Eskom roep noodtoestand uit

Deel op

EksdomSuid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiening is op ‘n mespunt weens swak beplanning en gebrekkige onderhoud. Donderdag is ‘n noodtoestand uitgeroep toe vier opwekkingseenhede van Eskom uitgeskop het.

Die kragvoorsiener het Donderdag aangekondig dat hulle ‘n beroep op groot verbruikers – maatskappye en industrieë – gedoen het om hul verbruik met ‘n minimum van 10% in te kort in ‘n poging om die wankelende stelsel stabiel te hou.

Die maatreël, wat groot instansies kontraktueel verplig om gehoor te gee aan die oproep, behels industriële beurtkrag, maar die kragvoorsiener vermy dié bewoording.

‘n Energieontleder, Chris Yelland sê Eskom se versoek aan industriële verbruikers is beurtkrag maar wil kiesers  nie so kort voor die verkiesing aan negatiwiteit blootstel nie.

Eskom het alle verbruikers versoek om krag spaarsamig te gebruik. Die kragnetwerk verkeer steeds onder groot druk en daar is geen reserwes beskikbaar nie.

Die woordvoerder van Eskom, Andrew Etzinger sê die totale verlies aan opwekkingsvermoë weens tegniese probleme en probleme met steenkool is sowat sewe-duisend megawatt.

Alhoewel die noodtoestand teen negeuur Donderdagaand opgehef is, is die probleme nie verby nie.

Volgens Etzinger sal die netwerk tot minstens vroeg aanstaande week onder druk verkeer.

Benewens die probleme by kragstasies, het een van die twee lyne van die Cahora Bassa hidro-elektriese kragskema in Mosambiek gebreek, het Etzinger gesê. Dit het ‘n derde van die kragtoevoer vandaar afgesny.

Die lede van die Energie-intensieweverbruikersgroep wat BHP Billiton, al die groot myne en smelters, en groot industriële maatskappye soos Sappi, Mondi, Sasol en PPC insluit, kla dat hulle ‘n buitensporige deel van die las van die beperkte aanbod moet dra.

Eskom het gevra dat alle kommersiële kliënte soos winkelsentrums en kleinhandel-afsetpunte onmiddellik geysers afskakel en lugversorgingtemperatuur aanpas tot 23°C.

Verder het die kragvoorsiener kantoorwerkers aangemoedig gevra om lugversorging en ligte af te skakel, met die uitsondering van sekuriteitsbeligting.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.