Motor van die jaar: Porsche kry dit weer reg!

Motor van die jaar 2014

deur André Olivier

Die Porsche Cayman S is die Motor van die jaar 2014! Motorjoernaliste en gesaghebbendes in die motorbedryf het gisteraand vir die tweede jaar na mekaar aanskou hoe Porsche met die mees gesogte prys in die motorwêreld wegstap. Na vele kilometers wat deur 25 van die voorste motorjoenaliste agter die stuur van elk van die finaliste deurgebring is, het die Porsche Cayman S geskiedenis gemaak toe dit die titel voor sy suster die Golf 7 en sy niggie die Audi A3 se neuse weggeraap het.

Daar is nou geen twyfel dat die Volkswagengroep die beste motors ter wêreld bou nie. Dit wil gedoen wees dat die eerste drie in die kompetisie almal uit die Volkswagenstal afkomstig is. Die Porsche, wat met ‘n totaal van 199 punte met die loure weggestap het, asook die VW Golf 7 met 192 punte en die Audi A3, ons gunsteling met 168, was onderskeidelik in die eerste drie posisies.

Ons wil vir Porsche baie geluk sê met ‘n puik motor, maar daar is suur by die soet! Motors soos die Porsche Boxster, Jaguar F-Tipe en Mercedes SLK hoort nie in die “Motor van die jaar” nie, so ook nie die VW Amarok of Isuzu KB nie. Daar moet katagorieë wees waarin sportmotors, werksbakkies, dubbelkajuitbakkies, sportnutsvoertuie en afslaankapmotors ingedeel word.

On weet die nege finaliste ding mee teen die motors in sy katagorie en nie direk teen die ander finaliste in die kompetisie nie, maar die meer eksotiese motors is baie keer per hand aanmekaargesit of word in hoogs gespesialiseerde fabrieke gebou, so om op die toetsdag uit die Ford Figo uit te klim en jou direk daarna in ‘n Porsche 911-sitplek in wikkel en volkome objektief te wees, is maar moeilik, al is die maatstawwe wat ook al.

Ons wil regtig niks van Porsche af wegneem nie, maar die speelveld was nie gelyk nie. In ons boekie is die Porsche wel die “Sportmotor van die jaar” en die Golf 7 die eintlike wenner van vanjaar se kompetisie!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.