Nog ‘n G8 beraad

ImageDie G8-lande (Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, Rusland, Groot Brittanje en die Verenigde State) het weereens beraad gehou, dié keer in Japan. Die doel van die organisasie is om leiding aan die wêreld te gee, veral op ekonomiese gebied. Die beraad word jaarlikse gehou, maar ministers van finansies, omgewingsake en buitelandse sake ontmoet meer dikwels om die agenda van die beraad saam te stel en voor te berei.

Die G8-lande word as die toonaangewende ekonomieë beskou, en is deesdae meer belangrik as die Verenigde Nasies en Veiligheidsraad; organisasies wat op die wêreldorde van 1950 gebou is, en wat sedertdien deur patologiese diktators en regimes gekaap is. Desnieteenstaande, is die G8 ook taamlik tandloos, en die groep se invloed, indien enige, is meestal beperk tot moralistiese uitsprake en vingerwysings. 

Die mees onlangse beraad het drie sake uitgesonder vir spesiale aandag, naamlik (1) Die Wêreldekonomie, (2) Omgewingsbewaring en Klimaatsverandering, en (3) Afrika. Die drie items is die gewone agenda vir die G8, ten spyte daar van dat daar skynbaar nog nooit enige vordering gemaak is met preke en goeie voornemens na ‘n ontmoeting nie.

Afrika is elke keer op die agenda van die G8, waarskynlik omdat die Christelike sendelingopdrag so sterk onder die G8-leiers is, waarvan ten minste 6 (met die uitsondering van Japan en Rusland waar kommunisme in laasgenoemde die Christelike kultuur vernietig het) se onlangse kultuur en afkoms in Christendom gewortel is. Die patologiese armoede en geweld in Afrika ken geen perke nie, en die Weste, wat deels hiervoor verantwoordelik voel, kan dit nie ignoreer nie.

Die ander twee items, naamlik die wêreldekonomie en omgewingsbewaring, hou nou verband:  die huidige oliekrisis veroorsaak ekonomiese spanning, terwyl dieselfde verbruik van olie tot aardverhitting bydra.

Die oliekrisis, wat eerder as ‘n energiekrisis ontleed moet word, het sedert 2007 begin byt. Verskeie G8-leiers, met die uitsondering van Rusland, is erg onthuts oor die olieprys, en het onlangs eers in Jeddah, en toe weer in Spanje, met OPUL-lande onderhandel en hulle versoek om meer olie te produseer om die histories hoë prys na benede te dwing. ‘n Volgehoue hoë energieprys sal inflasie veroorsaak, en as die lesse van die 1970s onthou word, sal ons eersdaags stagflasie en daarna ‘n resessie ervaar.

Toe die vertoeë aan OPUL in Jeddah nie werk nie, het waarnemers eers spekuleerders geblameer, en daarna is verwyte rondgeslinger oor die afname in eksplorasie in die Noordsee en die VSA. Alles en almal is nou al geblameer, behalwe natuurlik die basiese ekonomiese wet dat aanvraag en produksie balanseer:  As die produksie van olie afneem, of as die aanvraag styg en produksie stagneer, sal die prys sodanig styg om aanvraag af te dwing tot dit in ekwilibrium met produksie kom.

Dit word nou algemeen erken dat die wêreld sedert die begin van 2007 in die greep van ‘n volskaalse energiekrisis verkeer:  Die G8 voel die krisis nog net oppervlakkig in hulle ekonomieë (hoër brandstof, voedsel en kragpryse) , maar manifestasies in die ontwikkelende wêreld sluit voedseltekorte, kragonderbrekings, en fisiese tekorte aan brandstof in. Die res van die storie moet nog geskryf word, maar veral die armer dele van die wêreld gaan baie swaar deurloop, en hongersnood in sekere wêrelddele is nie uitgesluit nie.

Die enigste oplossing is om die aanvraag na olie in die G8-lande onder bedwang te kry, maar kanse hiervoor is skraal. Die ryker G8-lande is juis die beste gesitueer om duurder olie te bekostig, en om ander bronne (wind, kernkrag, en dies meer) te aktiveer. Die “peak oil” verhaal is nou besig om te ontwikkel en die eerste tekens van die krisis kan ons reeds in hoër elektrisiteitsrekeninge, hoë brandstofpryse, bankrot lugrederye, en veral hoër voedselpryse sien. Die latere manifestasies sal realiseer in die grootskaalse afname in oorsese reise en die hervestiging van die mensdom, dan uiteindelik hongersnood en selfs energie-oorloë. Daar is nie ‘n maklike oplossing nie, en mense wat dink dat biobrandstof, windenergie, kernkrag of wat ookal tot ons redding gaan kom, verstaan nie die omvang van die probleem nie. Die mensdom het olie letterlik geëet, en minder olie beteken veral onder andere minder voedsel.

Terwyl die G8-leiers onder mekaar debatteer en OPUL se hulp versoek, is voedselpryse steeds besig om te styg. Die rede hiervoor is tweevoudig: eerstens energiepryse, en tweedens biobrandstof. Oortollige graan wat voorheen as hulp aan eksponensieel groeinde bevolkings in die ontwikkelende wêreld geskenk is, word nou eerder in biobrandstof omgesit. Tesame met Sjina en Indië se groeinde aptyt vir vleis en graan, veroorsaak dit akute tekorte op die wêreldgraanmark.  Onluste oor voedseltekorte is reeds besig om uit te breek, en ontwikkelende lande met ontploffende bevolkings is magteloos om die effek van die energiekrisis om te keer, en om onluste wat as gevolg van voedseltekorte uitbreek, te voorkom.

Dit is teen hierdie agtergrond dat Afrikaleiers (in die vorm van Suid-Afrika se ANC-leierskap) weer bakhand by die G8-beraad opdaag. Suid-Afrika se teenwoordigheid by die beraad moet ontleed word ten opsigte van die Zimbabwekrisis, wat Westerse leiers reeds erg omgekrap het. Robert Mugabe, wat skynbaar deur sy mede-Afrikaleiers erken word as staatshoof in Zimbabwe, in daad indien nie in woord nie, word nou openlik deur die G8 as ‘n illegitieme leier beskou, en hulp aan Afrika word gekoppel aan die oplossing van die krisis in Zimbabwe. In ‘n sterk bewoorde verklaring word aanbeveel dat dit Afrikalande se plig is om Mugabe te verwyder: ‘n senior Kanadese leier sê “The role of the Africans, since it's in their region, is to take whatever steps are needed to remove Mr. Mugabe from power, and this is up to them to do it."

Niemand verwag wonderwerke nie, maar daar is nou duidelik ‘n verwagting geskep. Dit kan egter nie te ernstig opgeneem word nie. Daar is ‘n hele geskiedenis waar Westerse lande beloftes maak om hulp aan Afrika te verskaf. Drie jaar gelede is daar in Gleneagles belowe om hulp te verdubbel, waarvan maar min gekom het. Die koppeling van hulp aan die Zimbabwekwessie is nuut, en plaas veral Suid-Afrika se ANC-leiers in ‘n onbenydenswaardige posisie: Hoe keer die ANC hulle historiese ondersteuning vir Mugabe oortuigend om?

Die werklike oplossing vir Afrika se probleme is uiteindelik nie gesetel in Westerse hulp nie. Hulp vanuit die Weste maak ‘n klein groepie ryk Afrikane nog ryker, en doen niks om die kontinent te ontwikkel nie. Die verslawing van ryk Afrikaleiers aan Westerse hulp doen baie meer skade as goed, en is in der waarheid ‘n belasting op armer Westerse burgers ten gunste van ‘n korrupte en ryk opperklas in Afrika.

Afrika kan egter voordeel trek uit handel met die Weste, en dit sal die ontmoontlike verg:  Dat Westerse lande regverdige handelsooreenkomste met Afrika sluit, dat Westerse subsidies wat Afrikaboere so baie skade doen, stop, en laastens, dat goedkoop vervoer dit moontlik maak om produkte uit Afrika uit te voer. Dit is ontmoontlik dat al die vereistes bevredig kan word. Subsidies en geslote grense koop stemme in Westerse lande, en die stygende olieprys maak vervoer onbekostigbaar duur. Derhalwe is Afrika steeds waar dit 20 jaar terug was, en verder terug as wat dit 50 jaar terug was.

Die verhouding tussen Afrika en die G8 is dus, om die minste te sê, disfunksioneel. Westerse lande se handelspraktyke, subsidies, en oliedors, maak dit onmoonlik vir ontwikkelende lande in Afrika om met handel in die wêreldekonomie mee te ding. Al wat nog uit Afrika kom is onverwerkte grondstowwe, gerugte van hongersnood, korrupsie en oorlog, en alle pogings om uit die verhouding te breek is skynbaar hopeloos.

Die oplossing is natuurlik vanselfsprekend (maar word steeds universeel deur Afrikaleiers ontken): Moedertaalopvoeding, verbete optrede teen kriminele en korrupte gedrag (Singapoer het reeds gewys hoe om dit te doen), en sterk kultureel-gevestige instellings, ook vir Afrikaners en vir alle ander bevolkingsgroepe. En oor twintig jaar sal die vrugte daarvan gepluk word. Die waarheid is dat Suid-Afrika en Afrika nie die huidige vernietigende politieke sieninge en beleid van die ANC kan bekostig nie. 

Maar ek hou nie my asem op nie.

Op die G8 se agenda het klimaatsverandering ook aandag geniet. Dit is, as die energiekrisis en Afrika se probleme in ag geneem word, miskien die minder belangriker item. Nie omdat dit potensieel minder ernstig is nie, maar omdat dit oor ‘n langer periode sal ontwikkel, terwyl Afrika se probleme en die energiekrisis eersdaags nog groter probleme kan veroorsaak. As Westerse lande die olietekort gaan verlig deur meer steenkool te gebruik gaan die klimaat potensieel nog meer beïnvloed word. Dit is egter skynbaar ‘n probleem vir 2025 en nie vir 2010 nie.

Op dié wyse het nog ‘n G8-beraad gekom en gegaan.  Die wêreld se belangrikste lande het hulle agendas vergelyk en saamgestem dat daar ‘n energiekrisis is, waaraan hulle nie veel gaan of kan doen nie, omdat hulle dit skynbaar nie heeltemal verstaan nie. Daar is darem versoeke dat Saoedi-Arabië meer olie te pomp. Maar dit kan die Saoedis skynbaar nie doen nie, terwyl ander OPUL-lande soos Libië ontken dat daar ‘n probleem is.

Daar is ook ooreengekom dat Robert Mugabe verwyder moet word, en Afrikalande is deur hulle verteenwoordiger by die beraad (Suid-Afrika) laat weet dat hulle dit self moet doen. Die bakhandkontinent is daar gelaat met vae beloftes van meer hulp as hulle teen Mugabe optree. Ek stel my voor dat korrupte leiers van ander Afrikalande bekommered begin wonder: As dit vandag Mugabe is, wie is dan volgende? Maar ek dink nie hulle hoef te veel slaap te verloor nie: Die Weste is besig om invloed te verloor, en die energiekrisis gaan die wêreld se prioriteite baie verander. Oosterse lande het skynbaar ‘n ander lewensuitkyk en sal die Westerse vakuum uiteindelik vul.  

Afrika gaan dus arm bly, en hulp wat wel opdaag sal in die korrekte bankrekeninge beland. Verder sal haar leiers hulle korrupte en patologiese regeringspraktyke onverstoord voortsit. Ek dink nie eers dat Robert Mugabe uitgestoot sal word nie – daarvoor is die bewondering wat die ANC vir hom het, net te groot.

 

как сделать каменку для бани своими руками

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.