Christi van der Westhuizen, doktor in drogredenasies

Deel op

afrikanertjie

deur Joseph Secrève

In een van Naarspers se publikasies – Die (tweederangse) Burger – verskyn op 14 Februarie ’n onderhoud met Christi van der Westhuizen oor haar promosieondersoek na die moontlikhede wat die demokratiese (sic) Suid-Afrika vir Afrikanervroue kan bied om nuwe identiteite te ontwikkel.

Dit behoort eintlik nie te verbaas nie, maar die artikel wat volg wemel weer van haat en selfhaat soos ons nou eenmaal aantref by mense wat vervreemd geword het van die kulturele kragte wat hul lewens moontlik gemaak het. Die voortdurend terugkerende onderwerp is die “verdrukkende invloed van Afrikanernasionalisme” wat die ontwikkeling van die vrou belemmer het. Blykbaar is mevrou Van der Westhuizen ’n bewonderaar van die “legendariese intellektueel Susan Sontag”, daardie Joodse tannie wat beweer dat die wit ras die kanker van die geskiedenis is, en behoort dus tot dieselfde kamp as Afrikanerhaters en volksverraaiers á la Max du Preez. Sy het immers haar loopbaan begin by daardie rooi sikofant se Vrye Weekblad.

In hierdie artikel kan duidelik gesien word hoe sy haar begrip van nasionalisme oorgeneem van die Europeërs se model, wat juis in baie gevalle naskokke van die wetenskaps en industriële rewolusies was, en misgis dit met die uitgangspunte van Afrikanernasionalisme. Afrikanernasionalisme het sy eie verligtingsideale nagestreef soos wat ons kan sien in Tobie Muller se Belydenis van ’n Nasionalis wat hy in 1913 geskryf het. Die akkuraatheid van Muller se betoog vind ons elke dag terug in wankelende multikulturele gebiede in die wêreld se groter stede. Vir Muller was dit belangrik om die kragte binne jou eie kultuur te ontdek en te ontwikkel. As ’n mens versuim om dit te doen, loop jy gevaar dat jy ’n slaafse naloper van magtige kulture gaan word, wat jou gemeenskaplike identiteit net verder kan benadeel. Die politieke navorser Robert Putnam het in 2007 iets soortgelyks gevind dat in multikulturele woonwyke is mense minder aktief in buurtgemeenskappe, meer geïsoleer van mekaar (selfs al behoort hulle tot dieselfde etniese groep) en is die algemene gesondheid minder goed as dié van mense in homogene gemeenskappe.

As ons byvoorbeeld kyk na die Afrikaner Broederbond – in die jare toe hulle nog edel beginsels nagestreef het – het hulle hul kragte gebundel om universiteite vir Afrikaners op te rig juis om hul volk op te hef. Die destydse RAU was veral vir daardie doeleinde gestig sodat ’n einde gemaak kan word aan die armblankevraagstuk. Die ywer en Protestantse werksetiek van Afrikaners het uiteindelik daarvoor gesorg dat Suid-Afrika ’n formidabele speler op die wêreldtoneel geword het, en het selfs vrees en afguns ingeboesem by die groot Britse Ryk, wie se grondveste al begin wankel het. Waarom hierdie grootskalige ontwikkelinge afgemaak moet word as “totalitêr en verdrukkend” is iets wat sy seker beter sal weet as ek.

Die marxistiese redenering in terme van deprivasie word alweer rondgestrooi om die hoë syfer van geweld te verklaar: “Ons hele samelewing is omgedolwe deur die einde van apartheid en ons probeer om gewoond te raak aan demokrasie en die moontlikhede wat demokrasie skep, maar ons kom basies uit ’n totalitêre situasie waar die meeste van die moontlikhede toegemaak was. Skielik is daar meer keuses, daar is meer moontlikhede om jouself te aktualiseer as ’n mens”, meen Van der Westhuizen.

Ek wonder of hierdie selfde bewering geld vir die nuwe generasie armblankes wat weens hul verkleur geen werk kan kry nie.

In die artikel kom na vore – en ek hoop dit is as gevolg van slegte redaksionele werk – hoe die konsep van seksuele onskuld waar Afrikaners mee opgevoed is ’n drogredenasie is om seksuele geweld te verbloem. Daar word in soveel woorde weer vinger gewys na die identiteit van Afrikaners as moontlike oorsaak van hierdie vorm van geweld, so asof Afrikaners die nommer een verkragters in Suid-Afrika is. Weereens word twee verskillende belewenisse van twee verskillende volkere deurmekaar gegooi. Die konsep van seksuele onskuld sien ’n mens ook in Renaissanceskilderye. As ons kyk na die bekende skilderwerk van Bottichelli oor die geboorte van Venus, sien ons ook onskuld soos wat sy haar skaamdele probeer toehou. Is hierdie skildery ook oëverblindery omdat dit seksuele geweld wegsteek? Of is dit juis om vroulike skoonheid uit te beeld as iets esteties?

Die hele idee van onskuld is heelwat groter en substansiëler van menswees as wat sy beweer. Emanuel Swedenborg beskryf onskuld as die hoogste goddelike eienskap wat daar is. Die hoogste vorm van onskuld is wysheid. Hoe meer wysheid iemand het, hoe meer onskuld het daardie persoon. Hierdie uitinge van Swedenborg is kenmerkend van die Westerse Christelike tradisie wat ons huidige lewens, ons kuns, wetenskap en literatuur bepaal het. Ons begrip van onskuld het sy oorsprong in ’n metafisiese waarheid en is dus geen patologie van Afrikanerwees nie.

Ek dink, soos Dan Roodt al genoem het, dat waar apartheid ’n metoniem vir Afrikaners is, is Afrikaners op hul beurt ’n metoniem vir die Christelike Weste.

As Van der Westhuizen ’n verklaring wil vind van seksuele geweld sal sy beter af wees om te kyk na daardie kulture en subkulture waar seksuele geweld aangemoedig word. Dit is juis die verval van tradisionele ordes wat sulke geweld veroorsaak. Dit is ook die rede waarom baie mense wat genoeg gehad het van hierdie anargie terugkeer na ’n wêreld van tradisie. Om Afrikanernasionalisme hiervan te beskuldig is nou wraggieswaar ’n geval waarin die medisyne met die siekte verwar word.

Duidelik kom na vore dat Van der Westhuizen weg wil breek uit die ou bedeling maar weet tegelyk dat die nuwe bedeling nie eintlik iets beters aan te bied het nie. Die “meer moontlikhede” waarvan sy praat stel nie veel voor nie, aangesien in baie samelewings interne verskuiwings plaasvind soos wat die tyd aanstap. In lande wat kenmerkend vroue verdruk soos Saoedi-Arabië en Iran sien ’n mens snaaks genoeg meer vroue met hoër onderwysgrade en selfs meer professore onder hulle as mans, terwyl in die Weste is die enigste persoon ooit wat twee keer die Nobelprys gewen het ook ’n vrou. Interessant genoeg het hierdie mevrou – Marie Curie – juis geleef nog lank voor die sestiger jare ’n karikatuur begin gemaak het van vroueregte.

Aan die einde van alle groot politieke kenteringe kom ’n mens tog maar weer terug by die begin en moet van oor af aan weer begin om op te bou wat hulle verlore laat gaan het.

In hierdie verband haal ek die volgende stuk aan van geskiedkundige Carroll Quigley, geskryf het:

For more than a century, from 1830 to after 1940, Catholics in America lived in a ghetto. When American Catholics decided to leave their ghetto (right after the Jews and just before the Italians and Negroes), they did what any people fleeing a ghetto do: they uncritically embraced the outside world, without seeing that that world was moving rapidly toward increased chaos, corruption and absurdity. They abandoned completely a basic principle of the Christian West: that salvation is to be found, either for the individual or for the community, only in slow growth in terms of one’s own traditions and background. If Catholic education had been willing to do that, it could have made a great contribution to American education and to American life, because the only thing which can save America or our world is to get back to the abandoned traditions of the Christian West and to resume the process of growth and development of our society on the basis of those traditions […] And now young people all over the country are trying desperately to get back to some kind of real, if primitive, Christianity, with little real guidance from their so-called teachers and clergy. What is even more ironical is that they, and the more progressive of their teachers, in their efforts to get back to the mainstream of Western Christian growth are trying to work out, by painful application, all those things (like multi-valued logic, or the role of daily good-works in Christian life) which were worked out within the Christian West long ago, but are now forgotten, and now have to be re-discovered as something new.

Aangehaal uit: Is Georgetown University Committing Suicide? Uit The Hoya, April 1967.

Waar Quigley op wys is trouens een van die belangrikste redes waarom kulturele integrasie voortdurend misluk. Sodra mense gekonfronteer word met ’n milieu wat te vreemd is, te bedreigend aanvoel of waarvan iemand ’n gevoel het dat sy bestaan in die wêreld nie tot sy reg kan kom nie, keer hulle na binne en gaan op soek na hul innerlike, metafisiese waarhede. Vanuit hierdie innerlike bron van kennis gaan hulle hulself opnuut heruitvind en hul direkte leefomgewing indeel soos wat hulle dit gewoond is om te doen.

Ofskoon baie mense in vreemde kulture dalk oor die vermoëns besit om redelik soepel in te skakel by die vreemde kultuur, gaan hulle tog iewers merk dat die kolossale gewig van reëls, kodes, uitdrukkingsvorms ensovoorts geen weerspieëling van hul innerlike belewenisse is nie, wat vervreemding veroorsaak. Uit vervreemding ontstaan ’n bose kringloop van verwarring en verdere vervreemding, aangesien vanuit die huislike omgewing ’n bepaalde stel verwagtings vereis word wat nie inskakel by die vreemde, dominante kultuur nie.’n Verlore jeug met afwykende bendekulture word hierdeur veroorsaak, wat ’n resultaat is van jarelange sluimerende onbegrip en frustrasie wat later omslaan in apatie en haat.

Om hierdie proses terug te keer is uiters moeilik, en ’n mens wonder of die hoë moordsyfer op die Kaapse Vlakte, met sy uiters diverse gemeenskap nie die resultaat is van integrasie en amalgamasie wat te ver gegaan het nie. Daar is geen bindende tradisionele kultuur om die groepe sin en rigting te gee nie maar slegs fragmente van vergane kulture wat geen bindende werking op die bevolking meer het nie.

Soos CJ Langenhoven destyds gesê het is die verskil tussen ’n indiwidu en ’n volk dat die indiwidu kyk terug en sien ’n wiegie en kyk na die toekoms en sien ’n graf. By ’n volk is dit andersom: ’n Volk kyk terug en sien ’n graf en kyk na die toekoms en sien ’n wiegie.

Met hierdie herinnering van Langenhoven ontstaan ’n volk se sedewette, gewoontes, kultuur, geloof en diverse hoër kultuurfunksies om te sorg dat hierdie aaneenskakeling gesond kan bly funksioneer van geslag tot geslag.

Dit is uiteraard belangrik dat samelewings moderniseer en eksperimenteer met nuwe kultuurgoedere. Die skade bestaan egter wanneer die gevestigde orde in sy geheel verwerp word en mense rigtingloos gelaat word. Mense begin dan te leef vir die tydelike, die lelike, vulgêre en uiteindelik gaan beskawings ten onder hieraan.

Kom ons hoop dat die jonger generasie ’n bietjie meer verstand het as die huidige een. Dit is al erg genoeg dat hulle vir hierdie gelag moet betaal.

Om kultuur en tradisie te herstel sal myns insiens goeie materiaal wees vir ’n waardige doktorsgraad.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.