7 000 per maand sal ontvang;
  • almal sal dieselfde loon ontvang, ongeag geslag, ras, klas of geboorteplek;
  • daar sal ‘n nasionale gesondheidskema wees en die EFF sal staatsbeheerde maatskappye bou wat beter gesondheidsorg sal lewer;
  • daar sal ‘n farmaseutiese maatskappy wees wat medisyne sal produseer en aan hospitale en klinieke sal lewer;
  • tradisionele genesers sal ook by die gesondheidsorgstelsel betrek word.

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters het ook oor die huidide maatskaplike toelaagstelsel uitgewei, wat onder sy party verhoog sal word.

“Maatskaplike toelaes verteenwoordig ‘n belangrike aspek, ten einde aan die armste van die armes toegang tot ekonomiese deelname te verseker,” het Malema gesê. “Die EFF sal ‘n stelsel bekendstel wat maatskaplike toelaes aan ontwikkeling verbind.”

Toelaes sal soos volg verhoog word:

  • die toelaag vir pensioenarisse sal van R1 300 per tot R2 600 per maand verhoog word en ongeskiktheidstoelaes van R1 200 tot R2 400;
  • kindertoelaes sal van R300 tot R600 per maand verhoog word;
  • oorlogsveterane se toelaag sal van R1 220 tot R2 400 verhoog word;
  • afhanklikesorgtoelaes sal van R1 200 tot R2 400 vermeerder word en weeskindversorging van R800 tot R1 600.

Die skare het gejuig en hande geklap telkens as Malema die beoogde verhogings aangekondig het en vele ondersteuners het gemeen hulle sou dit hoog op prys stel.

Wat opvoeding betref, sal Malema se party sorg dat veel meer swart studente nagraadse kwalifikasies ontvang. Ook sal hy 15 000 oorsee stuur om daar te gaan studeer.

Die Mehlareng-stadion het van die rooi T-hemde en barette gewemel. Alle sitplekke is opgeneem en ‘n groot skare kon net staanplek op die veld voor die verhoog kry.

Malema se verkiesingsvragmotor waarmee hy van plakkerskamp tot plakkerskamp ry
Malema se verkiesingsvragmotor waarmee hy van plakkerskamp tot plakkerskamp ry

Die magsvertoon in Tembisa kom na weke se veldtogte wat die EFF in plakkerskampe oral in Gauteng voer. Malema beskik oor ‘n Mercedes-Benz 2528-vragmotor wat hy vir sy veldtog gebruik en wat blykbaar deur modderpoele en paaie vol gate kan ry.

Van Malema se ondersteuners het ‘n bufferplakker met die slagspreuk: “Thanks God I Am A Black Man.” Een van Malema se helpers is ene Fannie Mashiyane wat die party se barette en T-hemde verkoop. ‘n Baret kos R100 en is by verre die gewildste item. Mashiyane verkoop ongeveer R5 000 se EFF-materiaal per dag, wat gholfhempies insluit.

Volgens Wiekus Kotze, die wit Afrikaner met ‘n swart vrou wat deel van Malema se binnekring is, vlug die ANC dikwels as hulle die EFF-ondersteuners gewaar. By die Elias Motsoaledi-plakkerskamp het ANC-ondersteuners in twee bakkies opgedaag, maar toe hulle die groot klomp mense by Malema se veldtogvragmotor sien, het hulle hul stil-stil uit die voete gemaak.

Dr. Horst Freitag, die Duitse ambassadeur in Pretoria
Dr. Horst Freitag, die Duitse ambassadeur in Pretoria

PRAAG voorspel reeds van verlede jaar af dat die EFF bo verwagting goed in die verkiesing gaan doen, omdat die party se radikale sosialistiese en kommunistiese idees inpas by die ideologie wat sedert 1994 in Suid-Afrika verkondig word en sedertdien die heersende stel opvattinge geword het. Karin Roodt het verlede jaar in gesprek met die Duitse ambassadeur in Suid-Afrika, dr. Horst Freitag, gesê dat die EFF volgens haar ontledings ten minste 10% van die stemme behoort te kry.

Freitag het haar minagtend uitgelag en gesê dat sy ambassade “weet wat aangaan”. ‘n Mens wonder of Freitag steeds lag, gegewe die magsvertoon van die EFF gister?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.