EU-president boor ‘n aar raak oor Joodse water

Deel op
Martin Schulz
Martin Schulz

Die Israelse media is in rep en roer nadat die president van die Europese parlement Israel se waterbeleid bespreek het.

Die president, Martin Schulz, het na die Jode se waterverbruik verwys wat vier keer meer water as die Palestyne kry.

“Hoe kan dit wees dat ‘n Israeliese persoon 70 liter water per dag kan gebruik, maar ‘n Palestynse inwoner net 17 liter?” het Schulz gevra.

Sy toespraak het groot ontevredenheid veroorsaak. Die regse Joodse Tuiste-party het uitgestorm uit die Knesset.

Die voorsitter Naftali Bennett, het gesê die toespraak was “smaaklose propaganda” en sy party eis ‘n verskoning van die president.

Premier Benjamin Netanyahu het Schulz daarvan beskuldig dat hy nie by “die feite” gehou het nie. ‘n Gratis koerant, die Israel HaYom, wat na aan die premier is, het Schultz van “valse laster teen Israel” beskuldig.

Schulz het ook die oprigting van Joodse vestings gekritiseer as ‘n struikelblok vir vrede. Hy het daarop gewys dat die Gasaversperring Israel se veiligheid ondermyn eerder as versterk.

Die meeste koerante het op hul voorblaaie skerp kommentaar gelewer oor die waterverbruiksyfers wat Schulz genoem het.

Verskeie organisasies gemoeid met die Palestynse kwessie, het Schulz egter gelyk gegee.

Volgens Friends of the Earth Middle East toon 2011-statistiek dat in Israel se watergebruik per kapita per dag 250 liter is, teenoor 70 liter in Palestina.

Die Israeliese regte-groep, B’Tselem, het ook gesê dat Joodse burgers baie meer water kry as die Palestynse inwoners in Gasa en aan die Wesoewer.

Volgens die Israeliese nasionale watermaatskappy Mekorot, is die gemiddelde huiswaterverbruik tussen 100 en 230 liter per persoon per dag.

Aan die Wesoewer is dit sowat 73 liter, indien hulle aan die hoofwatertoevoer verbind is. Anders is die inwoners afhanklik van rëenwater en water wat ten duurste by tenkwaens verkoop word.

Die Palestynse Bevrydingsorganisasie het gesê die gemiddelde daaglikse Palestynse huishoudelike verbruik is 70 liter per persoon , terwyl die Wêreldgesondheidsorganisasie ‘n minimum van 100 liter aanbeveel.

“In die suidelike deel van die Wesoewer is daar gemeenskappe wat minder as 15 tot 20 liter per persoon per dag kry,” het die PBO bygevoeg.

In ‘n onderhoud met die Duitse koerant Die Welt Donderdag, het Schulz gesê hy is uit die veld geslaan deur die tirades.

“Die woedende reaksie van sommige parlementslede in Jerusalem het my verras en bekommer,” het hy gesê en bygevoeg dat hy sy toespraak as “pro-Israel” beskou het.

Die gemiddelde verbruik in Gasa is tussen 70 en 90 liter per persoon per dag, maar die kwaliteit van die water is besonder swak, met 90 persent daarvan wat ondrinkbaar is, volgens Wêreldgesondheidsorganisasiestandaarde.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.