DA-optog verby na geweld uitbreek

Deel op
Foto van Twitter
KFC op die spyskaart. Foto van Twitter

Die DA het die witvlag gehys nadat geweld uitgebreek het in Rissikstraat in die middestad van Johannesburg.

DA-ondersteuners moes inderhaas teruggelei word na die Westgate-vertrekpunt.

Oproermakers wat by die optog wou aansluit is in Rissikstraat met skokgranate afgekeer.

Die polisie het ook met rubberkoeëls op ANC-ondersteuners gevuur by Luthulihuis.

Duisende DA-lede is Woensdagoggend ingebus vir die opmars teen die ANC.

Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het vroeër gesê die sowat 6 000 DA-lede is daarop uit om kwaad te stook en hulle “hoop vir drama.”

“Ons sal die ANC-ondersteuners so goed as wat ons kan in toom hou. Ons verwag uitlokking. Dis al wat ons nou kan doen,” het Duarte bygevoeg.

Duarte het gesê die DA moes die optog na die parlement of die Unigebou gelei het.

Sy het ook gesê Zille weet nie hoe om vreedsaam te betoog as sy deur veiligheidwagte vergesel moet word nie.

Die DA het sowat 500 private veiligheidsbeamptes vir die optog gehuur. Dit is nie bekend of die beamptes betrokke was in die geweld nie.

Daar is steeds ‘n groot polisie-teenwoordigheid rondom Luthulihuis en toegangsroetes daarheen.

“Ons maak vandag ‘n statement,” het Marcel Maritz, DA-raadslid van Mokopane in Limpopo aan Beeld gesê.

Helen Zille het gesê die DA moet wys “hoe gewelddadig die ANC geword het”. Sy het nie kommentaar gelewer oor die DA se uitlokking nie.

Adv. Antony Stein SC, vir die DA, het ontken dat die DA met uitlokking besig is. Hy het gesê die DA het “geen intensie om tot by Luthuli-huis te beweeg” nie.

Die DA is egter voor hulle opmars telkens ook deur hul wit ondersteuners gewaarsku dat dié optog tot geweld sal lei.

Zille het aan DA-lede gesê ANC het nie toestemming om te betoog nie, en die ANC-teenwoordigheid in die strate is onwettig.

Die polisie is Woensdag glo in die middestad van Johannesburg ook met petrolbomme bestook.

Die DA-ondersteuners het ‘n uur laat met hul optog begin. Helen Zille het intussen verklaar dat die optog verby is.

ANC- en EFF-lede is steeds in die middestad uitgekamp en KFC-wegneemhoender en gaskoeldrank word tans vir middagete bedien.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.