Israel en Libanon: Oorlog, oorlewing en ondergang

Deel op

Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Midde-Ooste in ‘n onstabiele en onstuimige toestand verval. Dié toestand duur onverpoos voort, en met die uitbreek van die Amerikaans-Irakese oorlog op 20 Maart 2003 (Operation Freedom), het die omgewing ‘n nuwe historiese tydperk betree met die direkte en semi-permanente toetrede van Westerse magte in Irak en Afghanistan. Die oorrompeling van Saddam Hussein se magte deur die VSA-leër het die aanvanklike indruk gelaat dat die oorlog teen radikalisme in die Midde-ooste maklik gewonne was. Maar die opvolgende guerilla-oorlog het Amerikaanse magte in Irak onkant betrap en daar is na drie jaar nog geen teken dat die VSA homself uit Irak kan loswikkel nie. Ongevalle onder Amerikaanse soldate neem onvermydelik toe, en ‘n groeinde anti-oorlogsentiment by die Amerikaanse publiek is besig om ondersteuning vir die oorlog in Irak te ondermyn. Dit is ‘n tendens wat die beweegrede vir eksplisiete Amerikaanse toetrede tot die Midde-Ooste fataal kan ondergrawe.

Deel op

Terwyl Amerikaanse soldate in Irak vasgekeer is, word daar in die buurland Iran kernwapens ontwikkel. Westerse inligting is dat die Iranese President Mammoed Ahmadinejad, wat ‘n fanatiese Moslem is, se regering reeds jare lank kernmateriaal en kennis werf en dat Noord-Korea waarskynlik aan die projek deelneem. Iran en Noord-Korea, wat saam met Irak deur die Amerikaanse President Bush as die "Axis of Evil" bestempel is, gaan egter onverstoord met die kernprojek voort. Veral Noord-Korea, wat medium- en langafstandmissiele begin toets, is besig om baie kommer in Washington te veroorsaak.

Die Irakese oorlog demonstreer die fundamentele onvermoë van selfs die uitstekend toegeruste en opgeleide Amerikaanse leër om effektief met ‘n groep swak maar gedetermineerde insypelaars af te reken. As die Amerikaanse leer nie eers effektief orde in Irak kan handhaaf nie, wat dan van Iran en Noord-Korea? Die teenwoordigheid van die gedugte Amerikaanse leër in Irak het die Iranese President Mammoed Ahmadinejad glad nie ontsenu nie. Inteendeel, hy is uitdagend en die Amerikaanse regering weet skynbaar glad nie hoe om hom te hanteer nie. Voeg hierby ‘n onderduimse geknoeiry deur Sjina en Rusland, onrus en oorlog in Afghanistan waar Kanadese en Europese Unie-soldate veg, en die prentjie word sommer baie kompleks.

Aan die plus-kant kan opgemerk word dat Sirië, wat normaalweg ‘n broeiplek vir radikalisme verteenwoordig, taamlik stil is, alhoewel hulle steeds baie steun en wapentuig aan radikale groepe soos Hesbolla en Hamas verskaf. Egipte, onder leiding van Hosni Moebarak, en Libië wat steeds deur Moehammed Kaddafi regeer word, is ook raaiselagtig stil.

Dit is bykans onmoontlik om gebeure in die Midde-Ooste in isolasie te beskou, en terwyl ons nou op Libanon en Israel gaan konsentreer, moet mens in gedagte hou dat Iran, Sirië en ander rolspelers ‘n belangrike invloed op die toestande in Libanon uitoefen. Die onlangse gebeure in Libanon vind inderdaad nie in isolasie plaas nie, maar teen die agtergrond van die Irakees-Amerikaanse oorlog en die ontwikkeling van kernwapens in Iran.

Libanon is ‘n baie klein Mediterreense land met heelwat heuwels. Dit is sentraal in die Midde-Ooste langs histories belangrike handelsroetes en met belangrike hawens geleë. Dit grens aan Sirië in die noorde en ooste, en aan Israel in die suide. Die land het ‘n baie heterogene Semitiese bevolking in die religieuse sin. Christene, Moslems, Maroniete en ander groepe deel die beperkte gebied al vir eeue lank, en het tot onlangs in vrede en taamlike vooruitgang saam geleef. Libanon was ook ‘n Franse kolonie wat in 1943, toe Duitsland Frankryk beset het, onafhanklik geword het. ‘n Nasionale ooreenkoms in 1943 tussen Christene en Moslems het vir stabiliteit in die nuut onafhanklike land onder ‘n Christen-president en ‘n Moslem-eerste minister gesorg.

Terwyl die eerste dekades van Libanon se bestaan taamlik vooruitstrewend was, raak die land in verskeie oorloë betrokke. In 1948 val Libanon Palestina binne met die doel om ‘n Joodse oorname in die staat te verhoed. In die Palestynse burgeroorlog seëvier die Jode egter, en Israel word in 1948 ‘n nuwe, erkende staat. ‘n Direkte gevolg van die vorming van Israel was die uitsetting van 110 000 Palestynse vlugtelinge uit Israel na Libanon. Teen 1975 het die getal tot meer as 300 000 gestyg, en Jasser Arafat se Palestynse Bevrydingsorganisasie het beheer oor die vlugtelinge oorgeneem.

Die las van die vlugtelinge op die Libanese ekonomie het veral Moslems in die land geradikaliseer, en teen 1976 breek onruste tussen Libanese (meestal Christene onder leiding van Bachir Gemayel, maar ook ander groepe soos Maroniete) en Palestyne uit. Libanese Moslems (wat hoofsaaklik Sunni- en Droese-Moslems is), skaar hulle aan die Palestynse kant en uiteindelik ontaard die onrus in ‘n burgeroorlog. Die oorlog bring ook ‘n einde aan die relatiewe welvaart wat die land sedert die Tweede Wêreldoorlog geniet het.

Sirië tree toe tot die oorlog in 1976 om te verhoed dat Palestyne die Maroniete verslaan, en beset dele van Libanon tot in 2005. Ironies genoeg het hulle intussen kant verwissel om die Palestyne te ondersteun. Die grootste ondersteuners van die Maroniete vandag is Israel.

Na herhaalde aanvalle op Israel vanuit Suid-Libanon, reageer Isreal in 1978 met ‘n militêre inval. Israeliese magte vertoef nie lank nie, en laat die Suid-Libanese Magte, wat meestal uit Christen-soldate bestaan, in beheer nadat hulle onttrek. Palestyne is egter steeds in vlugtelingkampe in Suid-Libanon, van waar hulle gereeld aanvalle op Israel loods. Uiteindelik veroorsaak dit ‘n tweede Israeli-inval in 1982. Die Israeliese doelwit is om die Palestynse Bevrydingsorganisasie uit die area te verdryf. Israel se planne lei egter skipbreuk met die sluipmoord op Bachir Gemayel.

Die sluipmoord op Bachir Gemayel gee aanleiding tot massamoorde op Palestyne in die Sabra- en Shatila-vlugtelingkampe, wat die Israelis in beheer van die gebied ooglopend toelaat. Ariel Sharon word later persoonlik hiervoor verantwoordelik gehou deur die bevindinge van die Kahan-kommissie. Hisbolla, ‘n Moslem- politieke organisasie wat dekades later ‘n dominante invloed op die area sou uitoefen, word gestig en is aanvanklik ‘n swak en ongeorganiseerde beweging.

Amerikaanse soldate arriveer ook in Lebanon in 1982 waar daar reeds Franse en Italiaanse vredesmagte ontplooi is. Die Amerikaners se doel was om Libanon se verwoestende burgeroorlog stop te sit. In 1983 ontplof ‘n bom voor die Amerikaanse Ambassade: 61 mense sterf in die aanval, waaronder 17 Amerikaners. Op 23 Oktober 1983 ontplof ‘n 12 000 pond-bom voor die Amerikaanse soldate se barrakke, en 241 Amerikaanse en 58 Franse soldate sterf. Die gebeure gee direk aanleiding tot die ontrekking van Amerikaanse soldate uit Libanon in 1984. Die vakuum wat hulle laat, word later deur Hisbolla gevul.

Die Libanese burgeroorlog duur onverpoos voort tot in 1990, en Israeliese soldate bly aan in die suide van die land tot in 2000. Siriese soldate beset sekere dele van Libanon tot in 2005. In 2005 word die eerste minister, Rafik Hariri, vermoor in ‘n komplot wat sommige aan die Mossad toeskryf. Die Verenigde Nasies het later in die Mehlis-verslag aangedui dat die sluipmoord so goed beplan was dat net ‘n regeringsorganisasie daaragter kon wees. Vandag word dit algemeen aanvaar dat daar inderdaad ‘n komplot gesmee was om hom te vermoor. Libanese aanklaers reik ook lasbriewe uit vir die inhegtenisname van ses Australiërs, maar die Australiese polisie wat die saak ondersoek, voer aan dat daar geen bewyse is wat die mans met die sluipmoord verbind nie.

Die jare vanaf 1990 word gekenmerk deur die groei van Hisbolla van ‘n onbeduidende beweging tot ‘n dominante speler teen 2005. Die sjarmante Sjeik Hassan Nasrallah, die leier van Hisbolla, het vandag ‘n kultus-status onder Moslems en Arabiere, en word wyd bewonder vir sy vermoë om Israel en die Weste uit te daag. Iranese steun, die lojale ondersteuning van Palestyne en Moslems in Suid-Libanon, asook brawe (maar onbeholpe) vegters wat nietemin goed ingegrawe is, maak van Hisbolla ‘n gedugte teenstander wat die Israeli’s sterk teenstand bied.

Die huidige president van Libanon is President Emile Lahoed wat sterk deur Sirië ondersteun word. Nóg die president, nóg die land se parlement, waarin Hisbolla as ‘n groot party sit, is in staat om beheer oor Hisbolla uit te oefen. Die party se oogmerke is tweevoudig: die vernietiging van Israel en die stigting van ‘n fundamentele Moslemstaat in Libanon. Die party het sy eie televisiestasies, koerante en beheer selfs hospitale en lewer sosiale dienste waardeur dit wye ondersteuning onder veral Moslem-Libanese geniet. Hisbolla het ook ‘n sterk milisie opgelei, wat de facto-beheer en kontrole in groot areas in Suid-Libanon uitoefen. Die organisasie is so suksesvol en invloedryk dat toesprake en opmerkings deur Nasrallah noukeurig deur Westerse regerings gevolg word: As Nasrallah praat, dan luister Bush, Blair, Olmert, Rice en Chirac sorgvuldig.

Hisbolla se vermoëns om met gesofistiskeerde wapentuig te veg (sedert die onlangse Israeliese inval het duisende vuurpyle reeds op Israel se stede gereën), die gebruik van gesotifiskeerde anti-pantservuurpyle, en ‘n verrassende sterk teenstand in vuurgevegte met Israeliese soldate, is ‘n histories merkwaardig prestasie en dit skok politieke en militêre waarnemers wêreldwyd. Selde, indien ooit, het ‘n guerillabeweging so vinnig gegroei om so hardkoppig weerstand teen ‘n goed georganiseerde weermag en staat soos Israel te bied.

Dit is natuurlik moontlik dat Israel ‘n groot oorwinning oor Hisbolla kan behaal, en dit kan Nasrallah, wat sy vyande so openlik uitdaag, baie kos. Maar selfs dit sal Hisbolla waarskynlik nie vernietig nie en die organisasie, met historiese sukses gebaseer op die sterk demografie en diep geloofslewe van Moslems in Suid-Libanon, sal waarskynlik soos Medusa, net weer teruggroei tot ‘n sterker organisasie. Meer waarskynlik sal die Verenigde Nasies en die Internasionale Gemeenskap ‘n wapenstilstand bewerkstellig wat Nasrallah en sy organisasie ‘n blaaskans sal gee om op ‘n ander dag weer te veg.

Moslems die wêreld oor beskou Israel as ‘n illegitieme Amerikaanse vassalstaat en projekteer hulle weerstand teen Israel ook op die Weste. Daar is, in die radikale Moslembrein, ‘n noue verbintenis tussen Israeliese aggressie in Libanon, die toestande wat Palestynse vlugtelinge steeds na 60 jaar in vlugtelingkampe ervaar, en 11 September 2001.

Bomontploffings in Londen, Bali en Madrid, die onlangse arrestasies van Moslem-mans in Toronto en Londen, die oorlog in Irak en die Israeliese inval in Suid-Libanon in Julie 2006, maak deel uit van ‘n luitgerekte oorlog tussen die Weste en Islam. Die Amerikaanse politieke kommentator Charles Krauthammer het onlangs opgemerk dat die oorlog nie in ons leeftyd beslis sal word nie, en ek dink dat die opmerking juis is.

Westerse sieninge teenoor Islam is ook besig om te verhard, en President Bush van die VSA het onlangs die term "Islamofaciste" in die openbaar gebruik. Kommentators, veral diegene met ‘n meer konserwatiewe aanslag, gebruik ook uitdrukkings soos "Moslem-fasciste" openlik in die pers – ‘n skrale drie of vier jaar terug sou dit ondenkbaar wees in die politieke korrekte klimaat wat steeds in die Weste geld.

Die belangrikste opmerking wat mens oor die Libanese situasie kan maak is die volgende: Waarom is dit skynbaar onmoontlik vir goed georganiseerde magte soos dié van Israel en die VSA om Palestynse radikale en Hisbolla te vernietig? Waarom is die verset so aanhoudend en hardkoppig, en waarom het organisasies soos die Palestynse Bevrydingsorganisasie en Hisbolla blykbaar die vermoë om selfs na gevoelige militêre terugslae weer sterker terug te keer?

Die antwoord op die vraag is nie eenvoudig nie. Maar êrens tussen ‘n sterk fundamentele Moslemse geloofslewe, vinnige bevolkingsaanwas, en ‘n geloof in die geregtigheid van hulle aansprake, is die grondliggende rede waarom Palestyne en Moslems in Hisbolla skynbaar steeds onoorwonne staan na bloedige dekades waarin hulle telkens deur Israel en ander Westerse magte verslaan is. Die sinergie tussen geloof, bevolkingsaanwas en ‘n sterk gevoel van ongeregtigheid is ‘n kragtige resep wat baie Westerse kommentators nie verstaan nie, en wat Westerse lande met groeinde Moslembevolkings in die toekoms onaangenaam gaan verras.

En in die Midde-Ooste is tyd en demografie aan Hisbolla en die Palestyne se kant.

casino gameФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.