Demokratiese Alliansie is ‘n dansskool

Deel op
Zille en Mazibuko lei 'n optog van die party vir wie die meeste Afrikaners voorheen gestem het
Zille en Mazibuko lei ‘n optog van die party vir wie die meeste Afrikaners voorheen gestem het

deur Hannes Engelbrecht

Ten spyte daarvan dat sy eie politieke kommentators soos Herman Gilliomee en Theo Venter (NWU-Pukke) die DA waarsku om nie die wit stem as vanselfsprekend te aanvaar nie, gaan Zille en haar span ongesteurd voort om die DA te “hervorm”.

Die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko, het pas weer hierdie week ‘n dwarsklap uitgedeel aan een van die wit bestuurslede, Athol Trollip. Dit het gevolg nadat die DA se kandidatelys gewys het hoe wittes (soos Niekie van der Berg) uitgeskuif word ter wille van die “transformasie” van die party.

Die DA se jeugvleuel is natuurlik klaar in geheel “verswart”, terwyl die Gauteng-kandidaat ook swart is. Dit sluit aan by Patricia de Lille (van die OD, wat ingesluk is deur die DA en verantwoordelik was vir die “groei” wat die DA kwansuis gewys het) wat met ‘n hand vol lojales Kaapstad bestuur.

Die DA se kleure as ‘n multikulturele party wat ‘n eenheidstaat voorstaan, kom al meer na vore. Hulle ommeswaai oor regstellende aksie, verandering van straatname, alewige ge-toyi-toyi en Dianne Kohler-Barnard se weiering om Afrikaans te praat, is tekenend van die rigting wat die party nou inslaan.

Anders as wat sommige media wil voorgee, is die DA ook nie die skoonste van partye nie. Die gedoente met Agang ruik na buitelandse inmenging met geldskenkings, die DA-raad van Midvaal verkeer in allerhande korrupsie-aantygings, en Manie van Dyk is amptelik Suid-Afrika se reistoelaag-koning. Op Potchefstroom was dit ‘n lagwekkende sirkus soos die DA probeer het om ‘n stadsraad te beheer met net ‘n derde van die stemme (wat in effek beteken het dat hulle in die kort rukkie aan die stuur geen demokratiese besluite kon uitvoer nie).

As ‘n multikulturele party het die DA ‘n swak vertoningsrekord wat betref die aanspreek van wittes en kleurlinge se probleme. Op die beste is hul mediaverklarings oor viskwotas en plaasmoorde net ‘n oorsigtelike gegorrel wat tog net nie hul swart kollegas aanstoot moet gee nie. Met laasjaar se plaas-onluste in die Wes Kaap was die DA met stomheid geslaan. Hulle beleid oor grondhervorming is so naby aan die ANC s’n dat daar eintlik eenstemmigheid is.

Omdat Zille en Mazibuko (Zille se voorkeurkandidaat vir volgende partyleier) ‘n onheilige houvas op die party het, kom hulle weg met dinge waarmee geen ander party sal wegkom nie. Op die kandidatelys is jong, onervare mense wat as sekretaris en as woordvoerder vir Zille opgetree het – ‘n duidelike bewys van regstellende aksie wat ook binne die party self aanwesig is.

Die DA, wetende dat politieke argumente en beleid hulle kan kortwiek, wend hulle al meer tot populistiese politiek. T-hemde, kospakkies, Zille in Moslemdrag, Zille in sangoma-seremonie, Zille aan’t toi-toi: dis ‘n nimmereindigende gespeel vir die gehoor sonder om enige politieke argument op die tafel te sit.

Die Demokratiese Alliansie spog graag met die Wes-Kaap. Maar as jy praat met ingeligte Wes-Kapenaars kom ‘n ander prentjie na vore – dit is nie die “regeringsvermoë” van die DA wat die Wes-Kaap en Kaapstad laat uitblink nie; dit is die unieke werkerskorps binne die stad en provinsie wat die verskil maak.

Gaan dit help om enige van die dinge wat hierbo genoem word aan die DA te vra? Nee, dit gaan nie. Die DA hou nie van politieke argumente nie, want dit kan dalk kiesers wakkermaak. Die DA sal eerder antwoord deur iewers in ‘n “township” te gaan dans en T-hemde uit te deel. Dít is die Demokratiese Alliansie.

Hannes Engelbrecht is leier van Front Nasionaal.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.