‘n Aantal mense is Woensdagoggend geskiet en gewond in xenofobiese geweld wat in Refiloe by Cullinan, oos van Pretoria opgevlam het.
Die oproer het Dinsdag begin nadat ‘n 10-jarige kind na bewering deur ‘n buitelandse winkeleienaar aangerand is omdat hy lekkers gesteel het.
Die kind is later in die hospitaal oorlede.
Die oproeriges het buitelanders se winkels geplunder en paaie versper.
‘n Polisiewoordvoerder, Kaptein Marissa van der Merwe sê die insittendes van ‘n wit Isuzu bakkie het op die betogers geskiet terwyl hulle probeer het om die gebied te verlaat.
Van der Merwe sê sy weet nie hoeveel mense geskiet is nie. Nooddienswerkers het die beseerdes na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
Die polisie het ‘n Pakistanse man in hegtenis geneem wat ‘n vuurwapen in sy besit gehad het.
‘n Polisiehelikopter en die polisie se eenheid vir openbare orde monitor die situasie.