Oraniagebied nie reg vir ‘n volkstaat

Deel op
In hierdie stuk word ‘n aantal argumente gestel dat die Orania-uitbreidingsgebied nie geskik is vir ‘n Afrikanerland nie. Dit handel nie oor Orania as gemeenskap nie.
Deel op

Die eerste punt, wat vir alle gebiede geld, is dat ons volk myns insiens nie bereid is om vreemde arbeid te los nie. Maar indien tot ‘n groot mate wel, dan geld die volgende nadele betreffende Orania.

  1. Dit is afhanklik van water wat van 'n buurland afkomstig is. En soos wat die kompetisie vir water al groter word, sal die kwesbaarheid toeneem.
  2. Omdat voedsel net met besproeiing geproduseer kan word, is dit ‘n duur proses en daarby kan slegs ‘n beperkte hoeveelheid geproduseer word. Die Afrikanerland sal dus sy voedsel moet invoer, selfs al sou die hoeveelheid water wat nou deurgelaat word dieselfde bly.
  3. Omdat besproeiing duur is, is dit gewoonlik nodig om besproeingsgrond intensief te bewerk en gewasse te kies wat daarby pas. Dit is dus arbeidsintensief. En dit is juis ‘n swak punt van ons volk dat ons nie noemenswaardig eie arbeiders het nie.
  4. Die gebied is baie swak geleë vir nywerhede, want dit is ver van grondstowwe en ver van die mark. As iemand daar byvoorbeeld ‘n yskas wil maak, moet hy die staalplate, elektroniese toebehore, ens. alles van Gauteng af invoer. As hy ‘n probleem het dat iets nie werk nie, moet hy gou Gauteng toe ry om die probleem op te los. En as hy dit klaar gemaak het, moet hy dit weer terug vervoer Gauteng toe om daar te verkoop. Toebehore kan natuurlik oorsee gevind word en ook daarnatoe uitgevoer word, maar dan geld dieselfde argumente. Dit is dus nie betalend om daar iets te vervaardig nie. Ek weet daar is items waarvan die vervoerkoste klein is, byvoorbeeld om juwele of horlosies te maak. Maar dit verg ‘n gevorderde kundigheid wat ons nie het nie, en in elk geval sal ons moeilik met byvoorbeeld Sjina kan meeding. Maar, ons moet in elk geval ‘n sterk onderbou van “growwe” nywerhede hê (yskaste, motors, vragmotors, trekkers, implemente) wat ons ook self sou kon doen as ons ‘n geskikte plek het, maar dis nie die Oraniagebied nie.
  5. Die Oraniagebied is afhanklik van elektrisiteit wat van elders moet kom. Daar is nie steenkool, ruolie of ander energiebronne nie. Dit kan wel kernkrag wees, maar hoe begin jy so ‘n kragstasie wat seker R20 miljard sal kos?
  6. ‘n Mens kan mos nie ‘n verdeling van Suid-Afrika maak volgens oppervlakte nie. Indien dit  die Oraniagebied moes wees, as dit moontlik sou wees,  dan sal dit relatief uitgestrek wees en ‘n duur infrastruktuur verg.
  7. Daar is baie Kleurlinge in daardie gebied. Dit sal moeilik wees om van hulle te skei in ‘n eie land, want hulle praat Afrikaans, en is nader aan ons.
  8. Die argument van “dat daar nog niks is, en ‘n mens dus makliker aan die gang kan kom”, gaan ook nie op nie. Eerstens is daar tot dusver niks om goeie redes soos wat ek hierbo genoem het. En tweedens, gestel dat dit moontlik sou wees om ‘n sterk nywerheidsgebied te vestig, dan sou dít die suigkrag wees wat vreemdes soontoe trek. Dus sou hierdie soort van probleem net uitgestel word vir later, indien ontwikkeling wel moontlik sou wees.
  9. Dis ook nie die deel waarvoor ons geveg het nie. Dis nie waar die meeste van ons woon en die vrugte van ons ontwikkeling geniet nie. Ons verdien tog iets beters. Dit is vir die meeste van ons vreemd en ek wil amper sê dat as dit die keuse sou wees die meeste van ons oorsee toe sou gly in plaas van te bly.
  10. En, laastens, wat baie belangrik is. Dit sal nie moontlik wees om in die Oraniagebied magsmiddele op te bou wat ‘n mens in staat sal stel om jouself te handhaaf in geval van probleme met ander lande nie. Om sterk te wees moet jy ‘n sterk ekonomie hê, en by voorkeur strategiese bronne hê waar andere van afhanklik is. En dít het die Oraniagebied nie. Die gebied is juis afhanklik van bure.

Ten slotte, hoekom nou soos ‘n martelaar gaan kopstamp teen ‘n muur in daardie verlatenheid, met sulke sterk argumente teen jou.  Soos reeds gesê, praat ek nie van Orania as gemeenskap nie. Dit is wel aan die gang, en ‘n goeie oefening daarby. Moet dit net nie propageer as ‘n land vir die Afrikaner nie, want dan probeer die maghebbers ons netnou op dáárdie syspoor rangeer om daarna van ons te vergeet—‘n irrelevante groepie waarna toeriste kan gaan kyk, maar met geen mag of invloed nie!

‘n Land vir die Afrikaner is nie nou moontlik nie, behalwe as daar miskien êrens ‘n gebied is wat niemand anders wil hê nie. Die Oos-Transvaalse gebied wat ons Oranjewerkers destyds as Hartland gepropageeer het, was wel moontlik uit ‘n posisie van mag. Dan sou dit moontlik wees om druk- en trekkragte in werking te stel om so ‘n land te herwin.

Nou is dit anders. Wat ons myns insiens moet doen — vir die volgende twintig, dertig jaar of langer — is om gemeenskapsbewus te word, om te werk aan ons beveiliging en om ekonomies sterk te word. (Ons moet ekonomies nou op eie bene begin staan, want daar is nie eintlik plek in die staatsdiens of groot maatskappye nie.) Die gemeenskappe of groeipunte soos die Oranjewerkers dit genoem het, (selfs so klein as ‘n woonbuurt) sal aanvanklik, of selfs altyd  “geperforeer” wees, deurdat daar ook andersdenkendes tussen ons woon. Maar dit maak nie saak nie, want deur doelbewuste verhuising kan ons meerderhede word, waar ons dit nog nie is nie. En ons skakel tog met mekaar oor andere heen. Dus, waar ons nou bly, in die stad of elders, moet ons met mekaar kontak maak en begin saamwerk in eie belang. Wie weet dan of groot wêreldkragte, wat buite ons beheer is, en ander faktore, dit nie eendag tog moontlik sal maak dat ons ‘n eie regering bekom nie? Dit mag dan ook wees dat die gemeenskappe wat so gevorm het ‘n sinvolle basis vir toekomstige optrede sal wees.

повысительная насосная станцияалександр лобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.