Die R3,90-plan – en hoekom dit miljoene gekos het, deel III

Deel op

 ImageLees ook Deel  I: En vir ons president: 'n bottel met 'n blou etiket, 'n pyp en 'n Harvardman

Lees ook Deel II: AsgiSA! Gesondheid..!

Die Konsultant het op 'n slag uitgewerk hoeveel die antwoord gekos het.

R3-90 (en nie 'n sent meer nie.)

Miskien so 'n dag of wat se luilekker leeswerk (en nie 'n sekonde meer nie).

Deel op

Hy was een van die “Suid-Afrikaans-gebaseerde akademici” wat sou optree as “mede-navorsers of assistente” (soos die regering hulle beskryf het) van die Harvard-groep.

Die Konsultant is deur Hausmann self genader om te help met die voetwerk rondom die loopgrawe van die projek.

Daar is hierdie projek, is hy beduie, wat 'n paneel deskundiges namens die Suid-Afrikaanse regering sou uitvoer. Die opdrag is vervat in 'n eenvoudige vraag: “Wat moet die regering doen om ekonomiese groei in Suid-Afrika te stimuleer?”

Die Konsultant het gereken die antwoord is net so eenvoudig soos die vraag, maar ter wille van akademiese integriteit en deeglikheid het hy dit gaan navors.

“Hallo die Universiteit van Google,” is hoe hy dit opgesom het.

Hy het een middagete by Greenfields in Meyerspark gaan sit met sy skootrekenaar, bodemlose koffie gedrink en Camel gerook.

“Die dokumente wat ek afgelaai het,” sê hy, “ôg, ons praat nie van duisende bladsye nie. Ek het regtig nie baie data daarvoor gebruik nie. Kom ons sê so tien meg. Weet jy hoeveel dit my gekos het?

Ek gebruik 'n Vodacom draadlose modem met 'n voorbetaalkaart. Ek koop data teen 500-meg bondels aan. 'n Meg kos my 39 sent. So, die tien meg het my dan presies R3-90 gekos.

Ek het die dokumente wat ek afgelaai het dié Saterdag voor die Super-14 rugby gelees.

En toe weet ek alles wat ek moet weet.”

Tog het die Konsultant die Harvardman se uitnodiging om aan die projek deel te neem aanvaar.

“Maar natuurlik,” sê hy. “Ek het nou maar 'n swak daarvoor om ernstige akademiese monsters te sien ernstige dinge doen. Maar behalwe vir dit, hei!, konferensies in luukse hotelle, uitstappies na eksklusiewe losies in die bosveld, goeie wyn, duur kos… wat is daar om voor nee dankie te sê.”

Nie dat sy gewete hom nie so effens gepla het nie.

“Natuurlik. Wat dink jy? Luister, daar was tye wat dit alles vir my so absurd was. Almal neem dit so ernstig op, mens sou sweer hulle was besig om die hofstukke vir die Nüremberg-verhore op te stel.

En die hele tyd is daar geen misterie aan enige iets hiervan nie. Ons almal, álmal, het geweet wat die waarheid is.

Vra my die vraag, toe, die projekvraag, vra dit vir my.”

Nou goed dan.

Vraag: Wat moet die Suid-Afrikaanse regering doen om ekonomiese groei in die land te stimuleer?

Antwoord: Wat dit ook al is wat hulle nou doen, hulle moet dit nie meer doen nie.

“Kyk,” verduidelik die Konsultant, “dit is geen ingewikkelde, sensitiewe, esoteriese ekonomiese teoretiese vraagstuk nie.

Enige iemand met 'n rekenaar en 'n modem kan dit vir hulleself gaan lees. Al die inligting is oop en bloot beskikbaar. En as jy nie tyd of lus het om baie te lees nie, kom ek beveel vir jou net een webblad aan, dié van PRAAG. Skrywers soos Joseph Secréve, Dan Roodt, Buks van Rensburg en Anton Barnard het die hele krisis presies, onbevange en in goeie taal beskryf. Tien, vyftien, twintig van hulle rubrieke en niemand, nie eers jyself, kan meer met jou stry nie.

As die projekvraag ‘Wat moet die ANC doen om ekonomiese groei te smoor?’ was, sou jy net doodeenvoudig gesê het hulle moet presies doen wat hulle op die oomblik doen.”

'n Bietjie toeligting?

“Hoe sal ek nou vir jou sê. Sit jouself in die ANC se posisie net nadat hulle die regering in 1994 oorgeneem het.

Daar is hierdie persepsie, en niemand dryf dié persepsie meer as die ANC self nie, dat hulle 'n gestolde, selfs erg gekrokte ekonomie geërf het.

Niks was verder van die waarheid nie.

Die Boere het vir hulle 'n wêreldklasekonomie gelos: Sterk landbou, sterk mynbou, sterk landadministrasie, uitstekende infrastruktuur, wêreldklasnywerheid, nog relatief klein ja, maar sterk en groeiend, gebaseer op miskien die beste vakleerlingstelsel enige plek op die aardbol.”

Maar wat dan van die baie lae groeikoers, wat was dit, een persent?, deur die sewentigs en tagtigs?

“Wat daarvan?

Dis nou maklik om te praat van 'n lae groeikoers maar jy moet net 'n bietjie in gedagte hou wat die land en die ekonomie alles moes deurmaak.

'n Reeks energiekrisisse, sanksies en 'n redelik omvattende handelsverbod.

En onthou 'n bietjie die kredietkrisis van die laat tagtigerjare. Ek bedoel, besigheid is besigheid en alles, 'n bietjie soos liefde en oorlog en alles is regverdig, maar dit was meer as 'n bietjie agterbaks van die Amerikaanse banke om sonder waarskuwing skuld op te eis en te weier dat dit oorgerol word.

Maar Suid-Afrika het, anders as omtrent enige ander Afrika-land, nie net hulle skouers oor die skuld opgetrek nie. Hulle het almal verstom deur hulle vermoë om reëlings te tref om dit terug te betaal en, baie belangrik, by hierdie reëlings te bly.

Kyk 'n bietjie na ander lande wat deur dié tipe sanksies getref is. Kuba. Noord-Korea.

Nee, laat ons eerlik wees, die feit dat Suid-Afrika se ekonomie enigsins in dié tyd gegroei het, is 'n bewys van 'n baie, baie taai, 'n robuuste ekonomie.”

En toe kom die ANC…

“Toe kom die ANC.

Luister, dink net daaroor. Wat is dit wat 'n land nodig het vir 'n gesonde ekonomie, laat staan nog 'n ekonomie wat groei?

Om mee te begin het jy 'n sterk landadministrasie nodig. Die ANC hét dit gekry. Dit was daar. Boem! In hulle skote geval. 'n Gesofistikeerde administrasie met goedopgeleide, hardwerkende amptenare.

En wat doen die ANC? Verdryf hulle en vervang hulle met 'n baie groter korps amptenare teen baie hoër salarisse. Wat alles orraait sou gewees het, as hulle die werk gedoen kon gekry het.

Maar hulle kan nie. Hulle is nie opgelei nie en meeste van hulle kom nie uit 'n kultuur waar werkywer en stiptelikheid as waardevolle eienskappe gesien word nie.

Die land se administrasie stort so te sê in duie. As jy in hierdie land bly, sien jy dit orals, of jy nou 'n voertuiglisensie probeer hernu of 'n waterpermit probeer bekom of wat ook al.”

Nou goed. Maar behalwe vir landadministrasie?

“Soveel as moontlik van jou mense moet werk.

Werkloosheid in Suid-Afrika onder die ANC het nie afgeneem nie.”

Nie?

“Nie net het dit nie afgeneem nie. Daar is nou 'n kleiner persentasie van die bevolking as ooit wat werk. In 1995 kon 15 persent van die mense wat werk gesoek het, nie een kry nie. Nou is dit oor die 27 persent. Net 42 persent van die bevolking van werkende ouderdom het werk. Dit beteken in hierdie hele, ganse bevolking is daar net 13-miljoen wat werk.

Ek weet die ANC maak groot geraas daarvan dat hulle soveel miljarde en dié en daai gespandeer het op werkskepping. En in seker sektore hét hulle baie meer werk geskep om die swart diamante – wat 'n benaming! – om die swart diamante te akkommodeer.

Maar dit is nie in sektore wat jou ekonomie laat groei nie, is dit?

Dit is in die finansiële dienste-sektor, versekering, staatsdiens ensovoorts, ensovoorts. Maar vir jou ekonomie om te groei moet jy iets úítvoer en jy kan nie plaaslike bankdienste uitvoer nie kan jy?

Die sektore wat jou ekonomie laat groei is landbou, mynbou en die vervaardigingsektor. En dit is juis die sektore wat jou probleem met werkloosheid oplos omdat dit die grootste hoeveelheid ongeskoolde arbeid absorbeer. En indien jy nie geweet het nie, Suid-Afrika het báie ongeskoolde arbeiders, miljoene en miljoene en miljoene van hulle.

So, wat sou die eenvoudige, slim ding gewees het om te doen?

Stimuleer die landbou, stimuleer mynbou.

En het die ANC? Ha!

Tussen 1994 en nou het daar so 'n moesiehaar minder as 300,000 werke in die mynbou en die landbou verlore gegaan.

Mynbou is 'n tragedie, 'n absolute tragedie. Regoor die wêreld is kommoditeitspryse maar ek bedoel die bloue hemel in. Elke land met 'n minerale vermoë belê hulle laaste geldjies in mynbou want hulle weet die opbrengste gaan fenomenaal wees. Maar nie Suid-Afrika nie. Investering in mynbou het onder die ANC nie gegroei nie, nie gestagneer nie, dit het gekrimp. En buitelandse beleggers bly in hulle hordes weg. Infrastruktuur wat in duie stort, burokrasie wat met die spoed van 'n gevriesde jellievis beweeg…

Weet jy as jy 'n myn in Suid-Afrika wil begin, moet jy 'n lisensie kry om water daarvoor te benut? En daardie permitte is onverkrygbaar. Onverkrygbaar! Jy wag drie, vier, vyf jaar daarvoor.

As jy nou BHP Billiton of Rio Tinto is, waar gaan jy jou swaarverdiende biljoene heen vat? Suid-Afrika? Of Sjina wat jou op die hande dra? Suid-Afrika? Of Australië waar alles wat moet werk, werk?

Jy moet net onthou, 'n buitelander wat in mynbou in Suid-Afrika wil belê, weet hy begin met 'n twintig- of 'n vyf-en-twintig persent heffing wat hy moet dra. Swart Ekonomiese Bemagtiging. En dan weet hy, as hy al die permitte en lisensies kry, hy waag sy kapitaal in 'n land met die hoogste misdaadsyfer wat jy aan kan dink, 'n werklik patetiese en korrupte polisiemag…

Dan vat hy liewers sy geld en sit dit in 'n opgradering van 'n Zambiese kopermyn in.”

Die Konsultant dink nie veel van die ANC nie.

“Dink vir jouself. Om 'n land se ekonomie te laat groei, is dit belangrik dat jy meer en beter opgeleide werkers kry. So wat doen die ANC? Hulle skaf die vakleerlingstelsel af. Hulle doen vir alle praktiese doeleindes weg met die technikons. Hulle sluit die verpleegkolleges. Hulle sluit die polisiekolleges.

Goeie hel, hulle sluit die ónderwyskolleges. Die onderwyskolleges! Die regering is besig om 'n geslag ongeletterde, ongeskoolde, onopgeleide werkloses voor te berei.

Hierdie is nie iets wat jy vandag of hierdie jaar of volgende jaar gaan oplos nie.

Dit gaan dekades vat. Dekades!”

So?

“So kom ek som op: Die ANC belê nie in enige nuttige sektore in die land nie, dit skrik buitelandse beleggers af, en dit maak 'n geslag ongeletterdes groot terwyl dit miljarde uithaal vir mense met hoë-status werke wat hulle nie kan doen nie en, sou hulle dit kon doen, help dit niks want die vrug van hulle arbeid kan nie uitgevoer word nie.”

Vraag: Wat moet die ANC doen om die land se ekonomie te laat groei?

Dit is die miljard-dollar vraag.

Die antwoord kos R3-90.

En jy weet wat dit is.

купить воронеж прочий инструментФильчаков Александр Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.