Die rol van PRAAG by Afrikanerbevryding

Deel op

roodt_dan_wikideur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Ek wil nie hier, anders as wat Flip Buys van Solidariteit so gereeld in sy Rapportrubrieke doen, my eie beul blaas nie. Toe ‘n dertigtal van ons egter presies veertien jaar gelede die Pro-Afrikaanse Aksiegroep in ‘n lesingsaal by UNISA gestig het, het ons geweet dat iets gedoen moes word om die agteruitgang van Afrikaans en die Afrikaner in Suid-Afrika te stuit.

Destyds was die internet nog in sy kinderskoene en ADSL of 3G nog nie ‘n werklikheid nie. As mens jou epos wou lees, moes jy van ‘n inbelmodem gebruik maak. Facebook en Twitter, of selfs ‘n gesofistikeerde kommentaarstelsel soos Disqus wat ons hier – in Afrikaans! – gebruik, het nog in die verskiet gelê. In April 2000 het die PRAAG-webblad egter afgeskop en sedertdien net van krag tot krag gegaan.

Ons kan op ‘n latere stadium bietjie nabetragting hou oor al ons avonture van die afgelope veertien jaar, van die stryd in die media tot die periode waartydens ons aan skietoefeninge met plaaswagte bestaande uit boere in die Noord-Transvaal deelgeneem het. Dít alles is geskiedenis. Miskien sal dit in die vergeteleheid vesink en saam met die Afrikaner in Suid-Afrika uitgewis raak. Veel eerder sal ons dit iewers in die toekoms opskryf as die begin van ‘n herontwaking nadat ons deur die kommunistiese propagandameesters in die wêreldmedia verslaan is en ons land sonder slag of stoot deur ‘n korrupte bende vanuit ‘n Zambiese kamp verower is.

Vandag wil ek kortliks stilstaan by ons rol vandag en in die onmiddellike toekoms, ook in die aanloop tot die nasionale verkiesing op 7 Mei 2014.

PRAAG speel op vele terreine ‘n rol, wat ek hier in volgorde van belangrikheid wil lys en agterna ietwat verder wil belig:

  • As pro-Afrikaanse NRO (nie-regeringsorganisie);
  • as Afrikaner-dinkskrum;
  • as digitale nuus- en meningsblad;
  • as uitgewer en kultuurskepper.

Pro-Afrikaanse NRO

Min Afrikaners besef dit, maar dwarsdeur die wêreld is daar nie-regeringsorganisasies (NRO’s) wat ‘n ontsettende belangrike rol in die politiek speel. Hulle bring regerings tot ‘n val, verander die politieke stelsels van lande en kan hele volkere laat verdwyn of verskyn. Soms is dit ook makliker vir regerings en geheimedienste om hul strategiese doelwitte deur middel van dié “apolitiese” organisasies te bereik.

In Suid-Afrika is dosyne sulke NRO’s bedrywig wat hoofsaaklik vanuit die buiteland befonds word. Daar is die Open Society Foundations van die Hongaars-Amerikaanse miljardêr, George Soros. Daarbenewens tref ons die volgende aan: Section 27, die Helen Suzman-stigting, Africa Check, die Instituut vir Sekerheidstudies, die Instituut vir Rasseaangeleenthede, die Instituut vir Globale Dialoog, die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, Amnestie Internasionaal, die Duitse politieke stigtings, waaronder die kommunistiese Rosa Luxemburg-stigting se kantoor in Johannesburg, asook vele ander.

Baie van die Suid-Afrikaanse NRO’s het vanuit die duistere wêreld van die anti-apartheidsbeweging en sy verwante terreurorganisasies ontstaan. Toe en nou is hulle ten dele deur Boerehaat gemotiveer en werk steeds aktief aan ons ondergang mee. ‘n Britse burger staan byvoorbeeld aan die hoof van Section 27 wat hom ten doel gestel het om alle Afrikaanse skole in Gauteng te verengels.

Terwyl die meeste Afrikaanse organisasies op die dikwels onbekwame ANC-regering fokus en een jare lange hofsaak na die ander teen staatsdepartemente voer (wat op die duur vir ons wát beteken?), probeer PRAAG met sy beperkte middele die Afrikaansvyandige NRO’s dophou en dwarsboom. Ons betoging teen Section 27, asook vele briewe aan Engelse koerante oor mev. Barbara Creecy, die Gautengse LUR vir onderwys, het vrugte afgewerp en ‘n tydelike wapenstilstand in die aanval op Afrikaanse skole bewerkstellig.

Ons het gesien hoe Africa Check verlede jaar vir Steve Hofmeyr met aansienlike steun van die linkse media aangeval en probeer verdag maak het deur sy stelling dat “Afrikaners soos vlieë sterf” as onsin af te maak. Ook onlangs het Africa Check beweer dat verkragting in Suid-Afrika nie so erg is nie, “omdat niemand eintlik weet wat die ware statistieke is nie”.

So pas het ‘n woordvoerder van George Soros se Open Society Foundations, Jacob Dlamini, in Business Day aangekondig dat hulle Afrikaners wat in die vorige regering gedien het verder wil vervolg op grond van getuienis wat Eugène de Kock voor die howe mag plaas. Tussen die reëls verstaan ‘n mens dat De Kock dalk vrygelaat gaan word op voorwaarde dat hy die vorige Afrikanerbewind verraai en op allerlei maniere inkrimineer sodat ‘n Stalinistiese “skouverhoor” soortgelyk aan Tutu se lieg-en-biegkommissie nogmaals teen Afrikaners ontketen mag word.

Dít alles om ons mense met witskuld te breinspoel sodat hulle eerder wegkruip as om vir hul regte op te staan!

Vanselfsprekend sal ons ons verdediging teen die NRO’s moet verskerp, want hul uiteindelike doelwit is niks minder as kultuurmoord op die Afrikaner of selfs erger nie.

Dis ‘n Dawid-en-Goliat-stryd wat ons voer teen groepe wat met miljoene dollar vanuit die buiteland befonds word om ‘n onophoudelike propaganda-oorlog teen ons volk te voer. Maar om terug te deins, sou selfmoord beteken!

Afrikaner-dinkskrum

Die vermaarde Franse filosoof, Alain de Benoist, het onlangs gesê dat daar in sy land geen toekomsgerigte denke meer bestaan nie. Slegs in China en die VSA is daar nog sulke denke. Wat ‘n verdoemende uitspraak oor Frankryk!

Interessant is egter dat De Benoist meen dat toekomsgerigte denke in Amerika hoofsaaklik deur die dinkskrums of “think tanks” bedryf word. Hulle ontleed gegewens in die hede, skets toekomsscenario’s en maak voorspellings.

PRAAG het willens en wetens ook ‘n dinkskrum geword wat vir die Afrikaner ‘n nuwe toekoms wil bedink. Die toekoms wat ons sien, lê buite hierdie bestel, met eie instellings en selfs grondgebied sodat ons weereens ons verlore soewereiniteit kan herwin. Dis nie genoeg om daardie toekoms te verbeel nie; daar moet ook nou al daarvoor beplan word!

Nog ‘n funksie van ‘n dinkskrum is om inligting te ontleed en aan alle belanghebbendes te kommunikeer. Ons poog om deur die publikasie van unieke artikels oor internasionale politiek sulke inligting aan die Afrikaner bekend te stel. Vele van die artikels en hoofartikels op praag.co.za verteenwoordig dae en ure van navorsing oor toestande in die buiteland wat op ons eie situasie betrekking mag hê. Suid-Afrika is vanuit die buiteland deur die ANC-SAKP-alliansie verower en Afrikanerbevryding sal slegs met inagname van buitelandse strominge en neigings kan geskied.

‘n Belangrike funksie van enige dinkskrum is om ‘n goedgesinde politieke party van raad en insig te bedien. Die Amerikaanse Heritage Foundation verrig byvoorbeeld so ‘n taak vir die Republikeinse Party in die VSA terwyl elkeen van die groot Duitse politieke stigtings aan ‘n politieke party verbind is. Op die webblad van die Heritage Foundation word dit soos volg beskryf:

Founded in 1973, The Heritage Foundation is a research and educational institution—a think tank—whose mission is to formulate and promote conservative public policies based on the principles of free enterprise, limited government, individual freedom, traditional American values, and a strong national defense.

Die Broederbond en verskeie ander groeperinge het tydens die suksesvolle jare van die Nasionale Party dieselfde soort dinkskrumrol vervul. Uiteindelik het die hele Afrikanerbouwerk van die verlede egter skouspelagtig in duie gestort, veral ná die oorwinning wat die ANC-SAKP eers in die internasionale media en toe by die stembus oor die Nasionale Party behaal het.

praagcoza_adv

Vier jaar gelede wou PRAAG so ‘n verhouding met die Vryheidsfront Plus bewerkstellig en ‘n tyd lank was ek voorsitter van die VF Plus se navorsingskomitee. Die kleinlike politiekery en nydigheid binne daardie party het so ‘n verhouding egter onmoontlik gemaak.

Met die totstandkoming van die nuwe Afrikaner- politieke party, Front Nasionaal, werk ons weereens as dinkskrum nou saam met die partystrukture en sal help om strategie vorentoe te bepaal, gegrond op al ons navorsing en inligting wat oor die afgelope veertien jaar versamel is.

Digitale nuus- en meningsblad

Ons is almal oorbewus van die Naarpers-monopolie in Afrikaans en die funeste rol wat dié mediagroep speel om ons mense met fatalisme, defaïtisme, nihilisme en immorele dekadensie te vul. As dit nie ‘n sangeres soos Karen Zoid is wat met haar witskuld, anti-Afrikaanse reënboognasie-ideologie aan ons jeug afgesmeer word nie, is dit die vulgêre pseudo-komediant Casper de Vries wat die Afrikaner en veral Christene op KykNET beledig en afkraak.

Verder poog Naarpers se verskeidenheid dom wit en veral bruin rubriekskrywers en meningsvormers om gedurig die huidige bestel met sy ingeboude onreg en Boerehaat as “natuurlik”, onvermydelik en onveranderlik voor te stel. Wat eintlik ‘n tirannie van die meerderheid is, word as “vryheid en demokrasie” opgehemel. Tot onlangs het die Naarpers-koerante alles wat in die land verkeerd loop getroef met lofsange aan “ons wonderlike grondwet”, dermate dat Hermann Giliomee hulle “grondwetters” begin noem het.

Die meeste van Naarpers se rubriekskrywers dink nie meer in Afrikaans nie en ‘n mens salueer as’t ware die anglisismes en Engelse clichés soos hulle verbykom as jy Tim du Plessis, Henry Jeffreys of Jonathan Jansen lees. Trouens, Naarpers se Afrikaanse publikasies maak deesdae meermale van Engelse rubriekskrywers ek kommentators gebruik wat uit daardie taal vertaal word, asof hulle nie meer Afrikaners vertrou om in hul publikasies te skryf nie, maar slegs Engelse globaliste of fanatiese voorstanders van die totalitêre Suid-Afrikanisme wat Afrikaners uitsluit.

Van die verskeidenheid rubrieke en meningsartikels wat tans op praag geplaas word, is van die beste wat daar in dekades in Afrikaans verskyn het. Skrywers soos Gustav Venter, Manfred Delport, Leon Lemmer, Danie Goosen, Joseph Secrève en ekself baljaar op die breë register van Afrikaans. Dit wissel van skerp en geestig, tot verwikkeld intellektueel, dikwels in dieselfde artikel! Veral Leon Lemmer se langer artikels waar hy met vers en kapittel in keurige taal die vergrype van verpolitiseerde hoër onderwys of anti-Afrikaner-ressentiment onder bruines beskryf, is iets unieks in ons taal. So pas het Lemmer ‘n nuwe term gemunt vir wat polities korrek as “transformasie” bekendstaan: “ontwitting”.

Dis iets van ‘n kreatiewe voorhoede soos daar laas in die 1930s onder Afrikaners bestaan het.

Uitgewer en kultuurskepper

Sowel die ANC-staat as Naarpers sien die Afrikaanse kultuur as iets wat vir eie politieke en ideologiese doelwitte gemanipuleer moet word. Dit stem byna volkome ooreen met die wyse waarop kultuur in Oos-Duitsland of die voormalige Sowjetunie aan staatsmag – of monopolistiese dwingelandy in Naarpers se geval – onderworpe gemaak is. Geen boek of selfs fiktiewe verhaal soos ‘n roman of novelle word gepubliseer indien dit nie die kultuur-marxistiese sienings van Afrikanerskap, die gesin, identiteit, geslag, ras en dies meer, eerbiedig nie. Dieselfde geld die teaterstukke by kunstefeeste en selfs Afrikaanse films wat meermale die heersende ideologie bevestig, eerder as wat dit bevraagteken word.

Nie net word die Afrikaanse kultuur gemarginaliseer deur middel van verengelsing en staatsvyandigheid nie, maar dit word ook verarm deur ‘n verskraalde, eendimensionele inhoud daaraan te verleen.

Ons kultuurprobleem strek egter veel verder terug as bloot die totalitêre hede met sy kwasi-kommunistiese, verpolitiseerde boeke, toneelstukke en gewilde kykstof soos Sewendelaan op die SAUK. Oor die afgelope dekades het Naarpers veral anti-Afrikaner-figure soos André P. Brink, Antjie Krog en Marlene van Niekerk opgehemel, as sou die Afrikaanse letterkunde net uit sulke mense bestaan! Tydens die hoogtepunt van die Afrikanerbeweging tydens die 1960s, pleks van skeppend en vernuwend op te tree, het die sogenaamde Sestigerbeweging verkies om klakkeloos agter Boerehaters soos Nadine Gordimer en Alan Paton aan te hardloop en dieselfde karikature van ons volk as in hul boeke tot stand te bring. Verwoerd was uiteindelik reg toe hy destyds op die vooraand van sy sluipmoord in September 1966 in sy Republiekdagtoespraak op 31 Mei gesê het:

“En nou wil ek uiting gee aan die onuitgesproke, dikwels onuitgesproke verlange van ons volk dat daar vir ons ook, soos vir ander volke in hul wonderuur, dié skrywers en dié digters mag ontstaan wat kan en sal wil besing die heldedade van hul eie geslag. So kan dit vir ons ook gegee word, soos in die uur van roem van groot volke in die verlede was, waar diegene kon opstaan wat nie weifelend vra: Wát is ’n volk? nie, maar wat kan uitjubel: Dit is my volk, só is my volk, só kan hy ook wondere verrig, só is hy skepper van ’n eie toekoms!

“Die skrywer en digter wat in hierdie tyd só kan besing wat nou gebeur, sal aangehaal word so lank soos die volk van die Republiek van Suid-Afrika bestaan. As daar uit ons midde diegene kan ontstaan wat die mooie van ’n volk se lewe wil besing, wat nie terughuiwer om patriotisme, vaderlandsliefde, te huldig nie, wat nie net volgens moderne patrone soek na wat elders in die volkere wat reeds oud is, die mode is nie, maar wat ooreenkomstig die vaste patroon van huldebetuiging aan die eie volk, die lelike, die vleeslike opsy kan skuiwe en kan kyk na die geestelike, en die mooie en die grootse, wat die moderne geskiedenis kan besing!

“Kon ons nou maar in ons tyd ook sulke skrywers en digters vind, hoe ryk sou ons ons nie ag nie, hoe ryk sal ons volk van die toekoms nie wees nie, om dan te weet, deur sulke tolke, wát in die hart van die volk van vandag omgaan terwyl hy belewe, vyf jaar ná die gebeure, hierdie wonderwerk, hierdie groot mylpaal in die geskiedenis van ons volk.”

Met die voordeel van terugskouing, kan ons vandag sê dat Verwoerd uiteindelik tydens dié veelbesproke polemiek rondom ‘n drama deur N.P. van Wyk Louw, gelyk had. Die moderne Afrikaanse letterkunde het, op een of twee uitsonderings na, nooit tot groot hoogtes gestyg nie. Dit het verval in oppervlakkigheid, nihilisme en ‘n sieklike anglofilie, selfs Boerehaat en karikaturisering van Afrikaners soos wat dit deur ons ergste vyande beoefen word.

Terwyl die groot Afrikaanse uitgewerye onder Naarpers se beheer vanuit die Kaap streng sensuur toepas om te sorg dat slegs werke wat in die ANC-SAKP- politieke dwangbuis pas ooit die lig sien, wil PRAAG vernuwing, herbesinning en skeppende onverskrokkenheid aanmoedig. Ons eksperimenteer tans met verskeie digitale modelle, eboeke, maar ook aanlynpublikasie soos tans met Gustav Venter se vervolgverhaal Bodem.

Die vyand beset ook die Afrikaanse universiteite waar enige afwyking van hul norm genadeloos gestraf word met die vervolging van akademici, histeriese “media-verhore” en beswaddering, net soos dit in die tyd van Josef Stalin in Rusland gedoen is.

Die stryd om die hart van die Afrikanerkultuur móét in ons guns beklink word. Ons is nie net op die voorpunt van Afrikaner- politieke denke nie, maar ook van skepping in Afrikaans.

Ons wil graag sien dat daar eweneens ‘n Afrikaner-hergeboorte in die kunste tot stand kom – in Standaardafrikaans! Onlangs het ons gesien hoe Standaardafrikaans deur die SAUK, die Universiteit van Stellenbosch en selfs die Akademie onder leiding van prof. Wannie Carstens, aangeval word.

Die aanslag is totaal en totalitêr: ons hele menswees word bedreig. Daarom moet ons verset daarteen óók alles monster: die politiek, die kultuur, die taal, finansiële en ekonomiese oplossings, ons ysere wil wat in sommige van Van Wyk Louw se gedigte besing word:

Ons wil moet blink wees, buigsaam soos die staal,
een helder drif, een lem, een straal
vanuit die brein, die skouer, die taaie digte
vlegsel van die spiere en armgewrigte
tot in die koel punt van die mes

Sluit aan by PRAAG!

Sluit aan by PRAAG!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.