Afrikanerselfbeskikkingsretoriek en enkele opmerkings oor Front Nasionaal

Deel op
In 1961 was daar steun vir selfbeskikking...
In 1961 was daar steun vir selfbeskikking…

deur Johan Wiggill

Selfbeskikking vir Afrikaners geniet steeds ʼn mate van belangstelling maar die vermoë om dit te bereik, ontbreek. Daar blyk ook onduidelikheid te wees oor die betekenis en implikasies van interne en eksterne selfbeskikking. Dit wil voorkom asof daar beperkte kontekstuele begrip vir VN-deklarasies oor selfbeskikking bestaan. Daar is nog geen vordering in die verband gemaak nie behalwe as die registrasie by UNPO en die enkele klaagskrywes aan die RSA-regering en VN as vordering opgeneem word.  Totdat die Afrikaners nie solidariteit bereik en hul wil tot onafhanklikheid strategies bepaal nie, sal die status quo gehandhaaf word. Inteendeel, die situasie sal vererger gemeet aan die mentaliteit van die huidige regering.

Daar word gepraat van selfregering op plaaslike vlak (kantonne) en ʼn potensiële volkstaat in die Noordkaap, en selfs ʼn  gekarteerde Afrikaanse gebied wat bestaan uit dele van die noordelike provinsies, OVS en Natal.  Alles net voortsettings van selfbeskikkingsretoriek. Kantonne beteken om te lokaliseer. Om langs etniese lyne te lokaliseer, gaan nie prakties uitvoerbaar wees in die RSA nie.  Die RSA-Grondwet homogeniseer die RSA as ʼn reënboognasie en is dit onwaarskynlik dat kantonne wat etniese begrensing nastreef, wetlik geakkommodeer sal word.  Alhoewel daar nog basiese skeiding tussen swart en wit woonbuurte is, is dit besig om te verander. Derhalwe gaan die gelokaliseerde kanton noodwendig alle bevolkingsgroepe insluit. Wat is dan met die kanton bereik?  Die doel van kantonne is juis om selfregeringstatus aan Afrikaners te verleen op plaaslike-owerheidsvlak. Of is die doel net om plaaslike regering meer effektief namens die ANC te bestuur? Veiligheidsnetwerke en drukgroepe sal dalk ʼn  beter indruk maak.

Die Grondwet van Suid Afrika maak voorsiening vir selfbeskikking in art 235 maar dit moet gelees word in konteks met die Grondwet en verbandhoudende internasionale deklarasies. In wese kom dit daarop neer dat state selfbeskikking verleen aan kulturele en godsdienstige groepe. Staatsoewereiniteit soos vervat in die uti possidetis-beginsel verbied en keur enige afstigting af wat die integriteit van behoudende landsgrense kan ontwrig. Art 235 maak dus voorsiening vir interne selfbeskikking. Niks verander aan die huidige wetgewing of gees in Suid Afrika nie; die Afrikaner se reg om sy kultuur en godsdiens te beoefen, word toegelaat mits daardie regte nie diskriminerend is nie. Die kernbeginsel is dat gemeenskappe in die Grondwet beskryf word en nie eksklusiwiteit van etniese groepe nie. Om derhalwe briefies te skryf aan die VN of selfs die RSA-regering met die versoek dat eksterne selfbeskikking aan die Afrikanergroep toegestaan moet word, is slegs die vestiging van ʼn nuttelose papierspoor.

Eksterne selfbeskikking word nie eksplisiet uitgesluit in die RSA Grondwet nie, maar dit skep struikelblokke om dit te bereik. Daar is inderwaarheid baie min konstitusies wat sesessie eksplisiet onderskryf. Buiten al die reëls wat bestaan, is eksterne selfbeskikking nie onbereikbaar nie.  Daar bestaan kwalifiserende vereistes binne die politieke teorie wat aan ʼn volk die reg gee om af te stig waar hul oor ‘n gemeenskaplike taal, godsdiens, kultuur en etnisiteit beskik en die meerderheid ʼn spesifieke geografiese gebied beset. Die onderliggende kriterium is dat daardie volk  solidariteit moet toon t.o.v. die kwalifiserende vereistes. Ongeag die swak ondersteuning vir die volkstaatgedagte is die Afrikanerpsige eerder neutraal as daarteen (skrywer se persoonlike mening). As die gedagte strategies gefundeer is en veld word gewen in die bereiking van eksterne selfregering kan met redelike sekerheid aangeneem word dat steun daarvoor ook sal toeneem.

Strategiese formulering vir selfbeskikking sal begin by ʼn analise van die sterkpunte, swakpunte, bedreigings en geleenthede vir Afrikaners. Dit is hoofsaaklik ʼn samevatting van inligting en prosesse wat reeds bekend is.

Front Nasionaal

Dit is verblydend dat ʼn paar individue die nodigheid van ʼn politieke front vir Afrikanerbelange insien. Dit sal van die bestuur afhang of dit net nog ʼn poging is en of dit die begin van Afrikanervryheid gaan beteken. Die breë raamwerk van Hannes Engelbrecht se Front Nasionaal is realisties en geskoei op die bevordering van Afrikanerbelange met die belangrikste komponent wat selfbeskikking in die vooruitsig stel.

Bekendstelling van die party se doelstellings aan alle Afrikaners is die hoogste prioriteit en die elektroniese sosiale media is uiteraard die medium waardeur dit effektief gedoen kan word. Daar is ʼn reeks strukturele verwagtinge wat sekerlik deur die party bestuur, aangespreek en implementeer sal word. Front Nasionaal se doelstellings en program van beginsels moet vanselfsprekend voldoen aan die verwagtinge van hul ondersteuners, maar ewe belangrik is dat dit sal aansluit by die eietydse internasionale sienings van selfbeskikking in al die dimensies wat dit voorkom en dat veral bestaande resolusies, deklarasies en teorieë korrek interpreteer sal word. Met spesifieke verwysing na Artikel 1.2 van die Verenigde Nasies Handves as vertrekpunt. Daardie artikel het byvoorbeeld nie ten doel dat selfbeskikking binne sesessionele konteks goedgekeur word nie.

Die edele motiewe van die Front Nasionaal, soos nou bekend, is egter nie verhewe bo konstruktiewe kritiek nie. Die opmerking “Selfbeskikking gebeur nie oornag nie. Dit sal waarskynlik nie in my, dr Dan Roodt of Gordon Fox se leeftyd gebeur nie. Dis ʼn lang proses wat stapsgewys gevolg moet word…” is onnodig en kan lei tot onderliggende verslapping in die doelgerigtheid van mense wat aktief wil werk na selfbeskikking. Selfbeskikking kan nie baseer word op waarskynlikhede nie. Dit is ʼn wilsbesluit en ten eerste moet Front Nasionaal deur sy doelstellings die Afrikaner en blankes in die breë, oorreed om die party te ondersteun met die uitsluitlike doel om solidariteit te bewerkstellig. Dit is ʼn vooruitsig wat uitstaande visie en leierskap gaan verg. Die strewe na selfbeskikking is multidimensioneel met potensieel veelvuldige manifestasies. ʼn Passiewe administratiewe proses gaan nie selfbeskikking laat realiseer nie. Vryheid word nie gevra nie, dit word bereik deur aksies op alle terreine. Sodra die gedagte vlamvat, is daar nie tyd aan te koppel nie.

Met die opmerkings in voorgaande paragraaf word onmiddellike konstitusionele optrede en kultuurherlewing nie negeer nie. Daar bestaan redelik aktiwiteite in dié verband en behoort die totale beweging konsolideer te word onder die vaandel van ʼn progressiewe politieke party wat hopelik Front Nasionaal sal wees. Daar is geweldig baie werk vir Front Nasionaal om ʼn evalueerbare barometer te skep met sy verkiesingsuitslag. Gegewe die kort tyd vir voorbereiding voor die verkiesing sal tendensbepaling met ʼn  volgende verkiesing wel gedoen kan word. Miskien is daardie verkiesing in ʼn  onafhanklike Afrikanerstaat.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.