Staatsrede fokus op protes, myne

Deel op

sona2President Jacob Zuma het in sy staatsrede sy kommer uitgespreek oor geweld by protesoptogte.

Die president het ook gesê dat meer gedoen moet word om te verseker dat munisipale werkers beter gekwalifiseer is. Hy het gesê werk behoort nie aan onbekwame mense gegee te word nie.

Alhoewel die reg om te betoog ‘n demokratiese een is, word dit ondermyn deur optrede wat lewens bedreig en eiendom beskadig, het hy gesê.

Zuma sê die groot aantal sogenaamde diensleweringsbetogings word nie alleen die mislukkings van die regering veroorsaak nie. Hy sê dit is juis as gevolg van die regering se sukses in dienslewering dat verwagtinge hoër as ooit is.

Hy het die versekering gegee dat ekonomiese groei die daling in die waarde van die rand en die inflasie-risiko sal teëwerk.

Die geld-eenheid het verlede jaar met meer as 17 persent teenoor die dollar gedaal. Die skerp daling in die waarde van die rand het ook bygedra tot die eerste verhoging in rentekoerse in meer as vyf jaar.

Zuma sê Suid-Afrika word soos ander ontluikende markte negatief geraak deur ekonomiese probleme in die VSA wat aanleiding gegee het tot die verswakking van die rand.

Zuma het in ‘n passievolle pleidooi aan mynbase en vakbonde gesê onnodige stakings lei tot werkverliese.

Hy het van sy geskrewe toespraak afgewyk om mynmaatskappye en werkers aan te moedig om die land se belange voor hul eie te plaas. Die mynbedryf dra R60 miljard aan belasting by.

Die president het die regering se verbintenis tot skaliegasontginning bevestig, tot die ontsteltenis van omgewingsaktiviste.

Zuma se aandrang op opleiding vir handgebaretolke het vir ‘n geskater uit die gehoor gesorg.

Die leier van die IVP, Mangosuthu Buthelezi sê Zuma mislei die land oor die uitgebreide openbare werke program wat ses miljoen werksgeleenthede kan skep. Hy sê dit is tydelike werk, terwyl die land volhoubare werksgeleenthede nodig het.

Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, het in sy reaksie die president daarvan beskuldig dat hy nie die werklike uitdagings waarmee gewone mense te kampe het, aangespreek het nie.

Holomisa sê Zuma het geen aandag gegee aan korrupsie, misdaad en ander uitdagings waardeur Suid-Afrika bedreig word nie.

Die leier van die DA, Helen Zille het in haar kritiek ook gekla oor werksgeleenthede wat slegs tydelik van aard is.

Die party se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko het gesê die land het nie onder president Zuma verbeter nie.

Die leier van COPE, Mosioua Lekota, sê president Zuma se Staatsrede het nie veel inhoud gehad nie. Zuma het in sy toespraak gesê die teenkorrupsiestrategie binne die Staatsektor is besig om vrugte af te werp met die meer as 1.500 amptenare wat afgedank is.

Hy het ook gesê die Nasionale Teenkorrupsie-blitslyn het ook gehelp om meer as R320 miljoen terug te kry. Lekota sê volgens hom misluk die regering in sy stryd teen korrupsie.

 

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.