
Die geroemde en begaafde Afrikanerpianis Ben Schoeman, wenner verskeie internasionale klavierkompetisies, moes van sy konserte afstel nadat sy regterhand beseer is toe hy beroof is.
Schoeman moes sy konserte wat in Februarie en Maart in Durban, Stellenbosch en Johannesburg gehou sou word, uitstel, asook konsertverpligtinge in die buiteland.
Hy is op 31 Januarie in die Britse hoofstad, waar hy tans woon, by ’n ATM beroof en sy hand is beseer.
Hy sou op 27 Februarie met die tjellis Anzél Gerber in die Durbanse stadsaal optree vir die première van die Suid-Afrikaanse komponis Stefans Grové se Concerto vir tjello, klavier en orkes. Gerber sal steeds as solis optree.
Schoeman voltooi tans sy doktorale tesis oor die klaviermusiek van Stefans Grové. Hy is steeds vol vertroue dat hy einde April reeds sy verpligtinge in twee konserte in Kaapstad sal kan nakom.