Die lewe van die 18de-eeuse trekboere

Image

Trekboer, soos geskilder deur Samuel Daniell

Ná 1700 het trekboere in twee rigtings begin uitbrei — noord- en ooswaarts. Tot byna die end van die jare dertig het die trekkers voortbeweeg tussen die kusstrook en die berge wat parallel met die kus loop. Kort voor 1730 het albei hooftrekke op ernstige hindernisse gestuit. In die noordweste was dit 'n dorre woestynagtige streek wat swak voorsien was van standhoudende water, en in die ooste op digte woude. Teen 1730 het die boere oor die berge begin trek, en in die 1740erjare het die noordwaartse stroom oos geswenk en omstreeks 1770 die Visrivier bereik.

Die trekboer se lewe was nie maklik nie. Deur afstand en vervoermoeilikhede was hulle afgesny van Kaapstad, die mark en sakesentrum. Wyn en bier was daar nie, en water was die daaglikse en algemene drank. Selfs melk was 'n luukse, wat hulle af en toe vir Sondae van die Khoikhoi geruil het. Heuning was egter volop. Van die heuning het trekboere soms 'n gesonde soort bier gemaak.

Brood het hulle feitlik nooit gehad nie. Hulle het die moeite ontsien om self koring te saai, en om meel oor lang afstande en swak paaie te vervoer, was lastig. Daarby het hulle ook nie geld gehad nie. Hulle het vleis geëet, met as toekos ander vleis! 'n Hollandse reisiger, P. Kolbe, het in 1726 geskryf dat die trekboere 'n stuk skaapvleis geneem, en saam daarmee, pleks van brood, droë wildsvleis geëet het. Dit het so goed met hulle akkordeer dat selde van 'n siekte verneem is.

Die pioniers het elke dag gejag, want dit het avontuurlike ontspanning en kos verskaf. Selfs ryk veeboere het omtrent van die jag geleef want daardeur kon hulle vee spaar en laat aanteel. Uit die aanteel het hulle die hamels verkoop wat hulle in staat gestel het om kruit en ander benodighede aan te skaf.

Aan die begin het die trekboere nie vaste woonplekke gehad nie. Nes die Khoikhoi het hulle rondgeswerwe om nuwe weivelde te soek as die oues afgevreet was, wanneer dit droog geword of die wild weggetrek het. Omdat hulle so dikwels van woning moes trek, het hulle dikwels nie 'n behoorlike huis gebou nie. Só, sê die historikus P.J. van der Merwe, het die "half-nomadiese, vleesetende jagterveeboer ontstaan, die trekboer, wat dwarsdeur die loop van ons pioniersgeskiedenis op die voorposte van die beskawing gestaan het, en gedurende die agtiende eeu 'n groot stuk van Suid-Afrika vir die witman verower het voordat die Bantoe, wat weswaarts uitgebrei het, te ver gevorder het."

Die veeboere het volgens G.D. Scholtz 'n groot bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikaner gelewer. Van hulle kom die sug na isolasie wat so 'n kenmerk van die Afrikaner was, en 'n sterk wapen waarmee die volk hom in die 19de eeu kon handhaaf. Die isolasie het ook 'n negatiewe kant gehad. Dit het gelei tot engheid, 'n gebrek aan ambisie, en 'n sterk individualisme, wat veroorsaak het dat Afrikaners soms swak met hul medemense oor die weg kon kom. Hulle het partykeer rusie gemaak en was nydig op mekaar. Die individualisme het ook gelei tot 'n gees van verset en opstandigheid teenoor owerhede wat hulle as onsimpatiek ervaar het.

hair accessoriesФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.