Blitsbukskoning : VW of Mercedes?

Deel op
Die Mercedes B250
Die Mercedes B250

Tradisioneel het Volkswagen die konsep van blitsbukse aan die wêreld bekendgestel met die oorspronklike VW Golf GTi. Deur die jare het meeste van die huidige vervaardigers ook soortgelyke motors die lig laat sien. Teenvoeters vir die GTi? Wel ja, hier en daar kon vervaardigers soos Peugeot met hul ikoniese 205 GTi en Opel met die Kadett GSi baie naby aan die wenresep van Volkswagen kom. Met die bekendstelling van die Golf 7 het Volkswagen die kerf vir blitsbukse net soveel hoër verskuif en huidige motors soos die Ford Focus STi, Renault Megane RS en Opel Astra OPC het wel die werkverrigting om die GTi aan te vat, maar skiet nog ver tekort wanneer dit by die algehele pakket van gerief, ekonomie, ruimte en verfyndheid kom. Die Ford is bekostigbaar en vinnig, maar kleiner binne en nie so ekonomies nie. Die Renault is meer van ‘n speelding en vreeslik ongemaklik om elke dag mee te pendel; die Opel OPC lyk soos ‘n motor wat twee keer moet kos wat hy kos, maar stel effens teleur wanneer die wiele die teer slaan. Al drie hierdie motors is baie goeie motors in eie reg, maar gemeet teen die Golf 7 GTi het die GTi net soveel meer van alles.

Syprofiel van die VW Golf GTi
Syprofiel van die VW Golf GTi

Neem nou die blitsbuksresep en voeg 125 jaar se ondervinding van die vervaardiger, wat vir wêreld die motor gebring het, daarby. Mercedes het hul vierkantige B-klas herontwerp om meer soos ‘n groot luikrug te lyk en te voel. Voor julle nou skreeu nee, mens kan nie die twee vergelyk nie, lees eers hier. Met die koms van die A-klas het Mercedes ook wegbeweeg van die vierkantige vorm wat lyk soos ‘n broodwaentjie. Die A-klas is meer gerig op die Golf-segment, maar daar is nie werklik ‘n teenvoeter in die A-klas se stal wat kan meeding met die afgerondheid wat die Golf 7 GTi bied nie. Die nuwe A45 is meer gemik op die nuwe Golf R wat later vanjaar sy verskyning gaan maak en die A200 is heeltemal te lig in die broek om met die GTi te kan armdruk. Daarby is die A-klas heelwat kleiner binne as die GTi en voel die A-klas net of hy nie regtig kan meeding nie. Die nuwe B-klas en veral die B250 BlueEffiency wat ons onder hande gehad het, voel en lyk of dit net die regte motor is om die Golf 7 Gti te kan tem.

Evolusie van die Golf GTi
Evolusie van die Golf GTi

Voorkoms

In die geval van die Golf Gti is dit meer ‘n evolusie as ‘n revolusie: die Golf 7 is groter as die Golf 6, meer statig amper soos Usain Bolt in ‘n aandpak. Daar is baie klas, baie talent en baie styl sonder om dit te oordoen. Die voor- en agterligte en stampers is vars met skoon lyne en ‘n doelgerigtheid wat uitroep dat hierdie nie jou gewone Golf is nie, maar terselfdertyd dra hy sy aandpak goed. Die Mercedes B250 volg presies dieselfde resep: die motor lyk en voel net so statig met so ‘n gedempte sportiwiteit. Die bak van die nuwe B-klas is heeltemal nuut ontwerp. Daar is baie sagte lyne oor die voorkant, die daklyn is nou laer en die sykante het ‘n aggressiewe vou wat soos mnr. Yohan Blake gespierd dog stylvol voorkom. Beide die motors laat my die gevoel kry dat hulle vir meer volwasse, stylvolle kopers bedoel is.

Binneruim van die VW GTi
Binneruim van die VW GTi

Binneruim

Agter die stuur van die GTi is alles herkenbaar as tipies Volkswagen; die boukwaliteit is net eenvoudig iets meer as wat die ander vervaardigers bied. Alles is vars, stylvol met groot, oop, duidelik leesbare meters. Die materiale wat gebruik is, is van ‘n hoogstaande gehalte. Leer- en chroominsetsels sowel as sagte, kwaliteit plastiek en goeie kwaliteit matte is regdeur die GTi se binneruim te bespeur. Daar is ‘n middelkonsole met ‘n maklike uitleg en elektronies verstelbare sitplekke, die stuurwiel huisves knoppies vir die togbeheer en radioverstellings asook die Bluetooth vir jou handvrye foon. Die hoofligte, asook die klimaatbeheer werk met groot handige draaiknoppe wat net reg voel. Daar is ook ‘n groot raakskerm wat byna elke funksie in die motor kan beheer met maklik verstaanbare funksies. Die GTi-embleem is op die stuurwiel en die ratkierie aangebring. Hierdie is werklik ‘n gemaklike plek om te wees. Wat ruimte aanbetref, het die Golf 7 Gti meer been- en skouerruimte as die Golf 6; die motor kan 5 volwassenes met gemak vervoer en die bagasieruim sal 380l se tasse sluk. Soos met byna alle nuwe motors is daar nie ‘n regte noodwiel nie, slegs ‘n maer noodwiel wat meer pakplek verseker.

Binneruim van die Mercedes B250
Binneruim van die Mercedes B250

Die B250 se binneruim spreek van gemak en ruimte, swart leer en hoëgehalteplastiek en -chroom onderstreep die stylvolle dog sportiewe gevoel wat die B250 uitstraal. Die motor is baie beter aanmekaar gesit as die A-klas. Daar is werklik ‘n gevoel van weelde. Die baie moderne instrumentepaneel huisves vyf groot driespeekluginlate met drie wat in die middel van die konsole langs mekaar die sportiwiteit van die motor beklemtoon. ‘n Driespeekstuurwiel met chroominsetsels en beheerknoppies onder die duime van die bestuurder, lyk en voel net reg. Wat opvallend is van die motor is die afwesigheid van ‘n ratkierie. Die ratte word met behulp van ‘n stokkie aan die kant van die stuurwiel beheer. Dit doen vir my so effens afbreuk aan die res van die motor se gevoel van sportiwiteit, maar terselfdertyd kan ‘n mens dit sien as die toekoms van alle motors. Die ratkierie in die middel tussen die sitplekke gaan heeltemal verdwyn met die nuwe tegnologie van outomatiese ratkaste wat binne die volgende paar jaar die handrat heeltemal gaan vervang. Die gevolg van die ratstokkie langs die stuurwiel skep ‘n oop, ruim gevoel tussen die voorste sitplekke. Been- en kopruimte is uitstekend in die B250 en die motor sal 488 l se bagasie sluk en vyf mense in gemak kan vervoer.

Die Mercedes B250 se dubbele sondak
Die Mercedes B250 se dubbele sondak

Enjin

Volkswagen se nuutste GTi word aangedryf deur ‘n 2.0-liter-viersilinderenjin met ‘n verplasing van 1984 kubieke sentimeter. Die eenheid ontwikkel 162 Kw. en 350 Nm se wringkrag. Dit is baie, en gekoppel aan die 6-Spoed- DSG-ratkas verander dit die motor werklik in iets besonders. Die ratkas is seker een van die beste outomatiese dubbelkoppelratkaste ter wêreld. Ratskakelings is vinnig, sekuur en asemrowend direk. Aandrywing is deur die voorwiele en hierdie GTi kan 100km/u binne 6,5 sekondes bereik van stilstand af. Volkswagen gee die maksimum snelheid aan as 244km/u. Brandstofverbruik is ook besonders vir ‘n motor in die klas. Ons kon ‘n 6,4 l/100km aanteken in die gekombineerde siklus wat stads- en ooppadverkeer insluit. Die B250 word, anders as wat sy naam aandui, slegs deur ‘n 2.0-liter-eenheid aangedryf. Met ‘n kapasiteitsverplasing van 1991 is die Benz se enjin ‘n aks groter as dié van die GTi. Die enjin lewer 155 Kw en ook 350 Nm se wringkrag. Daar is ‘n 7-Spoed- outomatiese ratkas wat die B250 van rus tot by 100km/u in slegs 6,8 sekondes kan laat versnel en Mercedes gee die maksimumsnelheid as 240km/u aan. Ons kon ‘n baie skaflike 6,1 l/100km brandstofverbruik aanteken in die gekombineerde siklus wat beteken dat die B250 meer ekonomies is as die GTi met byna dieselfde werkverrigting. Beide die GTi en die B250 se uitlaatgasse is heel aanvaarbaar vir verrigtingsmotors, 148 Co2/km vir die GTi en 147 Co2/km vir die B250.

Inligtingskerm van die B250
Inligtingskerm van die B250

Rygerief

Daar is min motors wat die GTi kan troef as dit by rygerief en verrigting kom, maar die B250 kom bitter naby. Sou dit nie vir die effens strammer veringstelsel van die Benz wees nie, sou die motor die Gti kon troef. Die B250 loop ook so ‘n aks nader aan die teer as die GTi en ons meen dit is dalk die verskil. Die Gti is ‘n gemaklike rit, maar die B250 se stuurgevoel troef die GTi en dít wil gedoen wees. Die DSG-ratkas in die GTi troef die Benz se baie indrukwekkende 7-spoed-kas waar die Benz se stuurgevoel weer die oorhand het oor dié van die GTi.

Volkswagen Golf GTI 2013Gevolgtrekking

Van al die vervaardigers in die klas is die Mercedes B250 vir ons nog die naaste aan die Volkswagen Golf 7 GTi. Teen R420 000 vir ‘n B250 is hy slegs R22 000 duurder as die Golf 7 Gti teen R398 000 en ons dink vir daardie R22 000 kry ‘n mens alles wat die GTi jou kan bied plus meer ruimte en ‘n driepuntster op die neus!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.